Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Daar’s ’n bipolêre ‘tant Stienie’ in dié ‘Malhuis’

Ondanks enkele besware slaag Wilnetta van Reenen daarin om met haar aweregse, semi-outobiografiese debuut die binnebelewenis van psigiatriese pasiënte oop te skryf, meen Juliana Coetzer.

Ragel Petoors in die malhuis deur Wilnetta van Reenen. Uitgewer: Naledi. Prys: R180.

Ragel Petoors in die malhuis bied ’n blik op die intrige in ’n psigiatriese hospitaal, soos gesien deur die oë van die pasiënte.

Die boek is semi-outobiografies en die titelkarakter losweg op die skrywer se lewe geskoei. Op bl. 15 verduidelik Ragel hoekom sy skryf: “Dis hoe ek mysigsellers weer in my in terugsit.”

Die titel maak dit reeds duidelik dat dié boek nie versigtig omgaan met psigiatriese ongesteldhede nie, al is daar natuurlik geen reël wat bepaal dat hierdie onderwerp slegs ernstig en met handskoene benader moet word nie. Stel jou voor jy plaas tant Stienie van Agter elke man-faam in ’n psigiatriese saal, kompleet met haar sêding: “Hoekom moet ’n mens so suffer?” Dan weet jy presies wie ant Ragel Petoors is.

Hierdie selfaangestelde “hoofmeisie” verwelkom nuwe aankomelinge en bied ’n skouer waarop menige pasiënt wat deur die lewe ontgogel is, aan hul weemoed uiting kan gee. Self is sy daar omdat sy aan bipolêre gemoedsteurnis ly en “ ’n totally nuwe meaning aan die shop-till-you-drop-ding gee” (bl. 15) wanneer sy manies raak. Op bl. 16 verduidelik sy wat litium aan haar kreatiwiteit doen: “Die meds laat my tong vashaak, dan hakkel my woorde saam met my dink, en my pen lê dood tussen my vingers.”

Die wanhoop en desperaatheid van veral die bipolêre pasiënt word deurgaans goed beskryf, ’n teken van persoonlike ervaring.

In ’n aandoenlike oomblik vertel sy van haar siekte (bl. 177): “Dis swaar om mee te lewe. Amper té swaar. Ek is al voos gepanelbeat met al die pille en psigoterapie.”

Ragel is by almal betrokke en haar menslikheid skemer sterk deur, hoewel nie haar sielkundige korrektheid nie. Vir Karen, wat deur haar man aangerand word, gee sy byvoorbeeld die raad om haar hare te laat sny en gewig te verloor sodat sy weer vir haar man aantreklik is!

Die raad oor lakensake bly ook nie agter nie.

Ons ontmoet onder andere vir Mia, wat aan ’n eetsteurnis ly en een van die verpleërs omkoop om vir haar lakseermiddels te bring, en die sielkundige, dr. Leon, wat haar behandel. Vir hom kan sy nie jok nie, veral omdat hy al die tekens raaksien van iemand wat haarself aan kos vergryp en dit later opbring.

Op sy beurt raak die karakter Albert psigoties en verbeel hom hy is ’n Britse koninklike. Van hom sê Ragel op bl. 94: “Hulle vat hom na die lektriekplek toe. Daar shock hulle hom glo moer toe – al die kak uit hom uit.”

Maria preek vir almal uit die Bybel; Adriana het depressie nadat sy haar baba vir aanneming opgegee het; en Elize kan nie ’n band met haar baba vorm nie – met tragiese gevolge.

Dit maak nie saak of daar guitig, komies of stemmig oor psigiatriese probleme geskryf word nie, want die einddoel is sekerlik om lesers in te lig en veral, soos in hierdie geval, om hulle die binnebelewenis van psigiatriese pasiënte beter te laat verstaan, juis omdat daar so baie onkunde daaroor is.

Slaag die skrywer daarin? Op ’n aweregse manier wel. Veral die begeerte om dieselfde erkenning vir depressie en ander psigiatriese siektes te bewerkstellig as wat die samelewing vir fisieke ongesteldhede het, word suksesvol oorgedra, en so ook die stigma wat daarmee saamkom. Só druk die skrywer haar op bl. 85 met mening uit: “Moet julle nie dink oor julle nie bloed sien, dat dit nie pyn nie. Shit man, hoekom minag julle so maklik mense wat nie all there is nie? Ons het nie verdomp gekies om so te wees nie. Ons is damaged goods!”

Eerlike oomblikke soos hierdie plaas die leser binne die psige van die psigiatriese pasiënt en help om met die karakter te identifiseer. Veral tieners kan baat vind by inligting oor die dieetsiekte anoreksie nervosa, wat goed oopgeskryf word.

Op bl. 49 skryf Van Reenen: “Ek het nuus vir jou, jy is nou in Rome.”

Die skrywer Eleanor Clarke verwys na “the too muchness of Rome”, wat ook my kritiek teen Ragel Petoors in die malhuis is: die too-muchness. Die woord “skytpille” is net eenkeer snaaks, en teen die derde keer irriterend en totaal vreemd uit ’n sielkundige se mond. Wanneer iemand op bl. 113 “alcohol” noem en ant Ragel hoor “elke hol” raak die snaaksigheid geforseerd en grotesk.

Wanneer Mia vir Ragie vra of sy nie bang is nie, antwoord sy (bl. 158): “Maar natuurlik, my kind. Skytbang. Of sal ek sê it scares me shitless. Ja, kakkeloos bang.” Net te veel.

Ek glo die skryf van die boek het vir die skrywer terapeutiese betekenis gehad. Die wanhoop en desperaatheid van veral die bipolêre pasiënt word deurgaans goed beskryf, ’n teken van persoonlike ervaring. Daar is vir die skrywer natuurlik ook waarde daarin om haar stem hoorbaar te maak, of sy sê: Hier is ’n mens – só lyk my lewe.

In die inleiding stel sy dit so:

“Dis ’n sak vol ek / Moertoe geflaw

Maar ek móét dit sê / Want dis in die sê wat dit lê.”

Met die lees hiervan, onthou ek die woorde van Sylvia Plath in The Bell Jar: “I took a deep breath and listened to the old brag of my heart. I am. I am. I am.”

  • Besoek www.naledi.online of kontak Tertia Swart by 078 648 8616 of tertiaswart@naledi.online om die boek per koerier te bestel.
  • Coetzer is ’n skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.