Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dae toe mans mekaar nog op baadjie kon gee

Die rooikop en die redakteur

André P. Brink

HUMAN & ROUSSEAU, R240

Kortverhale

Uit dié keur van André P. Brink se verhale tree hy as ’n jeugdige Geppetto uit die skadu’s, wat elke nuwe storie sy eie besondere ledemate, skarniere en verf gee, skryf Jean Meiring.

Eens op ’n onskuldige tyd had dames pikante gesiggies wat deur ’n onhebbelike glimlag verhelder is. In die stryd om so ’n skone se hand het mans mekaar op hul baadjie probeer gee totdat die oorwinnaar haar ineens driftig beetneem en soen.

In daardie vervloë epog, toe eers Strydom en daarna Verwoerd aan die stuur gestaan het, was daar aan die Potchefstroomse Universiteit ’n skrander talestudent, André Brink.

Reeds as voorgraadse slimmerd en as hy in 1958 en 1959 meestersgrade in Engels en Afrikaans aan’t verwerf is, wend hy hom om den brode tot sy tikmasjien.

Dis lank voor televisie en huisvroue is op die draadloos se Du Plooys aangewese en op die verhale wat Die Huisgenoot en Die Brandwag ruimskoots plaas.

Gou oorstroom die Mooirivier se walle: stories maal en kolk inkig drukpers toe.

Ook onder skuilname omdat die van Brink nie meer as eenmaal per uitgawe kon verskyn nie.

In die sakpas bundeltjie Die rooikop en die redakteur versamel Cecilia van Zyl, voorheen Huisgenoot (sonder die lidwoord “die”) se verhaleredakteur, 12 van daardie verhale wat, die boektitel ten spyt, tussen Januarie 1956 en Mei 1959 reikhalsend landdeur gelees is.

Uit Van Zyl se versigtige keur tree Brink as ’n jeugdige Geppetto uit die skadu’s, wat elke nuwe storie sy eie besondere ledemate, skarniere en verf gee. Jy kan jou verbeel hoe hy in ’n donker Dopper-koshuiskamer hom aan die heiligskennis verwonder het as hy in die een skepping ná die ander liggies lewe blaas.

Al word die karakters meesal in impressionistiese hale geteken en al gaan dit grootliks oor die kleinword van die opsitkers, is die jongeheer Brink en sy aliasse se ambisie en ontluikende vaardigheid as storievertellers merkbaar.

Al teken Brink etlike karakters as vasgekerker tussen die mure van ’n woonstel, is die stad hier nie die verderflike vesting wat in talle indertydse Afrikaanse tekste opdoem nie.

Spanning kraai koning. Die metronoom se heen-en-weer raak al hoe knapper. Gou lê die leser amegtig sydelings, smagtend na vlug­sout.

Anders as Jan Rabie se stories in 21, wat in 1956 reeds as sinjaleerder van die Sestigers verskyn het, probeer Brink natuurlik nie die grense van die letterkunde versit nie.

Tog is daar selfs in hierdie vingeroefeninge sprankies waaghalsigheid en vernuwing.

Tussen die onvermydelike geykthede is daar dus heelwat wat selfs vir hedendaagse lesers ’n skuldige bekoring inhou.

Selde word ’n storie liniêr vertel. Telkens stort die verteller sy hart in die openingsinne leeg voordat sy blik terugkaats om die wortels van die benardheid bloot te lê.

Die blink stedelike ruimte van die leeuedeel van die verhale sou vir vanmelewe se lesers, gewoond aan meule wat kreun en tuie wat skawe, vars gewees het.

Al teken Brink etlike karakters as vasgekerker tussen die mure van ’n woonstel, is die stad hier nie die verderflike vesting wat in talle indertydse Afrikaanse tekste opdoem nie.

Trouens in die komiese verhaal “Die dubbelbed”, wat die kuisheid van die liefdesverhaal-genre opstuur, verander die woonstel gou van skut na beskutting.

Ook neem Brink se verbeelding ander wêrelde in beslag.

In die donker “Stryd in die storm”, wat in 1956 in Die Brandwag verskyn, byna vier jaar voor Brink self aan die Sorbonne ’n student sou word, is ’n eiland midde-in die Seine die oog van ’n tierende storm.

In “Brief van ’n vrou”, wat in 1959 die lig sien, word die briefskrywer ’n korrespondent in Kaïro en is die nuutgemunte staat Israel heel interessant reeds die metafoor vir ’n skuilplek in die vreemde.

Hierdie boek se interessantste invalshoek is sekerlik die blik wat dit op ’n vroeë ongevormde Brink werp – net voor hy vir die eerste maal die kokon waarin die verhale afspeel self van buite af sou sien en enkele jare voor hy Ingrid Jonker ontmoet.

Baie van die vertellers is vroue. Al staan die vrouekarakters se harte uit die aard van die saak voorop is dit verrassend dat baie van hulle sterk en uitgesproke is – en dikwels hul minnaars se tier.

Derhalwe is baie van Brink se latere temas, waaronder die soeke na vryheid en die volwaardigheid van die vrou, reeds hier te bespeur.

Tog is dit merkbaar dat Brink, wat sy rug op apartheid sou keer, nie ’n woord oor maatskaplike ongeregtigheid in Suid-Afrika rep nie. Op enkele Arabiere na is al die karakters wit.

’n Mens aanvaar dat, soos die kortverhaalredakteur Jan Wentzel in die titelstorie, Brink se redakteurs ’n “dik blou kruis” (bl. 103) oor pogings tot politieke betrokkenheid sou gestreep het.

Boonop het Brink se eie Damaskus enkele jare in die toekoms gelê, ná sy aankoms in Parys.

Hierdie boek se interessantste invalshoek is sekerlik die blik wat dit op ’n vroeë ongevormde Brink werp – net voor hy vir die eerste maal die kokon waarin die verhale afspeel self van buite af sou sien en enkele jare voor hy Ingrid Jonker ontmoet.

Daarom is dit jammer dat Van Zyl nie ’n essay ter inleiding geskryf het om die nodige agtergrond te gee nie. Die uitgewer moes besef het dat hierdie band se enigste geldeenheid nie bittersoet nostalgie sou wees nie. Nuuskierige lesers is dus aangewese op onder meer Brink se outobiografiese ’n Vurk in die pad (2009) vir die voller prentjie.

Tog is daar vir alle lesers baie om hulle in te verkneuter, van woorde wat deesdae min gehoor word – duikeling, vertedering, flussies – tot vermaaklike stories wat byna-Brinkiaans wil-wil hyg en du en stu.

* Koop die boek hier by takealot.

  • Jean Meiring is ’n vryskutresensent van Johannesburg.
Meer oor:  Boekresensie  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.