Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dagboek van ’n afskeid

‘My Mother, My Madness’, Colleen Higgs se memoires  oor die laaste tien jaar van haar ma se lewe, is geloofwaardig  en aangrypend, maar Juliana Coetzer wens tog dié ‘dagboeknovelle’ was ’n aks dikker.

My Mother, My Madness deur Colleen Higgs. Uitgewer: Deep South. Prys: R180.

My Mother, My Madness is ’n outobiografiese vertelling in dagboekvorm oor die laaste tien jaar van die skrywer se ma se lewe.

Dit begin in 2009 met ’n belowende eerste inskrywing: Sally (die ma) woon in ’n eenslaapkamer-eenheid in ’n versorgingsoord in Kaapstad van waar sy ’n uitsig op Tafelberg het. Haar dogter bestuur haar hele lewe: betaal haar rekenings, reël doktersafsprake, en is ook die een wat al die probleme moet aanhoor en oplos.

Met dié gegewe sal die meeste volwasse dogters kan identifiseer.

Maar toe ek lees die dogter moet ook elke maand haar ma se kaste vul met ’n trollie vol toiletpapier, 70 tweeliter-bottels Coke en sewe kartonne sigarette, besef ek ons het nie hier met ’n inskiklike ouma te doen wat die laaste deel van haar lewe selfopofferend wil deurbring nie. Intussen moet die dogter ook Sally se psigiater op die hoogte hou van haar ma se gemoedstoestand. Die medikasie wat sy vir haar bipolêre gemoedsversteuring moet gebruik, word daagliks deur haar versorger fyngemaal en in haar jogurt gegooi, anders weier sy om dit te drink.

Die ma het ook ’n geskiedenis van selfdoodpogings en was jare lank aan pynmedikasie verslaaf. Die prentjie is duidelik: ’n gekompliseerde mens en ’n ingewikkelde ouer-kind-verhouding. Aangrypend skryf Higgs op bl. 12: “My whole life has felt like a long deeply unsatisfying love affair with my mother. She is the beloved who doesn’t love back. She is too caught up in her own dramas and unhappiness. She is the one who waits to be made happy and it is an impossible task.”

Soos dit tipies met joernaalskryf gaan is daar soms maande lange onderbrekings.

Higgs vergelyk haar lewe met dié van Erica Emdon, skrywer van Jelly Dog Days (2009). Albei lê klem op die swaarkry en oorlewing van hul kinderjare met ’n narcistiese ma wie se lewe net om haarself draai. “My mother was more connected to her cigarettes and Coke than she is to me,” skryf sy op bl. 72.

Wanneer Higgs besluit om Sally slegs een Sondag per maand te besoek, skryf sy op bl. 18 oor die emosies wat kenmerkend is van so ’n ouer-kind-verhouding: “It’s such an odd concoction of love, guilt, duty, anger, resentment, longing.”

Higgs vertel van haar besoeke aan ’n Jungiaanse sielkundige wat haar met haar “ma-kompleks” help en haar leer om haar angs te bestuur. In elke inskrywing beskryf sy haar drome van die vorige nag.

Die leser vind ook geleidelik uit van die probleme tussen haar en haar eggenoot wanneer sy terugkom van haar sielkundige. “Are you cured yet?” sê hy op bl. 28.

“We speak different languages,” dink sy en heelwat later teken sy dan ook die einde van hul huwelik in haar dagboek aan.

Soos dit tipies met joernaalskryf gaan is daar soms maande lange onderbrekings, soos op bl. 81: “I haven’t written for ages, but have been busy with both my mother’s madness and mine, and many other things besides.”

Ek het ambivalente gevoelens hieroor: Die inskrywing is geloofwaardig (’n dagboek is immers ’n gesprek met jouself), maar ook frustrerend omdat ek as leser ’n buitestander bly. Dit is al of jy ’n blik kry op die intieme lewe van ander, maar nie heeltemal ingelaat word in die detail nie, soos wanneer sy op 4 Mei 2015 skryf: “Drowning quietly, thick glass between the world and me. Can’t breathe. Too heavy, too much. I’m full of rage, desperation.” Die konteks bly onbekend.

’n Mens hoef maar net Alice Miller se The Drama of the Gifted Child: The Search for the True Self (1979) te lees om te besef hoeveel skade ’n narcistiese ma ’n kind kan aanrig. Die kind dra vir ewig die gevoel dat sy onbelangrik is en iemand anders se behoeftes bo hare moet stel. Die skrywer slaag daarin om dié boodskap oor te dra en daar is verskeie briljante oomblikke, maar ek wou méér hê – ’n dieper beeld, selfs meer inligting. Die doel van ’n joernaal is immers om ’n ervaring te verwerk en in hierdie geval ook om die leser beter te laat verstaan.

Of het ék dalk die verkeerde verwagtings? Om dit geloofwaardig te maak moet dit immers soos ’n joernaal lees, maar ook ’n storie wees wat jou boei. Dis g’n maklike taak nie, want soos in ’n tipiese joernaal sal daar kriptiese inskrywings, begrippe en selfs afkortings wees wat niemand anders hoef te verstaan nie. Daarom meen ek die skrywer het in haar doel geslaag.

  • Juliana Coetzer is skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.