Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Inskrywings nie hoogtepunt in De Lange-oeuvre

Gulp

Johann de Lange

XLIBRIS, R250

Die rugkant van die Kaapse jonker. Hoe kaler, hoe groter pronker.

Die voorblad van Gulp, Johann de Lange se versameling grepe uit sy dagboek uit die 1990’s, is ’n natekening van ’n prent deur die Kanadese kunstenaar Zachari Logan.

Uit dié beeld van ’n bekepste lat wat by ’n porseleinkrip links tuur – sy broek halfmas – word die boek se skering en inslag onmiddellik duidelik.

Die weggelate skoenlappers, blommetjies en voëltjies wat so dikwels Logan se rysige manskarakters soos ’n tweede vel omhul, vorm ’n ironiese subteks.

Die ek-verteller is ’n nouliks versluierde De Lange self: die boek se ondertitel is Kaapse paragrawe, die naam van die veelbekroonde digter se literêre blog.

Met die intrapslag kom die spanning opgesluit in Logan se voorbladtekening aan die orde.

Daagliks wentel die verteller, deur die dye voortgedu, tussen die ongekarteerde vergaderplekke van Kaapstad se gay demi-monde en sy middelklas-woonstel, wat hy met sy minnaar Damon deel. Dis hiér waar hy sy versugting na ’n vervulde verhoudingslewe, met skoenlappers en al, probeer bewaarheid.

Maar sy en Damon se verhouding is aan ’t verbrokkel – in so ’n mate dat hulle gou deur middel van agtergelate briewe met mekaar praat.

Die verteller smag na outydse eerlikheid en wedersydse vertroue. Damon se lewe egter is soos ’n ui: as die een skil van voorgee en verdoesel wegval, lê daar ’n ander een en wag.

As hy die verteller so byna terloops meedeel dat hy ’n rukkie gelede as MIV+ gediagnoseer is, word die reeds ingewikkelde bande tussen hulle nog meer intens verstrengel.

Dít is die selfontblotende en dikwels pynlike tablo wat die diorama van Gulp vorm.

Tussen die knope van daardie verhaallyn bed die verteller ’n warboel ander dagboekinskrywings in. Soos dit ’n dagboek betaam, het hulle dikwels tegelyk ’n terloopsheid en ’n puntenerigheid wat die leser die weefsel van ’n lewe probeer wys.

Só word daar vertel van teater- en fliekbesoeke en vergaderings met Antjie Krog oor hul projek om ’n bundel Afrikaanse erotiese poësie saam te stel. Ook verskyn lede van die te verwagte dramatis personae: Hennie Aucamp, Danie Botha en ander hoëlui uit die Kaapse literêre “mofferati”.

As die toon erg skinderlik raak, bedek die verteller die bespreekte siel met die kleed van amper-anonimiteit: dan gee hy niks meer as voorletters weg nie.

Soos interpunksie tussen als deur is daar die verteller se byna obsessiewe besoeke aan Sandy Bay, die gimnasium en elke beskikbare bedieningsluik.

En soos interpunksie tussen dit als deur is daar die verteller se byna obsessiewe besoeke aan ­Sandy Bay, die gimnasium en elke beskikbare bedieningsluik. Kortom, as die knaende gim-besoeke suiwer oefening in die oog had, het die verteller tjoeftjaf vir Schwarzenegger ore aangesit.

Al sal Gulp dus beskutte lesers na hul vlugsout laat tas, vorm dit deel van ’n bekende literêre baan. Die egotekste van W.H. Auden en Derek Jarman skiet mens te binne. So ook John Lahr se bundeling van die dagboekinskrywings wat die Engelse dramaturg Joe Orton se laaste agt lewensmaande opteken, en natuurlik Edmund White en Isherwood.

Ook speel die boek in op De Lange se eie kortprosa-meesterwerke Vreemder as fiksie (1996) en Tweede natuur (2000), waarin hy die brokkelrige muur wat outobiografie van verdigsel skei soos ’n sweefstokarties betree. Trouens, van die feitemateriaal wat daardie boeke onderlê, blyk in Gulp herontgin te word.

Tog is Gulp vir hierdie bewonderaar van De Lange se werk ’n teleurstelling.

Afwesig is die verwikkelde veelvlakkigheid van Vreemder as fiksie en Tweede natuur.

Die hoofvertelling – die aan-en af-verhouding tussen die verteller en Damon – ontlok wel die leser se belangstelling en empatie. So ook die besonder sterk terugflits oor die verteller se verhouding met sy neef Daniel, vir wie hy sy doopnaam opgeoffer het.

Maar origens is daar jammerlik genoeg min wat boei.

Die sekstonele is banaal en saai. As dit by dié tema kom, verskraal die woordmeester De Lange se woordeskat tot ’n sakkie vol speelgrondterme, waaronder “moerse” en “stunning”.

Verbasend ook is die boek se gebrekkige versorging. De Lange se werk word immers gewoonlik gekenmerk deur die nougesette afweeg van de laaste lettergreep.

Daar is kontinuïteitsglipse. In die inskrywing vir 5 April 1994 word gesê die verteller en kie gaan daardie aand fliek. Die volgende dag se inskrywing skou terug op ’n verjaardagete die vorige aand vir Damon.

Woorde word soms los en soms vas geskryf. Daar is etlike proefleesfoute en komplekse sinne wat ontrafel.

Die bekende manskoshuis op Stellenbosch word tot Wilgerhof herdoop; die digter Ronel Foster se van word Vorster.

Die ampersand-teken, &, wat De Lange al lank pleks van die woord “en” gebruik, is in ’n gedig ­meestal esteties bevredigend, maar dit raak ’n hebbelikheid as selfs briewe van Damon wat direk aangehaal word dit bevat.

Ongelukkig is Gulp nie ’n hoogtepunt in De Lange se oeuvre nie.

Jean Meiring is ’n regsgeleerde van Johannesburg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.