Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Dagga, dagga, jou lekker ding’

Hessie Kwedet: Dagga-, dop-, dryf- en verwante ryme deur Pieter W. Grobbelaar. Uitgewer: Protea Boekhuis. R40.

Heinz Mödler se En daar was dagga: ’n biografie is dalk die omvangrykste Afrikaanse boek tot nog toe oor dagga, maar dis nie die enigste een nie.

Hessie Kwedet: Dagga-, dop-, dryf- en verwante ryme, ingelei en saamgestel deur die kultuurhistorikus Pieter W. Grobbelaar, het in 2002 verskyn en bevat verskeie ryme in die heerlikste Afrikaans. Die meeste is in die 1940’s deur die Griekwas geskryf.

Agterin die boek is ’n lys met verklarings van frases soos “lampie uit fatsoen”, “gebreide wonnerboom”, “bok in die lies”, “dieter dieter donkerwater”, “steek hom in sy lieste” en “op die kantjie sit ou Antjie”.

Ander woorde met interessante verklarings sluit in snodderig, aghoes, aghas, geelwater, ghaai, deedlike, alkaster, duisbaster, strykystervoet, pielie (ontspan, dis ’n ander woord vir ’n jong eend), optyker, glyer-leier, fieliekondaais, boepmaker, spenster, gombeen, sekketaars, kieliekie, Kaatjie Kadet en kejootkuite.

Van die ryme is pure poësie, en een soos dié is volbloed-Boerneef:

Yster en talgommerental,

Deurbreker se jaaroudkalf,

Jou rapoen se maldanster,

Uitgeblomde karos soos ’n watermeid,

Kieliekie, kieliekie, makoustront,

Aasvoëldrol,

Dagga, dagga, jou lekker ding.

Of wat van dié plesierige een:

My naam is:

Jantjie Akkerblaar Plamplier,

Mooi angelier van Breerivier

Lelike dier van Grootrivier.

Akkadissie stompstert

jy is Pollie se ryperd

vlak viooltjie op Sa’gaand

skop Koerantjie Rooipootjie in die pan

klein Katryn Doekvoet

dra sewe kouse aan een voet.

Diepsinnig kan dit ook raak:

Hoog en leeg langs die strand

ek verbrand

my hand

op die tannie se tabberd

se stootkant.

Al wieker

al wakker

dwarsoor die akker

die dooie

maak die lewendige

wakker.

Wyle Grobbelaar het omvattende navorsing gedoen vir sy puik artikel aan die einde van die boek. Daar is onder meer ’n uittreksel uit J.F. Jacobs (van Paardeberg in die Suidwes-Vrystaat) se boek Die Grikwas en hul bure (1942) waarin ’n karakter wat ’n daggapyp rook soos volg beskryf word: “Met ’n ratse beweging plak Platjie sy krul­lippe om die steellose dagga­pyp en eers nadat hy gesuig-soen, die wange diep-hol getrek en die daggaborreltjies deur die rietjie laat kwagga-dans het, raak sy tong los.”

Nog ’n interessante aanhaling kom uit dié advies wat in die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se publikasie Volksgeneeskuns in Suid-Afrika (1966) verskyn: “Vir sinkings moet ’n mens daggabrandewyn opsit. Dit beteken dat fyn dagga in ’n bottel brandewyn gegooi en so gelaat is om eers ’n ruk te staan. Daggapille is goed om van inwendige wurms ontslae te raak.”

En ’n aanhaling van Grobbelaar self: “Dagga het in skollietaal veral as ‘boom’ bekend geraak. Dis ’n verrassing om te ontdek dis blykbaar afgelei van die Bybelse boom van kennis van goed en kwaad, die boom wat tot Adam en Eva se ondergang gelei het.”

Grobbelaar merk ook op ons sal nooit weet hoeveel van die ryk Afrikaanse kultuurwêreld van weleer in die niet verdwyn het nie, ryme soos dié wat hy in Hessie Kwedet opgeteken het. Mense wat so graag kerm oor Afrikaans se afsterwe, moet eerder boeke soos hierdie koop. (Rapport het navraag gedoen: Nuwe eksemplare van Hessie Kwedet is steeds te koop – teen 18 jaar gelede se prys.)

Vir die kerm-en-kla-brigade kan ’n mens dié veelseggende kort rympie aanhaal:

Hessie Kwedet

Jou gebukkende stert

Tjieet! appelkoospit.

– Theunis Engelbrecht

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.