Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dalk haal Joubert dié keer versamelbundel
Foto:

Fiksie

So byna blou

Emile Joubert

PROTEA, R250

Benewens oudjoernalis is Emile Joubert ook wynfoendi, wêreldreisiger, lewensgenieter en vryskutskrywer. En elkeen van dié belangstellings vind op die een of ander wyse neerslag in sy derde kortverhaalbundel, So byna blou.

In “Korreltjie dagbreek” reis ’n Suid-Afrikaanse joernalis byvoorbeeld na Portugal om ’n artikel oor die wyne van die Douro-vallei te skryf en kry op die koop toe die kans om sy indrukwekkende wynkennis op intieme wyse met ’n aanvallige landgenoot te deel. (’n Mens sal nie sommer weer ’n glasie port wegslaan sonder om aan dié skunnige verhaal, of die skrikwekkende afloop daarvan, te dink nie.)

In “Die beitel” maak die leser ’n 15de eeuse ontdekkingsreis saam met ’n groep hardebaard-seevaarders om die suidpunt van Afrika mee. Wanneer een van die mans, ene Jorges, deur sy landgenote in die onherbergsame binneland agtergelaat word, word hy deel van ’n verhaal wat nêrens in geskiedenishandboeke opgeteken is nie.

En dan is daar ook “Rou”, wat in ’n deftige restaurant in Parys afspeel, en “Skilferkors”, wat die leser se smaakkliere aanvanklik prikkel, maar uiteindelik nogal ’n vrank smaak in die mond laat.

Die omslagfoto is ’n skoot uit die fliek Shirley: Visions of Reality (2013), waarin die regisseur Gustav Deutsch ’n reeks skilderye van Edward Hopper tot lewe wek. Op aantreklike wyse beeld dit ’n vrou uit wat op ’n bed in ’n hotelkamer sit en oor haar linkerskouer na die kamera kyk. Die ondergaande son baai die kamer in atmosferiese lig. Dit wil voorkom asof sy pas van iemand se teenwoordigheid bewus geraak het. Is sy dalk van plan om op te staan? Of is sy op die punt om iets te sê?

Dit gaan meestal oor ’n (reisende) enkelingkarakter wat ’n ontmoeting beleef wat ’n onuitwisbare indruk op hom/haar maak.

Dié visuele gegewe dien as sleutel tot baie verhale in die bundel: Dit gaan meestal oor ’n (reisende) enkelingkarakter wat ’n ontmoeting beleef wat ’n onuitwisbare indruk op hom/haar maak.

Hoewel dié ontmoeting dikwels verrassende insigte by die hoofkarakter laat daag, gee dit selde aanleiding tot onverhole geluk. Tewens, geluk is iets wat die karakters in hierdie bundel nét-nét bly ontwyk. Geen wonder nie dat die frase “so byna blou” óf verbatim óf op metaforiese wyse in meer as een van die verhale eggo.

’n Verdere leesleidraad is te vinde in die motto wat geneem is uit die 1974-rolprent Chinatown, waarin die speurderkarakter Jakes Gittes (hier verkeerdelik aangedui as Gilles) opmerk: “To tell you the truth, I lied a little.”

Dié veelseggende teenstelling werp lig op ’n werkwyse wat in talle verhale gevolg word, naamlik om dit wat in die eerste deel van die verhaal deur die leser as “waarheid” aanvaar word, aan die hand van ’n onwaarskynlike wending op die kop te keer.

Lesers wat van hul fiksie streng binne die grense van waarskynlikheid hou, se geduld mag dalk hier en daar beproef word, maar van voorspelbaarheid of verveling kan ’n mens die bundel gewis nie beskuldig nie.

Joubert het ’n voorliefde vir verrassende verhaalslotte wat sy lesers onkant betrap. In die geval van “Windhond” en “Sout” het ek gevoel dat die kinkel aan die einde van die verhaal nie heeltemal bevredigend deur die voorafgaande gegewe gesuggereer word nie, terwyl die ontstemmende slot van “Twee sarsies lood” te vroeg deur mededelings verraai word. In die meeste gevalle word die slot egter as onverwags ervaar, tesame met die besef dat al die nodige leidrade vernuftig in die aanloop verstrek is.

Deur die onverwagse koers wat die verhale “Bom” en “Junior sê” uiteindelik inslaan, slaag Joubert daarin om die tradisionele konvensies van onderskeidelik die grensverhaal en plaasnarratief in Afrikaans slim te ondermyn.

Dit is veral dié, ietwat langer, verhale waarin daar uitgebreid oor skrywerskap be­sin word, wat tot hoogtepunte gereken kan word.

In “So byna blou” en “Op safari” verleen die knalslot telkens ’n bykomende dimensie aan die verhaal en noop dit die leser om al speurende te gaan herlees.

Dit is veral dié, ietwat langer, verhale waarin daar uitgebreid oor skrywerskap be­sin word, wat tot hoogtepunte gereken kan word.

In die titelverhaal steek Joubert byvoorbeeld skerpsinnig draak met die geite van die sogenaamde literêre establishment, waarin “mense wat die hogere gestoeltes van die woordkuns bestyg het” joernaliste met agterdog bejeën.

Joubert laat selfs een van sy karakters, ’n uitgewer met die naam Lance Brink, vir Olaf Vierkant, “ ’n nuwe generasie digter wat ook vir die rockgroep Swernoot baskitaar speel”, op leedvermakerige wyse oortuig dat vandag se leser meer geneig is om kortkuns as lywige romans te lees. Nè!

En in “Op safari” word die ontmoeting tussen Herman Charles Bosman en Ernest Hemingway in die Rovio-hotel in Johannesburg so oortuigend gerekonstrueer dat die leser soos ’n (gewillige) afluisteraar voel. Maar dan net totdat die hotelmat op die laaste bladsy meesterlik onder sy voete uitgeruk word.

Groot was my verbasing om te sien dat nie een van die verhale uit Joubert se eerste twee kortverhaalbundels, Die aptyt van Anna Blow (2000) en Kouefront (2007), in Abraham H. de Vries se Die Afrikaanse kortverhaalboek óf Sonja Loots en Steward van Wyk se Die nuwe Afrikaanse prosaboek opgeneem is nie.

Ek hoop van harte dat van die verhale in So byna blou daarvoor sal sorg dat dié opvallende oorsig summier reggestel word.

Thys Human is ’n letterkundedosent aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom.

Meer oor:  Emile Joubert  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.