SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Boeke
Dana se pad na hoop

Dié niefiksie wat soos prosa is, het sy in een sessie gelees, sê Jeanne Henning Els.

Op pad deur Dana Snyman. Uitgewer: ­Tafelberg. Prys: R250.

Dit is lank reeds ’n gegewe dat Dana Snyman een van Suid-Afrika se eerlikste en deernisvolste skrywers is. Hy sleur sy leser mee op emosionele binnereise met sy vertellings oor mense, diere en plekke.

In die eerste gedeelte van Op pad vertel hy van sy tog die binneland in vir sy TV-program met dieselfde naam. Hy kuier by onder andere pres. Jacob Zuma se familie by Nkandla, by Frik du Preez en Trevor Nyakane se pa en susters – en kyk saam televisie terwyl Nyakane vir die Springbokke ’n rugbywedstryd in Londen speel. Hy besoek ook Naboomspruit, nou bekend as Mookgopong, waar hy die laaste twee jaar van sy laerskooldae gewoon het en sy oorlede pa predikant was. Hy deel tot sy ouma se skilferkorsresep.

In die tweede, korter deel van sy teks vertel hy van sy ervarings tydens die Wêreldbeker-rugbytoernooi van 2015 en grawe hy in die binneste van aanhangers van Suid-Afrikaanse rugby en ook Suid-Afrikaners wat die All Blacks ondersteun.

Die deurlopende draad deur die teks is Snyman se soeke na hoop. Hy verwys dikwels na palissadeheinings en traliehekke wat hy op sy reis teëkom. Maar hy wonder ook of hy op soek is na sy “langverlore manlikheid”. Hy sukkel om te bid en te huil, al weet hy daar is redes om te huil. Wanneer sy emosies met hom op hol raak, het hy ’n behoefte aan veral whiskey. “Vals moed,” noem hy dit.

Hy beskryf mense, gebeure en emosies so helder dat die gryswit foto’s in sy boek oorbodig is.

Met sy eerlikheid dwing Snyman sy leser tot nadenke. Baie Afrikaners sê hulle is moeg jammer gesê vir apartheid, maar “as jy hulle vra wanneer hulle jammer gesê het, kan hulle jou nie antwoord nie”. Die moderne mens is ’n “virtuele impuls­mens” vir wie dit belangrik is om deur so veel moontlik “likes” op Facebook erkenning te kry. Daar is “iets onegs aan ’n pres. Jacob Zuma wat ’n rooi vigsstrikkie op sy baadjie se lapel dra en ’n prediker met ’n cowboy-hoed”.

Les bes, iets is nie reg op ’n dorp waar ’n Wimpy moet toemaak nie.

Snyman se opstandige gesprekke met sy oorlede pa ontroer, so ook die liefdesband tussen hom en ’n brandsiek, mishandelde hond. Naby Orania kom die dier op ’n teerpad aangehardloop. “Hy hardloop na iets toe of weg van iets af. En ek is tussenin.”

Hy haal dikwels ander skrywers aan, van Czeslaw Milosz, Rebecca Solnit en Frederick Exley tot Nat Nakasa, J.M. Coetzee, To­tius en Ferdinand Deist. Dit is nie ’n aanwins tot sy teks nie, want wat hulle skryf, is wat Snyman met sy eie gedagtes en skryfkuns uitbeeld.

Snyman beskryf mense, gebeure en emosies so helder dat ook die gryswit foto’s in sy boek oorbodig is.

Hoe is dit dat ek Op pad in een sessie deurgelees het? ’n Skryfkunstenaar is aan die woord en sy niefiksie lees soos prosa.

  • Jeanne Henning Els is ’n vryskut-joernalis en -rubriekskrywer.
Meer oor:  Dana Snyman  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.