Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dana Snyman: ‘Ons is ons stories’
Die omslag van die skrywer Dana Snyman se ‘Onder een dak’, ’n versamelbundel van ou en nuwe stories uit sy pen.

Die gewilde skrywer Dana Snyman se tiende verhalebundel, Onder een dak, het pas verskyn. Dit is ’n samestelling van ou en nuwe stories wat die leser met ander oë na sy lewe en die lewe in Suid-Afrika laat kyk. Hy het per e-pos met Laetitia Pople gesels.

’n Skrywer wat met so ’n dikke, eie bundel in die hand staan voel baie dinge gelyk, vertel Dana Snyman. Hy is tegelyk dankbaar én tog ook verras met homself.

“Ek het nooit as kind gedroom daarvan om eendag ’n skrywer te word wat boeke publiseer nie. Ek is lankal nie meer ’n tradisionele gelowige nie, maar in die toevallighede van my lewe ontdek ek telkens iets van die Groot Misterie wat help bepaal hoe jou lewe verloop . . . ’n Mens voel ook ’n bietjie weerloos. Gaan die stories iets in mense aanraak? Raak ek nie te selfgenoegsaam in van die stories nie?”

Hy was nou betrokke by die saamstel van die bundel en voel baie bevoorreg teenoor die mense wat hom daarmee gehelp het – die bobaas-kortverhaalskrywer Abraham H. de Vries en die boekresensent Jonathan Amid. Op die voorblad skryf De Vries: “Dana se stories – uit die land se gisters en uit die hede – vertel saam ’n groter verhaal. Eerlik en uniek Afrikaans.”

Die skrywer Dana Snyman. Foto: Wiebke Wilting

“Hoekom het Braam (de Vries) nog nie die Hertzogprys gekry nie? Hy het elke storie, ook dié wat nie in die boek is nie, deurgewerk en raad gegee en kritiek gelewer. Ek sal oom Braam vir ewig dankbaar bly dat hy hom met my bemoei. Daarsonder sou die boek nie gewees het wat dit is nie. Jonathan (Amid) het ook gehelp. Hy is van ’n jonger geslag. Sy raad was ook waardevol. En natuurlik Erika Oosthuizen, ’n engel van ’n uitgewervrou. Ons stap al ’n lang pad saam.”

In die stories maak mense hul hart en wese oop vir hom, dit blyk dat stories na hom aangeloop kom. Wat hoop hy om met sy stories te vermag?

“Die ou San-mense het geglo ons klomp hier op aarde is deel van ’n groter storie wat vertel word. Dit is vir my so mooi, en waar. Ons is ons stories. Daarom het ek daardie bekende Joan Didion-aanhaling as motto voorin die boek gebruik: ‘We tell ourselves stories in order to live.’ Stories kom na ’n mens toe, ja. Die San-mense het gesê stories kom op die wind na jou toe aan. Sit jy lank genoeg in ’n winkelsentrum, ’n kroeg, of waar ook al, en jy kyk en luister, sien jy die stories rondom jou gebeur, mits jy jouself klein hou. Maar deesdae raak ons blind vir mekaar se stories omdat ons so verknog is aan ons menings, wat ons so graag op die sogenaamde sosiale media verkondig. Ons perk mekaar in met ons menings, eerder as om dalk na mekaar se stories te luister . . . Wat probeer ek met my stories vermag? Ek wil nie te hoog daaroor opgee nie, netnou hou die storiewinde op om vir my te waai.”

Daar is stories wat hy teëgekom of beleef het, wat hy nog nie die moed gehad het om te vertel nie.

“Miskien omdat my eie rol in die storie nie altyd baie eerbaar is nie. Ek is op die oomblik in die greep van Karl Ove Knausgård se boeke. Daardie Noorweër wat alles van sy lewe vertel. Is dit nie die manier hoe daar al hoe meer in die toekoms geskryf gaan word nie?”

Oor sy eie en nabye mense skryf hy oop en eerlik, so ook oor homself. Eerlikheid is noodsaak vir hom as skrywer.

“My arme, liewe pa. Ek hoop darem my liefde en respek vir hom slaan ook in my skryfwerk deur. Dis ’n moeilike ding. Ek probeer eerlik oor my lewe wees: Hoe ek gedink het apartheid is reg en hoe ek vir die NP gestem het, ook hoe ek al nonsens aangejaag en te veel in kroeë rondgehang het. ’n Mens wil nie sensasioneel raak nie, maar jy besef ook jy is nou te oud om jouself beter te probeer lieg as wat jy is.”

Jy verloor jou deernis telkens in hierdie gebreekte land, en as jy dit weer kan terugvind, kan jy net dankbaar wees . . . Op ’n manier is om te skryf ’n vorm van meditasie vir my, selfs ’n vorm van gebed.

Sy stories is vir die leser soos stil punte of verposings in die helse geraas wat die lewe geword het. Baie van die verhale is besonder deernisvol sonder dat dit aangelap word by die storie.

“Deernis is nooit vanselfsprekend nie. Deernis is Genade. Jy verloor jou deernis telkens in hierdie gebreekte land, en as jy dit weer kan terugvind, kan jy net dankbaar wees . . . Op ’n manier is om te skryf ’n vorm van meditasie vir my, selfs ’n vorm van gebed.”

Benewens essays, kortverhale en joernalistiek is hy ’n dramaturg. Hoe wil hy vorentoe as skrywer ontwikkel?

“ ’n Mens hoop net jy bly gesond en helder in jou kop en jy verspil nie te veel van jou talent nie. Ek sal maar net bly skryf, skryf, skryf, en hoop iets in die skryfwerk word beter en ryper.”

Die belangrikste wat ek seker vanjaar geleer het, is hoe afhanklik ons as mense van mekaar is. Hoe ons mekaar moontlik maak. Hoe ons die lewe vir mekaar draagliker en meer vol vreugde kan maak, en ook hoe ons mekaar kan bevark en hoe ongelukkig ons mekaar kan maak. In 2021 hoop hy vir nog van die g’s: gesondheid, geluk en genade.”

Soos seker die meeste mense op die planeet, sal hy graag ’n punt na 2020 wil sit, tog het hy baie vanjaar midde-in die koronavirus-pandemie geleer.

“Die belangrikste wat ek seker vanjaar geleer het, is hoe afhanklik ons as mense van mekaar is. Hoe ons mekaar moontlik maak. Hoe ons die lewe vir mekaar draagliker en meer vol vreugde kan maak, en ook hoe ons mekaar kan bevark en hoe ongelukkig ons mekaar kan maak. In 2021 hoop hy vir nog van die g’s: gesondheid, geluk en genade.”

Die komende feestyd gaan hy so rustig en stil deurbring as moontlik, “saam met mense wat vir my lief is en ek vir hulle. Tussendeur wil ek baie lees, en elke dag met die honde gaan stap.”

• Snyman en die musikant Gert Vlok Nel tree op 21 Desember by die Alma Cafe in Rosebank, Kaapstad, op.

“Gert gaan van sy mooie songs sing, en ek gaan stories vertel, al is ek geen Tolla van der Merwe nie. Maar ek voel gemaklik saam met Gert. Sy songs is net so verdrietig soos my storie, maar tussendeur lag ons darem baie. Dis ’n groot voorreg vir my om saam met Gert op te tree. Hy het spesiaal uit sy selfopgelegde ballingskap op Beaufort-Wes gekom vir die vertoning.” Besprekings:

bookings@almacafe.co.za. Kaartjies kos R260 en sluit ’n maaltyd in. Die vertoning begin om 18:30 vir 19:30.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.