Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Daniel Hugo: ’n Dag sonder poësie bestaan nie

Die digter Daniel Hugo word vandeesmaand op die negende Tuin van Digters in Wellington gehuldig. Hy gesels oor sy werk en lewe en sê ’n dag sonder poësie bestaan nie vir hom nie. Hy het met AJ Opperman gesels.

Daniel Hugo het dit op skool gehaat om opstelle te skryf.

“Ek was baie sleg daarmee. Dit was nooit vir my lekker om prosa te skryf nie, behalwe toe ek later akademiese artikels en resensies en so aan kon skryf. Daardie soort prosa kan ek skryf, maar skeppende prosa . . . dink ek nie,” sê Hugo en begin effens lag.

Daniel Hugo in Windhoek, waar hy grootgeword het. Foto: Marlene Malan

Poësie hou vir hom ’n veel groter bekoring in.

Ons gesels in die Pretoria-buiteklub waar die VIA-poësiereeks Ek wou nog sê… se jongste reeks gedeeltelik verfilm is. Hy bied dit sedert die eerste reeks aan.

Die ander deel van die reeks is in Wellington verfilm – dieselfde dorp waar Hugo (65) vandeesmaand op die Tuin van Digters gehuldig word.

’n Dag sonder poësie bestaan nie vir hom nie.

Hy geniet dit wel om prosa te lees.

“Ja, deesdae kan ek maar net lees wat ek vertaal. Ek is voltyds aan die vertaal. As jy ’n roman van 400 of 700 bladsye vertaal, het jy nie eintlik tyd om iets anders te lees nie. Dan is dit makliker om poësie te lees.”

“Nou, ek kan nie 04:00 in die oggend opstaan en skryf nie. Veral nie ’n gedig nie. Dit moet maar van êrens kom. En dit moet jou oorval as’t ware."

Sy vertaalwerk is meestal in opdrag van uitgewers.

Hy het wel onlangs twee Nederlandse bundels uit sy eie vertaal en ’n uitgewer daarvoor gesoek.

Naledi het Die singende wêreld deur Marc Tritsmans en Die Trouservies deur Benno Barnard uitgereik.

“Veral om poësie te vertaal, is lekker, want jy sit nie soveel ure nie. Jy kan dit eintlik baie vinnig doen. En dis natuurlik onsin dat akademici vir jou vertel dat jy ’n teks intensief moet bestudeer en ontleed voordat jy dit vertaal.”

Hy bly ’n ruk stil en sê dan ’n mens vertaal bloot wat daar staan. “Selfs al verstaan jy nie wat daar staan nie.”

Daniel Hugo Foto: Willem van der Merwe

Hy noem sommige gedigte van die Nederlandse digter Alfred Schaffer.

“Ek verstaan dit vandag nog nie. Ek het nou met hom saamgewerk. Ek vra vir hom: Alfred, wat staan hier. Hy sê: Daniel, bekommer jou nie daaroor nie, vertaal maar net wat daar staan. En dis maar die beste.”

Hugo kry darem tyd om self te dig.

Tuin van digters, ’n keur wat hy uit sy werk saamgestel het, is vanjaar uitgereik en volgende jaar verskyn ’n nuwe digbundel, Klinkklaar, by Protea.

Hy was as student in die digter D.J. Opperman se letterkundige laboratorium in Stellenbosch.

“Dit was in 1975. Die jaar voordat hy in ’n koma verval het. En hy was in ’n treurige toestand. Ek het om die waarheid te sê niks by hom in die klas geleer nie.”

Maar Hugo het baie uit sy gedigte geleer. Hy noem Opperman sy leermeester.

“Sy gedigte het tot my gespreek. En veral nadat ek A.P. Grové se opstelle oor hom gelees het. So eintlik het Grové aan my die sleutel tot Opperman gegee en dit is die digter wat my die meeste beïnvloed het.”

Hy het sy meestersgraad oor Opperman se “Brandaan”-siklus gedoen.

Daniel Hugo en Emily Dickinson

Opperman het nog geleef toe Hugo begin publiseer het.

Hy was destyds ’n keurder by Human & Rousseau en het aanvanklik Hugo se debuutbundel, Korte Mette, afgekeur. Hy wou hê Hugo moes verder daaraan werk.

“Ek kan nie die hele geskiedenis mooi onthou nie, maar hy het wel die titel vir my bundel Die klein aambeeld gegee.”

Voordat Korte Mette uitgereik is, het Hugo ook met twee ander boeke gedebuteer: Saad uit die septer, ’n parodie op Opperman se bekende bundel Komas uit ’n bamboesstok, en die bundel Brekfis met vier.

Saad uit die septer is onder die skuilnaam Daan van der Merwe uitgee en hy was een van vier digters in Brekfis met vier saam met Etienne van Heerden, Peter Snyders en André le Roux du Toit (Koos Kombuis).

Hugo is in Stellenbosch gebore, maar het in Namibië grootgeword en skoolgegaan.

Daar het sy ma ’n biblioteek vir die bruin gemeenskap begin.

“My ma was ’n opgeleide maatskaplike werker.

Toe ons op Windhoek aankom – my pa was predikant daar in die bruin NG sendinggemeente – was daar nie ’n biblioteek vir die bruin dorp Khomasdal nie.”

Dit was in die tyd van apartheid.

“Bruin en swart mense mag nie die blanke biblioteek in die dorp besoek het nie. Toe het my ma in die kerksaal ’n biblioteek begin – nie net vir die gemeente nie, maar vir die hele gemeenskap.”

Daniel Hugo by die bruggie waar hy as kind gespeel het. Foto: Marlene Malan

Hugo het grootgeword in ’n huis met boeke. Sy ma het hulle aangemoedig om te lees. Sy was ’n baie groot leser.

Sy broer Pieter se debuutbundel, Alchemie van my muse, is verlede jaar uitgereik.

"Geen twee mense lees presies dieselfde boeke en tekste nie. So elke mens maak sy eie unieke konneksies, lees sy eie verbande."

“As ek in my skoolmaats se huise gekom het . . . daar was nie boekrakke nie. Daar is nie boeke nie. Niks. Ek kon dit nooit verstaan nie.

“En my pa die predikant het natuurlik ook ’n studeerkamer vol boeke gehad, maar dit was meestal teologiese boeke.”

Hy het op hoërskool onder meer skrywers soos die Sestigers gelees.

“Hoeka in daai blanke biblioteek van Windhoek waar bruin mense nie toegelaat was nie. Ek het destyds min verstaan van wat ek lees, maar dit was iets anders as wat jy op skool te lese gekry het. Of selfs in ons huis.”

’n Jong Daniel Hugo op ’n foto uit sy ma, Maretha, se album. Sy is op 1 September oorlede.

Hy woon die afgelope sewe jaar in Prins Albert in die Wes-Kaap.

Sedert hy daar woon, het hy al baie gedigte oor die dorp en die Karoo geskryf.

“En die omgewing . . . Ja, dit was beslis ’n soort inspirasie. Die verandering van omgewing. Dis natuurlik baie soos die omgewing in Windhoek waar ek grootgeword het.

Ook met die berge, die droogte – hoewel dit droër is in Prins Albert – maar die klimaat is baie dieselfde.”

Radioluisteraars het in die 1980’s sy stem leer ken.

“Dit (uitsaai) was ’n totale verrassing vir myself.”

Hy het destyds in Bloemfontein gewoon waar hy ’n dosent aan die Universiteit van die Vrystaat was.

“Ek was geskei en wou daar wegkom. Ek sit toe daar in my kaal huis. Daai tyd was daar swaar reën en ek is vasgekeer in die huis en al wat ek kan doen is om radio te luister, want die televisie is ook weg.”

Toe word ’n pos op die radio op Radio Suid-Afrika (later RSG) geadverteer.

“En ek ken toe vir Nic Swanepoel, want hy het die letterkundeprogram gedoen. Ons was toe al dikwels vantevore saam op byeenkomste van die Skrywersgilde. En eintlik was dit op sy aanbeveling dat ek die job gekry het.”

Daniel Hugo by Emily Dickinson (links) en Babu. Foto: Marlene Malan

Buiten onderhoude het hy talle hoorbeelde gedoen.

“Dit was eintlik die lekkerste deel van die werk. Dit is nog destyds gemaak met magnetiese band en jy redigeer deur te knip en te plak.”

Hy het onder meer met die Suid-Afrikaans gebore digter Olga Kirsch in Israel (waar sy toe gewoon het) ’n hoorbeeld gemaak.

Hy het dieselfde gedagte gehad met die Afrikaanse digter Elisabeth Eybers, wat in Amsterdam gewoon het.

Hy het haar al sy oermoeder genoem.

“Ons is op dieselfde dag 40 jaar uit mekaar gebore.

Sy kom ook uit ’n pastorie. En is soos ek ook ’n ongelowige pastoriekind.”

Hugo het haar in Amsterdam besoek.

“Ek wou ’n onderhoud met haar voer en aanvanklik het sy vir my gesê ja, en ek daag daar op met my bandmasjien. En toe ek daar aankom, sê sy nee, en toe drink ons maar net koffie. Ek mag toe nie die bandmasjien aansit nie. Maar ons het bietjie gesels.”

Hugo het ook ’n keer of wat ’n briefwisseling met haar gehad.

Hy voel gevlei oor die huldiging op die Tuin van Digters.

“ ’n Mens moet natuurlik die nodige beskeidenheid aan die dag lê. Ek vind skryf moeilik.”

Sy gedigte het ’n klomp weergawes voordat dit uiteindelik verskyn.

“Ek is nou nie ’n ou wat kan gaan sit en ’n gedig skryf nie. Ek weet iemand soos (die digter) Louis Esterhuizen het vir ’n lang tyd soggens om 04:00 opgestaan voordat hy 08:00 na die Protea Boekwinkel in Stellenbosch gegaan het. Dan sit en skryf hy.

“Nou, ek kan nie 04:00 in die oggend opstaan en skryf nie. Veral nie ’n gedig nie. Dit moet maar van êrens kom. En dit moet jou oorval as’t ware.

“En dan moet jy ook nie te lank talm voordat jy iets neerskryf nie, want anders verdwyn dit natuurlik. Veral as jy in die nag wakker word en aan iets dink, moet jy dit dadelik neerskryf, want as jy weer aan die slaap raak, is dit weg.”

Daniel Hugo Foto: Marlene Malan

Hy lees soms sy eie bundels, maar nie van voor tot agter nie.

“Soms is ek beïndruk en soms is ek ontstig. Jy oordeel ’n gedig uit die verlede nooit presies dieselfde nie. Een dag dink jy dis goed en drie jaar later dink jy dis sleg.”

Hy lees elke dag poësie en hy skryf gereeld “Boekevat”-rubrieke op Netwerk24.

“As jy so ’n lang leeslewe agter die rug het, begin jy dinge met mekaar in verband bring.

“En dis alles toeval, en wat jy gelees het of wat jy nie gelees nie. Geen twee mense lees presies dieselfde boeke en tekste nie. So elke mens maak sy eie unieke konneksies, lees sy eie verbande. En dis altyd vir my lekker om uiteenlopende goed en dinge wat ver uit die tyd is by mekaar uit te bring.”

Hy het ’n goeie geheue wanneer dit by die lees van gedigte kom.

“Ander goed kan ek nou nie so goed onthou nie. Maar jou geheue word deur jou belangstelling opgeskerp.”

• Hugo word op 27 November om 19:00 op die Tuin van Digters gehuldig. 

• Die vierde reeks van Ek wou nog sê … begin op 14 Desember om 19:30 op VIA (DStv-kanaal 147). Dit word deur Avbob moontlik gemaak.

Meer oor:  Daniel Hugo  |  Wellington  |  Boeke  |  Skrywers  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.