Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dans van die onsigbares

Elmari Rautenbach het met die skrywer en joernalis Fred Khumalo gepraat oor sy roman Dancing the Death Drill wat presies 100 jaar nadat die SS Mendi gesink het, verskyn het.

Die skrywer Fred Khumalo. Foto:

Vroegoggend in die sagte groen van ’n Franse landskap. ’n Man kniel voor die gryswit grafsteen naaste aan hom, vee met sy vingerpunte oor die uitgebeitelde kop van ’n springbok. In ’n lourierkrans om die bokkop staan in hoofletters: Union is strength * Eendracht maakt macht. Daaronder die inskripsie: “Private Small Mokaile S.A. Native Labour Corps 15th July 1918”, afgesluit met ’n kruis.

Hy kom regop, vee die nat gras van sy broekspante af en kyk op. In die verte kronkel ’n rivier na die horison. Bo hom is ’n verkrummelende, ou kasteel. Tussenin strek die eenderse wit grafstene ry op ry teen die helling af.

In die bome ritsel die stemme van die voorvaders . . .

Die regering van Jan Smuts het die vrywilligers toestemming gegee om te gaan, maar net as arbeiders.

Die joernalis Fred Khumalo was ’n koorknaap van sowat 12, 13 en in Hammarsdale, KwaZulu-Natal, op skool toe hy die eerste keer die weemoedige klanke van die Grahamstadse komponis Jabez Foley se “Amagorha eMendi” (“Helde van die Mendi”) gehoor het.

“Ons het dit in Xhosa gesing. Die deuntjie het bly draal, maar die woorde het niks beteken nie.” Totdat hy dit eendag in hul huis in die Mpumalanga-township sing en sy ouma skerp vra: “Wazini wena ngale ndaba? Wat weet jy van daardie storie? Masiwahloniphe lamadoda, wemfana! Jy moet respek toon, jong man!”

Dit was sy eerste kennismaking met die verhaal van die SS Mendi-troepeskip, wat kort ná 05:00 die oggend van 21 Februarie 1917 in die Engelse Kanaal gesink het nadat dit met ’n veel groter vragskip, die SS Darro, gebots het. Dit was donker, met digte mis. Die Darro was leeg en teen ’n hoë spoed op pad na Argentinië om bevrore vleis te gaan laai. Die waarskuwing­sirene het nie gelui nie.

Die slag het ’n gat van 20 m wyd en 20 m lank aan die stuurboordkant van die Mendi oopgeruk, tot binne-in sommige van die onderste slaapkwartiere.

Van die 852 siele aan boord is baie in hul beddens deur die ysige waters oorval. Ander het in die see gespring, waar hulle kort daarna verdrink of verkluim het. ’n Handjievol is deur reddingsbote opgepik, maar die bote was te laat en te min om betyds die yl roepende stemme in die mis te bereik.

Eenkant het die Darro gewieg. Selfs tydens ’n latere geregtelike ondersoek kon kapt. Henry W. Stump nie verklaar hoekom hy geen hulp aangebied het nie.

Binne 25 minute was alles verby. Onder die 646 dooies, wat weke lank aan beide kante van die kanaal uitgespoel het, was 615 swart Suid-Afrikaanse troepe – lede van die South African Native Labour Contingent se vyfde bataljon – op pad na die front. En dit was by hulle, en eerw. Isaac Wauchope Dyobha van Fort Beaufort, waar die legende van die SS Mendi begin het.

In die chaos van daardie oggend het die eerwaarde se wekroep opgeklink: “Wees stil en wees kalm, my landgenote, want wat nou gebeur, is wat julle gekom het om te doen. Julle gaan sterf, maar dis wat julle gekom het om te doen. Broers, ons dans die dodedans . . .

En terwyl die water al hoe nader gekolk het, het die soldate ’n tradisionele dodedans begin uittrap.

“Het die dans werklik plaasgevind? Ons weet nie. Maar in ons kultuur dans ons in tye van rou. Dit was of ek die fluisterstemme van die voorvaders in daardie oomblik kon hoor.”

Tog sou dit etlike dekades duur voordat die man met die bril en blokkieshemp sy boek kon oopslaan en onder die titel, Dancing the Death Drill, sy naam teken – weliswaar ’n roman, 100 jaar nadat die Mendi gesink het.

                                                                                                             *****

By Arques-la-Bataille lê 333 Suid-Afrikaanse soldate begrawe wat tydens die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. ’n Paar was oorlewendes van die SS Mendi wat later aan die Wesfront dood is.

“As skoolkind was die enigste keer wat ek die storie weer raakgeloop het in my gr. 11-geskiedenishandboek, as ’n voetnoot by ’n hoofstuk oor Suid-Afrikaners se betrokkenheid by die Eerste Wêreldoorlog. Daarna het ek daarvan vergeet. Totdat ek as ’n Rapport-joernalis in 2003 Frankryk toe gestuur is.

“As ’n verrassing het ons gids ons Dieppe toe geneem en daarvandaan na die dorpie Arques-la-Bataille. Ná ’n entjie se klim, het ons by ’n goed versorgde begraafplaas uitgekom. Dit was eers toe ek om my kyk en die name op die grafstene sien dat dit ingesink het ek kyk na grafte van swart Suid-Afrikaners wat gedurende die Eerste Wêreldoorlog gesterf het. Landgenote.”

Die meerderheid van die 333 Suid-Afrikaners wat daar begrawe lê, was lede van die Native Labour Contingent, of Corps, en baie van hulle was oorlewendes van die Mendi-ramp wat later na die Wesfront gestuur is.

“Gewapen met name soos Vundla, ’n grootoupagrootjie van Peter Vundla van die Herdbuoys-advertensieagentskap, kon my navorsing in alle erns begin. My volgende deurbraak was die ontdekking van Norman Clothier se boek, Black Valour: The South African Native Labour Contingent, 1916-1918, and the Sinking of the Mendi. Hierin het die skrywer grootliks gesteun op verslae van oorlewendes, wat my weer op die spoor van verskeie koerantargiewe en die Historical Papers-navorsingsargiewe aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) gesit het.

“Ek het uitgevind die Corps het tot stand gekom ná die Britse Ryk se oproep in 1916 om versterkings uit die kolonies. Die swart vrywilligers sou £3 per maand kry – uitkoms tydens ’n erge droogte. Daar was ook verskeie ‘miskiens’ – miskien sou hul bydrae lei tot grond, miskien tot stemreg – dit was ’n paar jaar ná 1913 se plaaslike wet op grondbesit, wat 87% van grond vir ‘wit’ gebruik gereserveer het.

“Die regering van Jan Smuts het die vrywilligers toestemming gegee om te gaan, maar net as arbeiders. Hulle sou nie wapens ontvang nie en ook nie opgelei word nie.

“Terwyl ek gelees het, het ek egter besef ek mis die persoonlike stories van dié swart mans. Die 21 000 wat moes bome afkap, kook en was, kanonne teen die bulte opstoot; wat in omheinde kampongs gebly het, nie met hul wit makkers mog meng nie . . . Ek het besluit dan vul ek die gaping met my verbeelding.

“Ek het met ’n meestersgraad aan Wits begin en my klas as klankbord gebruik. Ek kon ook ’n paar maande navorsing doen by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Navorsing (Stias), omdat ek geweet het ek durf nie foute maak met die feite wat ek wel kon verifieer nie.”

En só het Khumalo sy storie begin skryf van Pitso, ’n jong man van gemengde afkoms en ’n oorlewende van die Mendi, wat ná die oorlog in Frankryk bly en met ’n Franse vrou trou.

“My keuse was nié ’n Zoeloe-karakter nie, maar een met ’n komplekse verlede¬– in pas met die Mendi se geskiedenis. Pitso het ’n Afrikaanse, wit pa met die van De la Rey, wat in die Anglo-Boereoorlog geveg het; sy ma is Sotho.” ’n Vraag oor “kulturele toe-eiening” waai hy weg met ’n ontstelde “nonsens!”

“My taak as skrywer is om grense te breek; om mense uit te daag. Ek wou kyk na een gesin waar pa en seun altwee die wapen opneem, in altwee gevalle ’n oorlog wat nie syne is nie. Ek wou kyk na ‘held’-wees.”

Ondanks ’n beroep van die Britte is die Mendi-slagoffers en -oorlewendes nooit met ’n toekenning of medalje vereer nie. Die eerste minister Louis Botha het wel vir ’n minuut van stilte in die parlement gevra.

Die historikus Albert Grundlingh noem hoe die verhaal van die SS Mendi deur die afgelope eeu op verskillende maniere vertel is, afhangend van die tydsgees en wie die verteller is. “Die storie van eerw. Dyobha het in 1935 vir die eerste keer in die koerant The Bantu World as ’n feit verskyn. Waar die Mendi-geskiedenis ná 1948 al hoe meer problematies geword het en daarom verswyg is, het dit in die 80’s ’n poging van die apartheidsregering geword om verlore aansien in die oë van die wêreld terug te wen.”

“Al wat ek weet,” sê Khumalo, “is dat ek daardie oggend voor daardie grafte gestaan en gedink het elkeen van hierdie mense het ’n storie. Ons weet nie waar hulle vandaan kom nie, hoekom hulle gegaan het nie, selfs hoe dit vir ’n nederige arbeider gevoel hetom voorgestel te word aan koning George V en koningin Mary nie.

“Ons het net hul name.

“Maar ons kan hul name en hul stories gebruik om lewe te blaas in die geeste van die voorvaders. Sodat ons om ’n tafel, in die flikkerende lig van ’n kers, kan gesels oor wie ons is, en waar ons vandaan kom. En dis hoekom ek ’n tweede weergawe van my boek geskryf het, met ’n Zoeloe-hoofkarakter en in Zoeloe, wat later vanjaar verskyn.

“Ngiyilomuntu enginguye ngenxa yokhokhobami. Ek is wie ek is te danke aan my voorvaders.”

  • Dancing the Death Drill verskyn by Umuzi en kos R230.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.