Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dapper debuut oor misbruik

Ondanks ’n paar gebreke is Aubrey Cloete se dun debuutroman, ‘Gam se tjind’, ’n dapper poging, skryf Mercy Kannemeyer.

Gam se tjind deur Aubrey Cloete. Uitgewer: Reach Publishers. Prys: R180.

Gam se tjind fokus op die lewensreis van Terence Jacobs wat as seun seksueel misbruik is, en bied ’n blik op die nagevolge van seksuele misdaad.

Die leser ontmoet die hoofkarakter as ouer man, nou gelukkig getroud met sy vrou, Madeleine, maar beleef die ontstellende gebeure van lank gelede deur middel van terugflitse. Op skool kom die invloede – goed en sleg – van vriende en familie ook ter sprake en ’n mens kry só mettertyd insig in die stilswye van sekere slagoffers wat deur die vuil vingers van molestering aangeraak is.

Volgens die mediaverklaring werk die skrywer, ’n boorling van die Kaapse Vlakte, as hoërskool-Afrikaansonderwyser wat glo op 18 al besluit het hy wil ’n skrywer word. Gam se tjind is sy debuut.

Dit verklaar dalk waarom ek die ontknoping so steurend skielik gevind het . . . in die laaste dele van die boek – ek verklap niks nie – bieg Terence teenoor een van sy vriende en dan, in byna FBI-styl, word die molesteerder opgespoor (of daar is pogings om hom op te spoor – ek is onseker) sodat hy sy verdiende loon kan kry. Die verhaallyn, wat nie chronologies volg nie, is lastig, want dit voel of jy twee boeke gelyktydig lees waarin die storieboog van een nie heeltemal voltooi word nie.

Afgesien van die verhaallyn is Cloete se taalgebruik kleurryk en gedetailleerd, met ’n mengelmoes van Standaardafrikaans, Kaaps, Namakwalandse Afrikaans en bietjies Engels. Hy slaag daarin om helder prentjies in die leser se kop te skilder, maar die beskrywings raak plek-plek oorbodig en veroorsaak dat die roman by tye soos ’n Romanza lees. As hyg­romans in jou smaak val, sal jy dalk daarvan hou, byvoorbeeld: “Haar roomkleurige vel is blosend van die oggendkoue. Die effense gap tussen haar twee voorste tande is parmantig en sexy tegelyk. Haar ligbruin hare met die enkele paar blonde strepe sou die destydse potloodtoets lag-lag slaag . . .”

Ander temas wat in die bestek van 66 bladsye aan die bod kom, is vergifnis, liefde, pyn en politiek.

Cloete slaag daarin om verskillende leefwêrelde uit te beeld en behoort só ook die grense in die kopwêreld van party lesers te verskuif. Maar as een van dié lesers sou ek graag wou sien dat die storielyn oor seksuele misbruik – ’n tema wat tans wyd aandag geniet in die media, teater en letterkunde – uitgebrei word sodat ’n mens werklik die erns daarvan kan sien. Afgesien van dié lastighede is dit tog ’n dapper poging.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.