Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dawie se lewe bied ryke stof

Springbok-rugbykaptein tussen 1965 en 1970, predikant, akademikus, politikus, ambassadeur en kabinetsminister in die regering van oudpress. PW Botha, FW de Klerk en Nelson Mandela... Nou vertel Dawie de Villiers sy storie in ’n politieke outobiografie van nastrewenswaardige gehalte, skryf Jan-Jan Joubert.

My lewensreis: Springbok, politikus, diplomaat deur Dawie de Villiers (met Chris Schoeman). Uitgewer: Penguin. Prys: R300.

So ’n paar jaar gelede bel mev. Caro Wiese, een van die groot weldoeners vir Afrikaans, en vra of ek ’n onderhoud wil doen met haar pa, die politieke stormvoël adv. Japie Basson, wat toe 90 jaar oud geword het.

Dit was om vele redes ’n voorreg en een van die leersaamste onderhoude van my loopbaan. Daarby het oom Japie ’n opmerking gemaak wat my altyd bygebly het: Hy het gesê een van die swakker plekke in die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis is dat daar nie ’n genoegsame tradisie is van politici en senior staatsamptenare wat hul belewenisse, geskiedenis en lewenslesse boekstaaf in die soort outobiografieë wat stapelvoedsel is in samelewings soos die VSA en Brittanje nie.

Oom Japie het daar in sy studeerkamer in die Kaapse spogbuurt Clifton ’n min of meer volledige versameling gehad van die outobiografieë van politieke rolspelers sedert 1910. Dit was nie ’n oorweldigende boekery nie, hoewel een wat ek uit my hart begeer het – die tiende gebod ten spyt.

Soos ons weet, is oom Japie nou al jare saliger, en sy pragtige vrou, Clare, het hom onlangs gevolg, maar ek dink tog hy sou saamstem daar het die afgelope paar jaar verskeie Suid-Afrikaanse politieke outobiografieë van nastrewenswaardige gehalte verskyn.

Die jongste hiervan is geskryf deur dr. Dawie de Villiers, Springbok-rugbykaptein tussen 1965 en 1970, predikant, akademikus, politikus, ambassadeur en kabinetsminister van 1980 tot 1996 in die regerings van press. PW Botha, FW de Klerk en Nelson Mandela.

Hy was ook die hoofonderhandelaar van die Nasionale Party (nie die regering nie, ’n kwessie van tegniese detail wat ons nie hier hoef uit te pluis nie) tydens die Kodesa-onderhandelingsproses vir ’n demokratiese Suid-Afrika en later, ná sy politieke uittrede, jare lank verbonde aan die Wêreldtoerisme-organisasie met sy standplaas in Madrid, Spanje.

Maar altyd, eerstens,– was Dawie de Villiers ’n gesinsman, Afrikaner en Suid-Afrikaner, en daarby – dalk die belangrikste – ’n oopkop-Christen met meelewing vir die kwesbaarstes in die samelewing.

Dít alles is ryke stof vir ’n outobiografie, en wat ’n plesier dat hy van die skryf daarvan – in samewerking met die deurwinterde sportskrywer Chris Schoeman – so ’n sukses gemaak het.

Wat maak My lewensreis: Springbok, politikus, diplomaat so ’n leesbare outobiografie? Ek meen eerstens die vertrekpunt deur die skrywer, as subjek en objek van sy lewensverhaal. Dit is duidelik dat De Villiers se lewensuitkyk blymoedig en positief is. Hy dra sy suksesse met groter fokus as sy mislukkings.

Ek ken De Villiers nie persoonlik nie, maar tydens sy lang politieke loopbaan het hy my altyd opgeval as iemand wat die lewe werklik voluit leef en elke kans aangryp wat na sy kant toe kom. Hierdie outobiografie versterk daardie indruk en maak dit ’n positiewe, plesierige leeservaring.

Die derde positiewe ervaring is die bondige skryfstyl. Hier word nie derms uitgeryg nie. Hy vertel dinge soos hy dit ervaar het en trek dan ’n streep daaronder. Dit is ’n verfrissende plus, vernaam vir ’n politikus.

Die vierde belangrike aspek: Die boek is vanuit ’n bestendige en redelik eenvoudige lewensuitkyk geskryf. Die opvatting dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves, die geloof in ’n enkele lewensmaat en ’n kalm gesinslewe en die duidelike strewe na perfeksionisme in die algemene handel en wandel is aantreklike vertrekpunte, al kry nie almal van ons dit altyd reg nie.

Die vyfde sterk punt is die eerlikheid en eerbaarheid wat uit die vertelling straal. De Villiers vertel van sy volle en voluit lewe op ’n manier wat nie selfgeldend is nie, maar sy veranderende sienings duidelik stel, asook die bydrae wat hy probeer lewer het en sy eie bestekopname van wat hy as sy suksesse en mislukkings beskou. Dit wil ook voorkom asof hy die soort mens is wat ruim aan ander krediet gee vir hul bydrae tot sy suksesse, maar sonder skamper bitterheid self verantwoordelikheid aanvaar wanneer dinge nie perfek afgeloop het nie. Dis ’n baie aantreklike karaktereienskap.

Sesdens is die boek in sprankelende Afrikaans geskryf deur iemand wat die taal kennelik liefhet en puik bemeester het, soos blyk uit die gedigte wat hy uit eie pen insluit.

Laastens is hierdie boek ’n wenner omdat dit so ’n breë ervaringsveld bestryk. Dit bestaan uit ses onderafdelings waarvan sommige of almal vir verskillende lesers interessant, belangrik en vermaaklik kan wees.

Die aanvang van die verhaal vertel oor De Villiers se jeugjare in ’n Afrikanernasionalistiese huis in Burgersdorp, Caledon en Bellville in die 1940’s en ’50’s waar sy pa spoorwegamptenaar, NP-organiseerder en toe parlementslid (vir die kiesafdeling Vasco, dus die Goodwood-omgewing) was. Op onderbeklemtoonde wyse vertel dit – miskien in die aard van Anna M. Louw se onvolprese Die voortreflike familie Smit – die verhaal van die groot trek stede toe ná die Depressiejare. Só het ’n geslag Afrikaners deur hul vermoë om vas te byt die saad van hul materiële sukses gesaai, maar deur hul selfgerigte ondeurdagtheid die res van ons land se mense ’n ontsettende onreg aangedoen.

Die tweede fase vertel van sy rugbyjare – op die veld ’n goue era vir die Springbokke danksy puik spelers, maar ook deur puik mediumtermyn-spanbestuur deur afrigters en ’n bestuurspan wat geweet het hoe om vir die toekoms te beplan. Dit was egter ook die tydperk toe politieke onboetvaardigheid die duiwelsaad van sport­isolasie gelê het, en De Villiers vertel op onbevange wyse die verhaal van binne.

Hy vertel van sy predikantsjare in Wellington en sy jare as dosent aan die destydse Randse Afrikaanse Universiteit. Dit is ook die verhaal van vasbytjare vir sy gesin. Wat besonder vertederend is, is sy besef dat hy nêrens sou gekom het sonder sy vrou, Suzaan, nie.

Die derde fase handel oor sy jare as NP-LP vir Johannesburg-Wes gedurende die bewindsjare van John Vorster en PW Botha. Dit sal vir enigeen wat in die politiek – daardie verraderlike en opwindende wêreld – belang stel, uiters interessant wees.

Die vierde fase – kort maar na sy eie mening én myne as leser beslissend – was sy tydperk as Suid-Afrikaanse ambassadeur in Londen, wat kennelik verruimend en bepalend was. Dis onder meer fassinerend hoe daardie Britse hoofstad sedertdien verander het!

Die vyfde fase handel oor sy loopbaan in die voorste gestoeltes van die politiek. Soos in die deel oor sy rugbyloopbaan is dit veral innemend om te lees hoe hy mislukkings (byvoorbeeld met die 1981-verkiesing en die 1986-kabinetskommeling) te bowe gekom het. Sy Kodesa-belewenisse en vertellings oor die Mandela-kabinet is van groot historiese waarde.

Die laaste fase handel oor sy belewings by die Wêreldtoerisme-organisasie en sluit verskeie reisbeskrywings in wat sekerlik ’n baie genotvolle leeservaring sal wees vir diegene wat graag reis.

Op die keper beskou is hierdie ’n uitstekende outobiografie, geskryf deur ’n nastrewenswaardige Suid-Afrikaner wat die lewe se geleenthede behoorlik aangegryp en diep spore getrap het. Dawie de Villiers laat ’n edel nalatenskap, en hierdie boek bied die kosbare geleentheid om te besef hoe hy dit reggekry het.

  • Jan-Jan Joubert is ’n skrywer en politieke joernalis.
Meer oor:  Dawie De Villiers  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.