Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
LUISTER: Debutant se kortverhale soos ‘fyn takelwerk’

Madré Marais, ’n nuwe vonds op die Afrikaanse skrywersfront, het met ’n kortverhaalbundel gedebuteer. Sy het met Elretha Britz oor die ontstaan van die verhale in Luistervink gesels.

Madré Marais woon in Bloemfontein saam met haar man, Shane, en hul tien maande oue seun, Hunter. Foto: Mlungisi Louw

“Wat as die twee mense by die tafeltjie wat vir hul wegneemkos wag, nie die gelukkige paartjie is soos dit nou lyk nie? Wat as sy die man se skelmpie is?”

“Wat as?”

Van jongs af loop Madré Marais met die “wat as-vrae” in haar kop, vrae waarop haar verbeelding antwoorde borduur en mense karakters in haar stories word.

Elkeen van die 13 kortverhale in haar debuutbundel, Luistervink, is uit “wat as?” gebore. En vandag nog kan sy elke storie se ontstaan-oomblik onthou.

“My karakters is nie op werklike mense gegrond nie. Hulle is gevorm uit die mensekennis wat ek oor tyd opgedoen het. Die drade wat ’n mens tussen storie-elemente span, die metafore wat ’n mens gebruik, kom uit die ervarings waaruit jou lewe opgebou is.”

Madré Marais het self die titel voorgestel.

Plaasmetafore kom dikwels in die bundel voor en geen wonder nie – Marais het op ’n plaas in die omgewing van Fauresmith in die Suid-Vrystaat grootgeword. Plaas is deel van haar DNS.

Die boek bestaan egter nie uit plaasstories nie, om die waarheid te sê, die bundel het geen tema nie en die stories is totaal uiteenlopend. Party is ook kort, soos “Jy loop na ’n drom en skep” wat net een en ’n halwe bladsy lank is, ander is lank, soos “Brandoffer” wat 22 bladsye beslaan.

Marais wei uit oor dié langste verhaal in die bundel.

“ ‘Brandoffer’ begin soos ’n dagboek met datums waarin ’n vrou haar gedagtes en gevoelens neerskryf. Sy sukkel met ’n klomp probleme – die droogte, haar man wat daaronder ly en ander dinge wat hieruit spruit. Haar man sê sy moet met iemand gaan praat. Sy besluit op die dominee, wat op sy beurt sê sy moet alles neerskryf. Namate sy haar probleme loswoel, begin sy op ’n ander manier skryf en verloor die verhaal sy vaste struktuur en datums.”

Marais wil nie meer vertel nie en sê net dit is een van die min verhale met ’n triomfantelike einde.

Ek wil hê die stories moet aan jou knaag. Nie skok of ontstel nie, net knaag en karring.

Haar doel met stories is om lesers op ’n manier te frustreer: “Ek wil hê die stories moet aan jou knaag. Nie skok of ontstel nie, net knaag en karring.” Dit was juis haar leeservaring sedert sy op skool was. Wanneer sy ’n paar jaar later weer ’n kortverhaal lees, verstaan sy dit op ’n ander vlak. As die verhaal steeds aan haar knaag, lees sy dit later weer en breek nog ’n vlak van verstaan oop.

Die uitgewer Human & Rousseau skryf op die agterblad: “ ’n Verrassende debuutbundel kortverhale met uiteenlopende stemme en landskappe, en deurgaans ’n genuanseerde blik op die hedendaagse wêreld. Madré Marais breek op ’n onthutsende wyse weg van die bekende.”

“Lafbaait” is so ’n voorbeeld. Dit handel oor ’n onderwyseres en haar huislike omstandighede waaroor jy lank ná die tyd bly tob. Ook die situasie met Bok se onvergenoegde meisie in “Dit wat Bok nie weet nie”. Wat weet sý? Dit bly karring in jou kop. Wát weet sy?

Die slot van die openingsverhaal, “Waar die kweswerk gedoen is”, laat jou wel nie in ’n lugleegte nie, maar jy hoop kliphard Emmie het nie gekies om na Koen terug te keer nie.

Marais verwag nie alle lesers sal dieselfde reageer nie. “Ek gee nou die verhale weg en in elke leser se kop en lewensomstandighede word elke storie iets anders. Die drade wat ’n mens span, is opgebou uit ervaring en dit wat jy in die lewe bymekaargemaak het. Dit geld nie net die skrywer nie, dit geld ook die leser,” sê Marais.

Skryf storie uit

Marais, wat die afgelope agt jaar as taalredigeerder vir Volksblad se sentrale plaaslike koerante werk, sê sy wou altyd ’n skrywer word, maar het nooit gedink aan publiseer nie. “Ek wou beslis altyd stories maak, karakters skep, iets met die taal doen.”

Op ’n dag het sy tog oorweeg om ’n boek te skryf en by ’n uitgewer gaan kers opsteek. Die voorstel was dat sy 25 kortverhale skryf wat vir publikasie voorgelê sou kon word.

Sowat drie jaar het verloop waarin sy idees in stories verwerk het, nuwe verhale geskryf het en ook voortdurend herskryf het.

Kitsfeite
  • Madré Marais het die bundel nie aan ’n persoon opgedra soos die gebruik is nie. So lui dié inskrywing voor in haar bundel: “Vir die landskap waarin ek mens geword het – jou vlaktehemel en jou sterreveld.”
  • “Ek het nie van jou vergeet nie”, die laaste verhaal in die bundel, is Madré Marais se gunsteling omdat die karakter reeds van 2015 saam met haar kom en onlosmaaklik deel van haar leefwêreld geword.
  • “Die stories laat my dink aan ’n groot boom: Indrukwekkend om na te kyk, maar nog meer opwindend om onder die blaredak die fyn takelwerk van vertakkings te sien wat die boom bóóm maak.” – Riana Scheepers

Toe kry sy die geleentheid om ’n meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) te doen en met die waardevolle leiding van Francois Smith, skrywer van Kamphoer, en die digter Henning Pieterse, het sy haar pad na publikasie oopgeskryf.

“Een van die belangrikste aspekte wat ek in die kursus geleer het, is om ’n storie uit te skryf. Die dosente het gesê ek moet dit laat ontwikkel totdat dit ’n eie lewe kry. Eers dan besef jy as skrywer waaroor die storie eintlik gaan.

“ ‘Lafbaait’ het as ’n storie oor ’n meisie by die skool begin, toe word dit ’n storie oor die onderwyseres. Ek het geleer om my nie blind te staar teen wat ék dink die storie moet wees nie, die storie sal my vertel wat hý wil wees.”

Kortverhaalbundels is nie juis blitsverkopers nie, maar Marais sê dit is van jongs af haar gunsteling-genre. Sy het alle Afrikaanse kortverhaalbundels verslind en nou nog is dit haar voorkeur-leesstof.

Sy vertel onder watter groot druk Luistervink gebore is. “Ek het gehoor ek is swanger (met haar en haar man, Shane, se eersteling) twee weke nadat my manuskrip vir publikasie aanvaar is, maar op voorwaarde dat ek aan die verhale sou skaaf en nog sowat ses stories byskryf.”

Sy wou só graag die bundel publiseer en was so gefokus dat sy by tye byna vergeet het sy is swanger. Twee maande ná Hunter se koms, het sy weer aan die werk gespring om die laaste drie stories te voltooi.

Die volgende vraag is vanselfsprekend: Wat kan lesers volgende uit Madré Marais se pen verwag? “Ek werk solank aan ’n volgende verhaal . . . dalk kan dit ’n roman word. Ons sal maar sien.”

  • Luistervink kos R220 by Exclusive Books en ander uitgesoekte boekwinkels.
  • Luister na “Jy loop na ’n drom en skep” voorgelees deur Marais.


Meer oor:  Madré Marais  |  Boeke  |  Riana Scheepers  |  Kortverhale
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.