
Lodewyk C du Plessis
Debute was vanjaar behoorlik in die kollig by die kykNET-Rapport-boekpryse, wat die Jan Rabie-Rapportprys insluit.
Lodewyk C du Plessis se Die Dao van Daan van der Walt het die fiksieprys verower, Jeremy Vearey se Jeremy vannie Elsies het die nie-fiksieprys gewen en Kinnes van Chase Rhys het die prys vir filmteks gewen.
Die wenners van die boekpryse, asook die kykNET-Rapportpryse vir Afrikaanse resensies, is pas by ’n spoggerige geleentheid op Stellenbosch bekend gemaak.
Die beoordelaars beskryf die reeds veelbekroonde Die Dao van Daan van der Walt deur Du Plessis (skuilnaam van oudregter Andries Buys) as ’n bedevaart vir leesvermoeides, ’n lewenswerk wat wysheid waaraan ’n leeftyd versamel is, adem; ’n boek wat met die mooiste Afrikaanse sinne denkbaar walgooi teen verlies en verganklikheid; een wat die komplekse verhoudings wat ons ondermaanse staning so kosbaar (en kostelik) maak, huldig. Die ander benoemdes in hierdie kategorie was Charl-Pierre Naudé met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey en Ingrid Winterbach met Die troebel tyd.

Jeremy VeareyFoto: Deon Raath, Rapport
Die niefiksiewenner, Jeremy Vearey se Jeremy vannie Elsies, het die beoordelaars getref as ’n belangrike boek vir ons tyd, een wat hulle as lesers tot dieper en selfs nuwe insigte gebring het. Dit is ’n vars en kosbare bydrae tot die Afrikaanse letterkunde se oorverteltradisie uit ’n omgewing wat hopeloos te lank afgeskeep is. Ook op die kortlys met Jeremy vannie Elsies was Ingrid Jonker: ’n Biografie deur Petrovna Metelerkamp en Bloedbande deur Wilhelm Verwoerd.

Chase RhysFoto: Verskaf
Die beoordelaars loof Kinnes, waarmee Chase Rhys die filmprys wen, vir ’n vars aanslag, literêre meriete, en relevante en ontroerende eietydse storie geskryf in lewendige Afrikaapse dialoog. Die filmiese beelde wat dit oproep, doem glashelder in die leser se verbeelding op. Die ander titels op die kortlys was Prooi deur Deon Meyer en Stormkind deur Riana Scheepers.
Charl-Pierre Naudé wen die Jan Rabie-Rapportprys vir ’n debuut of tweede prosawerk in Afrikaans met Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey. Volgens die beoordelaars is Naudé se roman benewens magies realistiese satire, kwasi-speurverhaal en vernuftige metafiksie ook ’n boek wat die leser gaandeweg oortuig dat die idee van een kenbare werklikheid verregaande is – veral in ’n land waar soveel mense as’t ware in parallelle werklikhede rakelings aan mekaar verbyleef.
Die kykNET-Rapportpryse vir boekresensent van die jaar is toegeken aan:
- Fiksie: Deborah Steinmair – “Baldadig en boheems soos ’n Russiese serp” (oor Liefde in die tyd van die internet deur Fransi Phillips, Rapport Weekliks, 29 Julie 2018)
- Jean Meiring – “Holderstebolder boek oor Chris Barnard stel teleur” (oor Hartebreker deur James-Brent Styan, Rapport Weekliks, 4 Februarie 2018)
- Langer resensies: Elzette Steenkamp – Stof deur Alettie van den Heever: ’n LitNet Akademies-resensie-essay (LitNet, 22 November 2018)
Die beoordelaarspanele van die onderskeie pryse was:
- kykNET-Rapport-fiksieprys: Louise Viljoen, Gerrit Schoonhoven, Darryl David en Thys Human
- kykNET-Rapport-niefiksieprys: Andries Bezuidenhout, Valda Jansen, Herman Wasserman, Herman Binge
- kykNET-Rapport-filmprys: Tina Kruger, Herman Binge, Gerrit Schoonhoven
- kykNET-Rapport-boekresensentpryse: Bibi Slippers, Bibi Burger en Jomarié Botha
- Jan Rabie-Rapportprys: Steward van Wyk, Alida Potgieter en Danie Marais
Die seremoniemeesters vir die aand was Suzaan Keyter van kykNET en Waldimar Pelser van Rapport.