Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Debuut met ‘mixtape’ kort ietwat meer oemf

Poësie

Pienk ceramic-­hondjies

Ryan Pedro

KWELA, R220

Ryan Pedro se bundel word as besonder queer, in die breedste sin van die woord, aangebied.

Daar is die verwysing na pienk, daar is die ontwerp van die seuntjie met die kroon van snuisterye en, volgens Krog, is daar sprake van weerloosheid in die verse.

Begin jy die bundel lees, is daar ook die opdrag “vir sy pa, sy uncle tinkie en al die ander uncles”. Vir my as leser skep dit die verwagting dat ons in hierdie debuutbundel oor fasette van manwees en manlikheid gaan lees.

Die titelgedig, “pienk ceramic-hondjies” (bl. 53), plaas die leser egter in die konteks van “riots”, polisiehonde en van die een uncle wat vertel hoe die ander uncle sy vrou se pienk ornamenthondjies stukkend geskop het omdat hy die honde te veel assosieer met polisiegeweld. Die manlike wêreld wat in hierdie gedig opgeroep word, is aan die een kant gewelddadig, maar terselfdertyd ook humoristies. Die slot skakel ook met die gedig “vrydag” (bl. 24): “ ’n backyard / vol uncles / rye rye / bruin / empties.”

Die leser is dus bedag daarop dat Ryan Pedro ’n ironiese spel met hom/haar gaan speel. Wat ons dan weer terugvat na die motto, wat waarsku dat ons geen goeie gedrag moet verwag nie en dat die stem wat hier aan die woord gestel word, sy eie ding op sy eie manier doen.

Dié bundel verskyn in dieselfde jaar as die debute van onder meer Gisela Ullyatt, Lynthia Julius en Hennie Meyer. Soos ek sal aandui, knoop Pedro tematies ’n gesprek aan met Julius. Anders as by ’n debuutdigter soos Ullyatt kry ek by Pedro die gevoel dat ek dit wat hier staan, al elders gelees het.

Slim is die buitengewone indeling van die bundel en die intertekstuele skakeling met rap-musiek en hiphop, hoewel dit ook nie uniek is nie. Pedro ontsnap egter nie aan die probleem met narratiewe gedigte, naamlik dat die sterk gang van die gedig nie volgehou word tot die einde nie. Voorts mis ek by hom genoegsame bewys dat hy die taal vreemd kan maak.

Hy maak te veel staat op rap-agtige skellerigheid om ’n effek te verkry.

Hy maak te veel staat op rap-agtige skellerigheid om ’n effek te verkry.

Die eerste gedig staan egter los as ’n tipe inleiding – “portret van ’n coloured laitie as ’n mixtape” en die bundel word as ’n mixtape aangebied met “side a”, “inter­ludes & leaks”, “side b” en ’n “bonus joint” op die koop toe. Musiek speel deurgaans ’n rol in die bundel en daar word byvoorbeeld speellyste ingesluit wat op Wendy se mixtape opgeneem is. Vernuftig word drie gedigte gekoppel aan drie Drake-albums (ek moes gaan opsoek wie Drake is. ’n Skoongesig- Kanadese rapper).

Ewe vermaaklik is die spel met Ludacris (Amerikaans-Gaboense rapper) en Mary J. Blige (haar ken ek darem) waarin SMS-boodskappe tussen Z en R ingesluit word wat handel oor “slaap met ’n gesiene boer uit die distrik se vrou”. ’n Ander aspek van manlikheid word in hierdie reeks gedigte belig.

Veral in die “interludes & leaks”-gedeelte kom ’n hele reeks gedigte voor wat vir ons portrette gee van “ ’n coloured laitie” in verskeie kontekste. Deurlopend hier is die rol wat klere met die regte handelsname speel: Levi 501 versus Mr Price, Jordans en as merkers dien van sosiale kritiek teenoor ongelykheid. Ook is daar sy interaksie met sy wit tjommies aan die hand van die reeks skilderye deur Coolidge van honde wat sit en poker speel.

“Side b” begin met ’n gedig wat in Louwville, Vredenburg, afspeel en vertel van Mamma wat ná haar werk as skoonmaker tuis kom en ontvlug in die sepies op televisie.

’n Ernstige tema word geaktiveer, naamlik geweld teen vroue en kinders. Die kou van lekkergoed word slim ingespan – “deafening chewing guaranteed”.

Die ruimte van die kinderjare word onthou aan die hand van Mister Williams se huiswinkeltjie, maar ’n ernstige tema word geaktiveer, naamlik geweld teen vroue en kinders. Die kou van lekkergoed word slim ingespan – “deafening chewing guaranteed”.

Dit is ook in Mister Williams se winkel waar verwys word na Uncle Alex, wat selfs sy eie ma slaan.

’n Vraag wat ten nouste saamhang met manlikheid is wanneer mans dan sodanig hul “virginity” verloor het – en sy antwoord klink ewe spoggerig-oordadig, nes die meeste mans s’n.

“bonus joint” bestaan uit ’n siklus van drie gedigte met die titel “by die barbershop”. Soos in die werk van ’n ander debutant, Lynthia Julius in Kroes, word die politiek van hare en haarstyle hier gebruik. Dit roep ook weer ’n mangesentreerde ruimte op met sy verwysing na “die mengsel van manstemme / die ge-bzzzz van wahls”.

Die intimiteit tussen vader en seun word gesuggereer wanneer die pa self sy hare “sommer in die driveway op ’n tuinstoel” sny. In die derde gedig laat die spreker sy hare en baard groei as aanduiding van sy verset.

Pedro sluit die bundel af met ’n aanhaling uit “Hate It or Love It” van The Game ft. 50 Cent (nog rappers), waarin veral die frase “the underdog’s on top” opval. Dit het natuurlik ook betrekking op die uitbeelding van manlikheid in die bundel, iets wat mens ook by ander jong digters soos Loftus Marais, Fourie Botha en Nathan Trantraal aantref.

Of daar in hierdie bundel werklik sprake is “vanne violin maker, ennie cool vanne underground hip-hop artist” soos wat agterop beweer word, is ek nie oortuig nie.

Marius Crous doseer letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port-Elizabeth.

Meer oor:  Ryan Pedro
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.