Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Debuut ontgin grense tussen teks en werklikheid

Poësie

Chrisalis

Christo van der Westhuizen

NALEDI, R230

Op die voorblad van hierdie debuut is ’n vlinder met ’n man wat die twee vlerke vashou. Dit aktiveer sowel transformasie as ’n sweeftog.

Die naam Chrisalis verwys ook na die digter se naam, Christo van der Westhuizen, en ons hoor die woord (uit)kristalliseer in die titel. Volgens die woordeboek beteken die naam ook papie of die beskermlagie rondom die insek. By Rika Cilliers is daar ’n bundel Spirakel (1996), die klein opening in die lyf van ’n insek.

By Opperman word die beeld van die engel wat uit die klip verlos moet word die simbool van die digproses. Hier is dit dan die verskillende stadia van ontwikkeling of groei wat die digproses karteer.

Die verskillende afdelings “Déjà vu”, “Uit die oog, in die hart”, “Die kuns afvra”, “Redux”, “Papie-blues”, “Geleende gebeente”, “Môre is nog ’n dag” dui op ’n sterk bemoeienis met taal. Spreekwoorde en die gevoel van taal wat die digter (en dus die leser) in die steek laat, is ’n belangrike sleutel vir die oopmaak van hierdie bundel.

Die digter skryf twee soorte verse: ’n gedig waar hy antiteties stelling inneem en literatuurteorie gebruik om sy posisie te verduidelik. Verder is daar ook meer toeganklike en belydende verse.

In die derde afdeling, “Die kuns afvra”, wat inspeel op die idioom moenie die boer die kuns afvra nie, betrek hy die werk van die Russiese Formalis Victor Sklovskij en die idee van ostranenie of vervreemding. Om die klip klipperiger te maak en die literariteit van die teks voorop te stel, was een van die belangrikste doktrines van die Russiese Formaliste wat teen die politieke voorskrifte van die tyd gewerk het.

Sklovskij sterf in 1984 en die impak van sy teorieë, veral die begrip literaturnost, is enorm.

Die vlag wat bo die stad wapper, is nie dieselfde as die vlag in die gedig nie . . .

Die vlag wat bo die stad wapper, is nie dieselfde as die vlag in die gedig nie . . .

Met hierdie debuut sluit die digter aan by J.C. Steyn se Die grammatika van liefhê van 1975; Leon Strydom se L.S. (lectori salutem) van 1988 en die werk van Johann Johl: Gewalste woord (1990) en Roulet (1994). Steyn is ’n gesiene taalkundige en biograaf; Strydom was ’n professor in literatuurwetenskap en wyle Johl het uitstekende studies oor satire, ironie en Etienne Leroux geskryf. Verder dink ons ook aan die digkuns van T.T. Cloete en die spel met intellektuele verwysings vanaf Angelliera (1980).

Die digtende akademikus is volop in ons letterkunde. Die vraag is egter hoe die digter met die geleerde konsepte omgaan.

Die huis-van-die-digkuns akkommodeer verskillende stemme en style.

In die volgende gedig word op die Bybel ingespeel:

Literariteit, ’n psalm van Sklovskij

al dig ek ook in die skadu van skyndood

ek sal geen beeldspraak vrees nie

sinekdogee en metonimia verkwik my

en die metafoor vertroos my

my pyn het ek vir kunsgrepe verruil

nou blink my wonde in rym

in die raaisel van die poësie

sal ek met behae

tot in lengte van dae

tussen die lyne skryf

Dit gaan dus in hierdie bundel om die raaisel van die poësie.

In die gedig “Oop plek” is daar weer ’n verwysing na Wolfgang Iser se idee dat die leser die “oop plek” moet invul. Die alomteenwoordige nie-leser wag dus in die kodes van die teks totdat die werklike leser hom aktiveer.

Oop plek

poësie is ver van kuns

ophang kan jy dit nie

en verkoop nog minder

dit het weinig waarde

vir die belegger

en filmmaker

dit ontstig die uitgewer

boekhouer en rugbyspeler

selfs digters het van mekaar

min goed te sê soos tennisspelers sou:

goeie afslaan of mooi hou

diep distigon! slim sestet!

al wat die poësie regtig het

al wat die poësie regtig het

al wat die poësie regtig het

is die alomteenwoordige nie-leser

Vir my is die sterkste en onthou­bare gedigte veral hierdie meta­poëtiese besinnings.

Daar is gedigte oor metamorfose: ouer teenoor kind en die familieskap tussen mense. Daar is ook die familieskap van digters: Wessel Pretorius, opdraggedigte vir mededigters en ’n gesprek met ouer digters.

Die sirkelgang van lewe en dood, dood en lewe word karteer in hierdie debuut. Die chronologie word opsetlik opgehef; die sleutel is immers Sklovskij se syuzhet/fabula.

“Geleende gebeente” speel in op Opperman en in hierdie afdeling word die skrikwekkende idee van selfdood en die implikasies daarvan ondersoek. Selfdood is ’n soort toutologie, want die mens is in wese van geboorte af sterwend.

In “Redux” is sprake van ekstrospeksie en vele ironieë waarmee die digter in sy bedryf worstel.

Die digter word op die agterblad beskryf deur twee digters wat sy styl perfek opsom. Daniel Hugo verwys na die taal- en versvernuf en dat die tekste die grense tussen teks en werklikheid ontgin.

Johann de Lange wys op die taalontginning: woordspel, kontaminasie, nuutskeppings, dubbelsinnig­hede, ars poeticas, die omdop van spreekwoorde, en herdigting van die volkse, en die herlewing van geykte frases.

’n Genoeglike debuut.

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.