Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Debuut vol biersessies en daggawalms dié . . .

Poësie

Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels

Kleinboer

Naledi, R240

Lesers van Kleinboer se romans Kontrei, Werfsonde en Hierdie huis het hom leer ken as ’n eiesoortige skrywer. Hy is by uitstek die beoefenaar van outo-fiksie, ’n letterkundige onderstroom waarin ’n skrywer sy of haar werk sterk outobiografies inkleur, maar dit as fiksie aanbied. Daarom glo lesers dat hulle volledig vertroud is met die skrywer se lewe en dus ook geregtig is om afleidings te maak en morele oordele te fel.

Verder is die taalgebruik in sy romans pront en dikwels kru, sy beskrywings soms grafies. Dis nie boeke wat sommer ligtelik ’n plekkie kry rondom leeskringe se jaarbeplanning nie. Nogal jammer.

Alles wat hierbo geskryf is, geld ook vir sy laat debuut as digter met Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels, wat onlangs as deel van ’n besige publikasieprogram van Naledi verskyn het. Die titel, en veral die voorblad se tong-in-die-kies-subtitel “Koffietafelboek vir ganjamense en ander fragmentlesers” berei ’n mens voor vir die aanslag: vol humor en ironie, biersessies en daggawalms en gedigte wat hulleself as fragmente kom aanbied.

Dis ’n lywige bundel. Daar is 92 gedigte, van wisselende lengte, waarvan ’n hele klompie geskryf is in ’n ongewone versvorm: 20 woorde. Die digter verklaar vroeg reeds daaroor:

verduur asseblief sy obsessie om soms

pseudogediggies

van presies twintig woorde te pleeg

al sy vingers

en tone kry name

dis net dat sy nie van die donkerblou hou/ wat sy vorige vrou jare gelede laat aanbring het nie

Ook hierin is daar ’n spel met die leser, want hoewel die oorgrote meerderheid van die gedigte sogenaamde ek-verse is, tree die ek-spreker in ’n klompie terug. Dan kyk die spreker objektiewer na die omgewing, maar veral na die spreker self. Soms word die persoon in die gedig “hy”, soos hierbo en vier of vyf ander gedigte, onder andere die knap “Winternag” (31), waaruit die volgende strofe kom:

die plafon lyk vir hom goed

niks skilfer nog af nie

dis net dat sy nie van die donkerblou hou

wat sy vorige vrou jare gelede laat aanbring het nie

In enkele ander gedigte is die persoon ’n “jy”, amper soos “ ’n mens’” waardeur die bekende dinge amper vreemd beleef word en die gewone ek-verteller lekker in die bek geruk word. Een van die bundel se klomp lekker gedigte, “Wit leuentjie” (84), behoort tot hierdie groep en begin só:

jy’t ’n wit leuentjie aan jou vrou afgesmeer

jou pragtige vrou met die konkawe

uiters soenbare voorkoppie

sê maar sy’s Pakistan/ want sy weerhou haar van alkohol

Albei hierdie laaste twee gedigte is nogal langerig en ek vind daardie groep oor die algemeen die bestes in die bundel. Een van die hoogtepunte is sonder twyfel “Pakistan en Indië” (60). Dit is ’n liefdesgedig wat soos volg begin:

vir teoretiese doeleindes

heet my vrou en ek

Pakistan en Indië

sê maar sy’s Pakistan

want sy weerhou haar van alkohol

Die digter werk op ’n pragtige manier hierdie metafoor uit rondom die betwiste Kasjmir-streek, maar met dié troos: “derduisende burgerlikes sneuwel nie / stede word nie platgevee nie” en hierdie slot, amper ’n gebed:

asseblief hou jou in

laat daar net kleingeweervuur wees

Kashmir Kashmir Kashmir slegs Kashmir

’n sagte antwoord keer die grimmigheid af

laat daar vrede wees en ons weer

na mekaar reik sonder visas

(Dis jammer oor die “visas” in plaas van “visums”, ’n paar sulke taalslordighede in ’n bundel wat juis voortreflik Afrikaans is, selfs met die tweede “nie” oorvloedig aanwesig!)

In hierdie gedigte leer die leser ’n moderne en bevryde Afrikaanse man ken (ouer as 60, lees ons), ’n ander soort boer in beton as waaroor Koos Kombuis sing. Dis nie ’n gemaksugtige of suksesvolle wêreld wat hy aan ons voorhou nie: Yeoville is nie juis die tradisionele ruimte waarin Afrikaanse digters hul gedigte plaas nie en die aard van die “gemengde” huwelik waarmee ons kennis maak, is allesbehalwe idillies. In die sweet van sy aanskyn (ook die titel van ’n pragtige gedig op bl. 30) , skryf hy, en sien ons hoe hy soos ’n anderste soort S.J. Pretorius of G.A. Watermeyer hier oorleef:

groot sukses ontwyk hierdie lotery-wiggelaar nog

daar is meer gruis as diamante en meer lug as sterre (“Beur”, 103)

Oorheersend is die verse in hierdie bundel ironies juis huis- of huislike gedigte, kleinburgerlik op ’n wyse wat ons eintlik nie meer sien of hoor nie. Maar daar is ’n egtheid wat daaruit spreek. Hier word daar nie doekies omgedraai nie: Die taal is dikwels befok, uitbeeldings rondom die liefde en die liefdesverhouding rou. Hier lééf daar mense, word gesuip en gerook, dwarrel die daggawalms, word die agtertuin ’n mini-woud en vleisbraai sowel ’n bevestiging as ’n ontvlugting. Babelas en jags word hier gemaklik bedmaats; Viagra en wensdenkery kuier saam.

dié is dalk geen digbundel nie/ net ’n obsessiewe gerondfok met woorde

Maar daar is ook ander temas. Die talle aanhalings uit of verwysings na die Bybelse wys waar die skrywer se diep wortels lê; herinneringe aan jeugkontreie duik elke nou en dan op. Daar is ’n klomp goeie, sterk gedigte (of soms net fragmente, toegegee) rondom die skryfdaad – soms ook optelgedigte soos “7 x 6 = 42” (58), byvoorbeeld, wat op sy ironiese en humoristiese wyse ’n pragtige ars poetica is waarin die digter skryf:

dié is dalk geen digbundel nie

net ’n obsessiewe gerondfok met woorde

Humor, ook rondom taal: Dit is die wondergom waarmee Van my beste vriende is groen pyltjies en bruin bottels bymekaargehou word, sodat ’n mens uiteindelik maklik die swakker gedigte (die fragmente, waarskynlik, waarvan Kleinboer op die buiteblad praat) vergewe en sommer gaan vergeet. En die eiesoortige 20-woord-versvorm tel nogal onder hulle . . .

’n Belangrike en lekker debuut, juis al is dit laat. Maar, soos die waarskuwing by beeldmateriaal lui: Die inhoud van hierdie bundel mag sensitiewe lesers ontstel.

Fanie Olivier is ’n digter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.