Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Debuutskrywer gooi es met ’n Zola in sy misdaadroman

Johan Jack Smith se debuutroman, Zola, oor ’n moordenaar met ’n rooi minibustaxi, het as ’n draaiboek begin. Hy sal steeds die verhaal op die skerm wil sien afspeel, maar hy reken met ’n boek kan hy baie meer verdoesel, wat op skerm dadelik te veel sou verklap het. Hy het met AJ Opperman gesels. 

Die skrywer en digter Johan Jack Smith het sy debuutroman, Zola, as ’n draaiboek vir die akteur Gérard Rudolf begin skryf.

Trouens, hy sal dié verhaal oor ’n moordenaar met ’n rooi minibustaxi steeds as ’n reeks wil sien.

Smith kry die meeste van sy idees uit rolprente.

Johan Jack SmithFoto: André Badenhorst

In Zola, uitgereik deur Penguin, teiken ’n moordenaar meisies wie se liggame hy skend en vreemde kodes daarop uitkerf.

Die roman se titel verwys na minibustaxi’s wat jare gelede na die vinnige Suid-Afrikaanse atleet Zola Budd vernoem is.

“Ek skryf nogal filmies,” sê Smith, redakteur van die ATKV se tydskrif Taalgenoot en uitgewer by Wenkbrou, ’n druknaam van Lapa.

“Ek sien als in my kop asof dit ’n rolprent is. Iemand het vir my gesê die boek herinner sterk aan (die fliek) Seven. Die stad en dit reën die heeltyd en dis koud. En daar was een van die oorspronklike tonele aan die einde van die boek waaroor iemand vir my gesê dit is te veel Seven, toe het ek dit verander.”

Hy wou die stad Johannesburg ook in die roman ’n persoonlikheid gee.

Tog sê Smith ’n mens kan met ’n boek meer inhoud wegsteek wat op die skerm dadelik te veel sou verklap het.

“Ek probeer dit so realisties moontlik skryf. ’n Mens probeer maar jou politieke klimaat en daai klas van goed inwerk.”

Hy wou nie net ’n standaard-spanningsverhaal skryf nie.

“Ek dink baie mense wil ’n boek in boks plaas: ‘Dit is ’n speurroman en dit en dat moet gebeur.’ Ek dink nie noodwendig so nie. Jy kry twee lesers: die een wat van die agtergrondstorie hou en diegene wat nie daarvan hou nie. Ek wou al die agtergrondinligting en die bykomende stories inwerk.”

Zola deur Johan Jack Smith.

Hy praat oor die idee agter die minibustaxi en verwys na die boek Ek het gemartel deur Elaine Bing wat deur Lapa uitgereik is.

“Sy het onderhoude met drie oudpolisiemanne gevoer wat aan posttraumatiese stres ly. Een van hulle het gesê hy het in townships gewerk en hy het informante opgelaai en met hulle gepraat. Toe het hy gesê dit raak te moeilik om hulle elke keer stasie toe te neem. Toe kry hy vir hom ’n bussie. Hy het die bekleedsel binne uitgehaal. Daar was ’n stoel in die middel en die persoon is geskok. Daardie goed het regtig gebeur.”

Hy praat ook oor die 2004-rolprent Highwaymen.

“Dit was oor ’n ou wat mense doodgery het met sy motor. Hy was ’n parapleeg en hy het sy kar in ’n moordmasjien omskep.”

Smith het in die algemeen nie gehuiwer oor die inhoud van sy roman nie.

“Waaroor ek skrikkerig was, is die politieke dinge. Daar is baie spanning tussen wit en swart. Daar is uitlanders. Niemand hou regtig baie van mekaar nie. Dis moeilik om ’n swart karakter te skryf as jy wit is. Daar is een karakter, Majola, waarmee ek myself baie speling gegee het. Hy is aangeneem, is Afrikaans grootgemaak en was in die Laerskool Louw Geldenhuys. Hy het ’n Afrikaner-agtergrond en later volg die Zoeloe-agtergrond. Ek het hom albei wêrelde laat ervaar. Hy is die minste rassisties van die karakters. Hy is ook redelik liberaal daarby.”

Smith se ondervinding in die media het ook tot die skryf van die boek bygedra.

Daily Sun het ’n groot verskil gemaak. Majola is geskoei op een van my kollegas toe ek daar gewerk het. Die geskiedenis van Alexandra, dit kom van Daily Sun af. Daar is eintlik net een bladsy in die koerant wat oor die tokkelos, zombies en sulke goed handel. Die res van die koerant gaan oor wat in die townships gebeur: die moorde, die armoede, die korrupsie. Dit het beslis ’n rol gespeel in ’n mens se uitkyk.”

Tot dusver ontvang Smith goeie terugvoering van lesers.

“Daar is baie mense wat sê die boek los hulle nie. Die lesersindrukke is vir my baie cool. Hulle sê wat hulle geniet en wat hulle pla.

“Hulle sê hulle kyk anders na rooi taxi’s . . .”

* Zola is deur Penguin uitgereik en kos R265.

Meer oor:  Penguin  |  Atkv  |  Taalgenoot  |  Johan Jack Smith  |  Zola Budd  |  Letterkunde  |  Minibus-Taxi  |  Boeke  |  Zola  |  Digter  |  Flieks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.