Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Delf diep in psige van ’n monster

Waremisdaad- en krimiliefhebbers sal gaande wees oor ‘The Profiler Diaries’, skryf Stefaans Coetzee.

The Profiler Diaries: From the Case Files of a Police Psychologist deur Gérard Labuschagne. Uitgewer: Penguin Random House. Prys: R290.

’n Mens verstaan waarom krimiverslaafdes en aanhangers van waremisdaadreekse soos Criminal Minds en Manhunt reikhalsend uitgesien het na die profileerder prof. Gérard Labuschagne se The Profiler Diaries. Die boek het reeds in die herfs verskyn en verkoop sedertdien soos soetkoek.

Labuschagne, wat in 2001 by die bekende dr. Micki Pistorius oorgeneem het as hoof van die SAPD se eenheid vir ondersoekende sielkunde (en in Maart 2016 uitgetree het), het in sy loopbaan immers 110 reeksmoorde, meer as 200 reeksverkragters en verskeie hoëprofielsake soos dié van Oscar Pistorius, Henri van Breda, Don Steenkamp, Inge Lotz en Leigh Matthews help ondersoek.

Omdat dit so ’n lang en roemryke loopbaan is, en omdat ons almal weet sensasie verkoop, het ek ’n kitssamevatting soos Pistorius se Strangers on the Street: Serial Homicide in South Africa (2012) of ’n keur van al Labuschagne se mees sensasionele sake verwag. Of sou hy dalk in die voetspore van meesters soos John Douglas en Ann Rule volg en in elke boek op ’n ander reeksmoordenaar fokus?

The Profiler Diaries is in die eerste plek ’n persoonlike reis waarin Labuschagne sy pynlik eerlike aanslag gebruik om die leser ál dieper in elke verhaal in te trek. Hy ontleed ook slegs vyf reeksmisdadigers – nie noodwendig die heel berugste nie – wat om verskillende (persoonlike) redes vir hom uitstaan.

Labuschagne draai deur die loop van die boek heelwat mites oor reeksmoordenaars op hul kop.

Hulle is: Jose Da Silva, oftewel die Rossway Quarry-moordenaar, wat so woedend was vir ’n binneversierder wat hom soos ’n seuntjie laat voel het dat hy haar met ’n byl vermoor het; Richard Jabulani Nyauza, wat 16 vroue in die Olievenhoutbosch-omgewing vermoor het; en die Muldersdrift-reeksverkragter, die selferkende mansprostituut Shavani Lazzy Phophi, wat eers ’n sewejarige meisie met ’n mes aangehou en verkrag het voordat hy drie jaar later sy skrikbewind as reeksverkragter begin het.

Die vierde geval is die Brightonstrand-bylmoordenaar, oftewel die voormalige Blou Bul-rugbyspeler Phindile Joseph Ntshongwana, wat in 2011 in minder as twee weke vier mense met ’n byl doodgekap het voordat die polisie hom kon vastrek. Laastens is daar ’n keisersnee-ontvoering, iets waarmee ondersoekbeamptes en profileerders baie selde te doen kry, maar Labuchagne het in sy loopbaan sowaar drie sulke keisersnee-ontvoerings ondersoek. Die geval in die boek gaan oor die 32-jarige Loretta Cook van Toekomsrus wat maande lank voorgegee het sy is swanger en selfs ’n doktersbrief daaroor vervals het.

Minder as ’n maand later het sy haar vriendin Valencia Behrens se voete vasgebind en haar baarmoeder met ’n lem uitgesny. Valencia het gesterf, maar babaHope het oorleef met ’n letsel op haar kop waar die lem haar raakgesny het.

Weens ruimtebeperking is dit onmoontlik om hier oor al die fassinerende aspekte van elke saak uit te brei, maar Labuschagne draai deur die loop van die boek heelwat mites oor reeksmoordenaars op hul kop. Reeksmoordenaars is byvoorbeeld nie kranksinnige genieë of die betowerende psigopate wat ons in rolprente leer ken nie. Dit neem ’n reeksmoordenaar gemiddeld twee uur om elke slagoffer te vermoor, skryf Labuschagne – as so iemand dus 16 mense doodmaak, is dit slegs 32 uur van sy lewe. Die res van die tyd hou reeksmoordenaars hulle besig met alledaagse dinge. Verskeie IK-toetse waaraan Labuschagne reeksmoordenaars onderwerp het, toon ook die meeste val binne die “normale” skaal. Hy noem op bl. 60 dis snert dat ’n smeersel Vicks onder jou neus die reuk van die dood kan verdoesel – daardie reuk kleef aan jou lank nadat jy die lykshuis verlaat het.

Waremisdaad- en krimiliefhebbers sal gaande wees oor The Profiler Diaries omdat ’n mens hier heelwat meer uitvind as waaroor die koerante ooit geskryf het. ’n Mens kan maar net hoop dat nog boeke uit Labuschagne se pen sal volg. Tot dan kan lesers gerus die profiel “Profiler Africa” op YouTube, Soundcloud, Instagram, Facebook en Twitter volg.

* Stefaans Coetzee is medeskrywer van Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding en Suiker Britz: Dossier van ’n speurbaas wat albei in 2019 verskyn het.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.