Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Deon Meyer: ‘Ek weeg nog elke woord’

Donkerder kan dit nie in Deon Meyer se jongste roman, Donkerdrif, nie. Vanjaar was ook vir die blitsverkoper-skrywer ’n moeilike jaar, al kon hy meer skryf, het hy aan Mariana Malan gesê.

Die skrywer Deon Meyer

Bennie Griessel sal nie incognito iewers kan rondloop nie. Veral nie in Stellenbosch waarheen sy jongste speurtog hom neem nie. Deon Meyer woon hier en sal Griessel herken as hy hom op straat sien.

“Ek weet hoe Griessel lyk,” sê Meyer. “Ons twee loop al lank saam.”

In Meyer se jongste speurroman, Donkerdrif, bevind die Valke-speurders Griessel en Vaughn Cupido hulle in die studentedorp. Donkerder kan dit nie vir die twee nie, behalwe miskien as hulle na Laingsburg gestuur word. Hulle is geskors, verneder, sonder aansien en moet skynbaar onbenullige werk doen. Maar met Meyer aan die stuur, pas die stukke van die legkaart gou in mekaar vir ’n geskakeerde prent van gierigheid en onderduimsheid.

Hy het al ’n geruimte tyd planne vir hierdie roman gehad, sê Meyer.

“Ons het so nege jaar gelede ’n huis in Stellenbosch gesoek. Toe al het die mededinging in die eiendomsmark, rugstekery en agente, dikwels vroue, wat alleen mense na leë huise moet neem, as ’n moontlike storie vasgesteek. Die meeste stories begin met een gedagte en later pas ander gebeure daarby in.”

In Donkerdrif kom die moord op ’n polisie-offisier, geheimsinnige briewe, diefstal van wapens uit polisiebewaring, korrupsie, die verdwyning van ’n student, korporatiewe swendelary en gierigheid aan die bod. Nuus van onlangs en van die dag kry plek in ’n nuwe gedaante.

Ons het so nege jaar gelede ’n huis in Stellenbosch gesoek. Toe al het die mededinging in die eiendomsmark, rugstekery en agente, dikwels vroue, wat alleen mense na leë huise moet neem, as ’n moontlike storie vasgesteek. Die meeste stories begin met een gedagte en later pas ander gebeure daarby in.
Deon Meyer

Die meeste van die gebeure speel in Stellenbosch af en daar is af en toe ’n stekie na die dorp en sy inwoners.

“Onthou dit kom uit die oogpunt van die karakters, nie van my kant af nie. Ek is mal oor Stellenbosch, maar ek weet dat die wêreld anders vir ander mense lyk.”

Terwyl die meeste mense nog nie op die hoogte van Griessel se jongste avontuur is nie, is Meyer se roman Koors (2016) tans weer groot nuus. Hy was pas in die Karoo vir ’n dokumentêr saam met ’n Franse rolprentspan vir die Franse en Duitse kunsteprogram Artè om te gaan kyk waar die gebeure in die destydse ysingwekkende toekomsblik afspeel.

Veral nou met die hele Covid-19-pandemie is alles net te na aan die werklikheid. Koors se vertalings het gou in verskeie oorsese lande op hul topverkoperslyste opgeskuif.

“Ek het gedink Koors het al gaan rus. Toe kom daar skielik versoeke van Mexiko, Korea en selfs Japan vir die boek. Dis selfs nou onder opsie vir ’n rolprent uit die buiteland.”

Die omslag van Deon Meyer se jongste misdaadroman, “Donkerdrif”.

Ondanks sy suksesvolle loopbaan as skrywer, het hy nie 26 jaar gelede gedink hy sou heeltyds kon skryf nie. Ook nie dat sy romans in meer as 20 tale gelees sou word nie.

“My eerste roman, Wie met vuur speel, het swak verkoop. Ek het deeltyds geskryf en ek het nie gedurf droom dat ek ’n loopbaan as skrywer sou kon bou nie. Ek het heeltyds gewerk en het soggens van vieruur af en oor naweke geskryf.

“Ek het mense gevra, nee gesmeek, om my raad te gee. My agtergrond as verslaggewer het my sterk gemaak. Ek het dit aanvaar as strepe deur my werk getrek word en dat daar leemtes in my werk sou wees. Ek het raad omhels en vrede gemaak daarmee dat ek sou moes herskryf. Ek het altyd onthou dat minder as 1% van mense wat wil skryf, ’n loopbaan daarvan kan maak. Ek het moed geskep as ek hoor van groot skrywers wat eers meer as tien boeke geskryf het voordat hulle bekend geword het.”

Hy weet daar is nie ’n kitsresep vir sukses nie. Hy het algaande geleer. Die raad wat hy vir beginners het, is dat die storielyn goed en die karakters geloofwaardig moet wees. Sy eie goue reël is: Respekteer jou leser en doen jou huiswerk.

“Navorsing gee daardie geloofwaardigheid. Dit vat net een persoon om te sê ‘nee o hel, dit werk nie so nie’ en hy vertel vir sy pelle hierdie ou skryf oor dinge waarvan hy niks weet nie en die boek is gekelder.”

Wanneer hy oor ’n plek skryf, gaan hy “strate toe”. Hy loop rond, neem foto’s en maak seker dat as daar iets dramaties moet gebeur, sal dit werk. Hy plaas die foto’s op sy webblad sodat mense kan sien waar gebeure afspeel.

Wanneer hy oor wapens skryf, doen hy baie navorsing.

Om deeglik oor die polisiemag te kan skryf, moes hy al baie ure in polisiekantore deurbring. Hy moet die atmosfeer voel, hoor hoe die mense met mekaar praat, sien hoe prosedure werk.

“Aanvanklik was dit nie maklik nie. Daar was agterdog. Dit het ’n hele paar boeke gevat om vertroue te wen. Ek wou met respek omgaan met die mense en die omstandighede waarin hulle werk. Die lekkerste terugvoering wat ek kan kry, is wanneer polisiemanne vir my sê: ‘Jy het dit reggekry.’ ”

Om deeglik oor die polisiemag te kan skryf, moes hy (Meyer) al baie ure in polisiekantore deurbring. Hy moet die atmosfeer voel, hoor hoe die mense met mekaar praat, sien hoe prosedure werk.

Sukses met speurromans het tot draaiboeke vir rolprente en televisiereekse gelei. Een daarvan, Trackers, is tans op Showmax te sien en Meyer verklap dat vir ’n tweede seisoen voorberei word. Dit is in samewerking met ’n Duitse maatskappy gemaak en word regstreeks in Duits oorgeklank.

Daar is belangstelling vir minstens drie van sy romans vir rolprente.

Hy het reeds begin navorsing doen vir nog ’n “Bennie-boek”.

Afgesien daarvan om ’n skrywer te wees, is nog een van sy wense bewaarheid. Hy sing ’n duet op die nuwe album van een van sy gunsteling-kunstenaars.

“Ek het jare gelede vir Lize Beekman gesê ek wil eendag graag saam met haar sing. Sy laat weet my toe onlangs daardie eendag is nou.”

Meyer het die lied “Oase” vir sy vrou, Marianne, geskryf en Beekman het dit getoonset. Dit is op die album Hier en nou wat op 7 November – twee dae ná die bekendstelling van Donkerdrif – uitgereik word.

“Dit was ’n eienaardige jaar. Ek het baie tyd gehad om te skryf, maar dit het nie beteken dat ek nie gesukkel het nie. Ek weeg nog elke woord, elke paragraaf en elke hoofstuk. Maar aan die einde is die lekkerte daar. My woorde staan in ’n boek.”

Meer oor:  Trackers  |  Showmax  |  Staat Van Inperking  |  Koronavirus  |  Inperking  |  Koronaviruspandemie  |  Covid-19  |  Valke  |  Covid  |  Covid-19-Pandemie  |  Pandemie  |  Koors  |  Bennie Griessel  |  Donkerdrif  |  Boeke  |  Deon Meyer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.