Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Deon Meyer pak die Groot Dors, gierigheid

Fiksie

Donkerdrif

Deon Meyer

HUMAN & ROUSSEAU, R320

Die liefde doen Deon Meyer goed.

Kyk hom ’n bietjie so oor die jare daar waar hy op die agterblad van sy boeke se flapteks die leser reguit in die oë kyk.

Hier by Kobra rond in 2013 leun hy in swart geklee amper strak vorentoe op die een skouer, die een hand op die ander gevou. Dieselfde houding is daar by Ikarus (2015) en Koors (2016), maar met die kleinste sweem van ’n glimlag.

Dan skielik met Prooi (2018) het Meyer ’n groen gholfhemp aan en ’n blouraambril en daar tussen die grys van die bokbaard ’n amperse behoorlike glimlag. ’n Mens wonder onwillekeurig: Wat het met die man gebeur?

’n Geleefde kwesbaarheid en die Groot Dors speel natuurlik ’n rol, maar Griessel se oë verklap iets . .

Natuurlik, vir dié wat weet geen verrassing nie, is Meyer se muse, die vlieënde Marianne (soos hy dikwels na haar op Facebook verwys), die rede vir die verdwyning van daardie ander kêrel.

Met Donkderdrif, Meyer se jongste Bennie Griessel-boek wat netsowel as ’n Vaughn Cupido-boek beskryf kan word, is die agterblad ten volle Meyer merk II: charm offensive; hartlik; oop.

Soos Bennie Griessel in Donkerdrif met ’n hangende verhoor oor sy en Cupido se kop sê oor wat dit vir hom beteken om ’n speurder te wees (“Want my huis, Vaughn, is om ’n speurder te wees. Dis waar ek bymekaar kom.”), só is dit vir Deon Meyer as skrywer: Hy is presies waar hy moet wees.

Dis ook nie toevallig dat die studentedorp Stellenbosch en die juweel der juwele van plekke, Jonkershoek, amper eie karakters in Donkerdrif is nie.

Die vlieënde Marianne skiet gereeld met haar bergfiets daar by die Lanzerac-landgoed verby, verby die ou geld, nuwe geld, mense wat so graag deel van die kliek wil wees hulle sal hul siele daarvoor verkoop, tot doer bo onder die Pieke en die netwerk kurktrekkerpaadjies.

Wat Meyer met Bordeaux gedoen het in Prooi, doen hy met Stellenbosch in Donkerdrif. Die dorp en sy mense praat; die verskillende woonbuurte word raak beskryf; die inkommers, die dorpenaars, die universiteit. “Volvoville, pappie,” sê Cupido.

Die storie, kortliks:

Griessel en Cupido moet op ’n afstand die koelbloedige moord van ’n senior SAPD-offisier by die Kaapse Waterfront ondersoek wat dalk verband hou met staatska­ping en korrupsie in die polisie. “Op ’n afstand”, want hulle moet terselfdertyd ’n dissiplinêre verhoor oorleef en boonop soek na ’n ontvoerde student en ’n skat­ryk vermiste korporatiewe swendelaar.

Jasper Boonstra, die voormalige uitvoerende hoof van die maatskappy Schneider-König, word beskryf as die grootste korporatiewe swendelaar in die geskiedenis van die land.

“Sy bedrog was só ingewikkeld, só verstrengel in tallose transaksies en vernuftig-verweefde spinnerakke van newe- en skadumaatskappye en versteekte bankrekeninge dat hulle vermoed daar is nie ’n span staatsadvokate of polisielede in Suid-Afrika met die kundigheid en ervaring om dit alles te ontrafel nie.”

Boonstra is ’n fantastiese smerige karakter, ’n opperste grilbal met ’n reuse-chip op sy skouers. Maar, herinner die skrywer ’n mens: “Die karakters in die boek bestaan net in die skrywer se verbeelding.”

Met sy plat-op-die-aarde-vrou, Lettie, wat die verleentheid moet verduur en ’n Franschhoekse skelmpie eers ter syde, stel Boonstra sy visier op Sandra Steenberg, ’n sensuele, desperate eiendomsagent. Om haar huwelik, loopbaan en lewe te red, loop sy by die leeu se bek in Jonkershoek in. Hy wil eiendom wat nie op sy naam is nie van die hand sit én hy wil sy hand duidelik elders ook speel . . .

Meyer het al sterk vrouekarakters in van sy Bennie Griessel-dossiere gehad – ek dink hier onder meer aan (deesdae kolonel) Mbali Kaleni – maar Steenberg bring ’n ander dimensie: Haar taksering van Griessel laat die leser op ’n heel nuwe manier na die speurder kyk.

’n Geleefde kwesbaarheid en die Groot Dors speel natuurlik ’n rol, maar Griessel se oë verklap iets . .

’n Geleefde kwesbaarheid en die Groot Dors speel natuurlik ’n rol, maar Griessel se oë verklap iets . . . die ingewyde leser weet dit, maar Steenberg nie: Moenie dié man op sy baadjie takseer nie.

By dit alles moet die twee (voormalige) Valke hul tyd staan en mors met ’n studentjie wat skynbaar ná ’n naweek se gefuif tussen neus en ore verdwyn het . . . maar ís dit ’n mors van tyd?

Om nie eens van die speurders en hul geliefdes te praat nie: Vaughn, wat voel hy boks behoorlik bo sy gewig om die guns van Desiree, en Bennie en Alexa en die troudatum.

Van die lekkerste dialoog kom in geen verrassende wending nie uit die mond van die flambojante Cupido, wat in Donkerdrif ’n eiesoortige stryd stry waarby heelwat lesers sal aanklank vind.

In die vuurwarm, knetterende openingstoneel, waar die leser diep moet asem skep om by te bly, som Cupido die situasie raak op: Dis ’n “clusterfuck of majestic proportions”. Met ’n enkele uitsondering waar ek reken die Afrikaans te keurig is met die sprong tussen tale, is Cupido se dialoog werklik loutere plesier.

Soos die roman begin, met ’n hupse tempo, so eindig dit, met breë kwashale in die middel vir die storielyn en elke karakter en prosedure sorgvuldig nagevors. . . Stellenbosch-SAPD se oggendparade gons waarskynlik nou nog oor Meyer se teenwoordigheid.

Ek wonder dikwels oor tydsaanduidings in spanningsfiksie: hoe geslaagd is dit? Doen die leser tog die moeite om heen en weer, terug, te blaai om te kyk wanneer wat gebeur het? Wat is die doel hiervan?

Met Donkerdrif het dit vir my gewerk. Die tempo is eers in stadige maande, later ’n korter tydsverloop; dan dae, en eindelik: ure. Spanning en geloofwaardigheid is voorop.

Solank die krake in die mondering van die karakters wat die swaarste las dra, net hou . . .

Donkerdrif is vintage Deon Meyer.

Jo Prins is ’n boekeredakteur en vryskutjoernalis van Johannesburg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.