Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Derde bundel is Marais op sy beste

Al is dit dalk nie so verrassend óf toeganklik soos sy eerste twee bundels nie, bevat Loftus Marais se langverwagte derde bundel, ‘Jan, Piet, Koos en Jakob’, sy beste werk tot dusver, meen Charl-Pierre Naudé.

Loftus Marais foto: Alet Pretorius

Jan, Piet, Koos en Jakob deur Loftus Marais. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R250.

Loftus Marais het in 2008 die Afrikaanse digkunstoneel stormgeloop met sy debuut, Staan in die algemeen nader aan vensters, en in 2011 volg hy dit op met Kry my by die gewone plek aguur waarin hy die narratiewe strekking van sy verse verder voer.

Hy is die ontvanger van vyf literêre pryse, onder meer die Eugène Maraisprys vir debuutwerke, die Ingrid Jonkerprys en die UJ-prys vir skeppende debuutwerk.

Die enigma van die twee vorige titels word verbygeskiet met Jan, Piet, Koos en Jakob, ’n “ondigterlike” titel, maar juis daarom so vars soos ’n vis op die vensterbank.

Dié derde bundel bevat ’n mengsel van vertellende verse en verse wat fokus op die meer stilstaande maar uitgesponne liriese moment. Dit bestryk die intense maar afstandelike gewaarwordinge van ’n gay man in sy lewensfleur wat om die beurt in twee stede, Johannesburg en Kaapstad, woon.

‘So vars soos ’n vis op die venster-bank.’

In ’n sin is hier ’n terugkeer na die meer tradisionele digtrekke van die eerste bundel, maar dit skiet ook teen onverwagte skuinshoeke uit: “Filosofiese” verse (“Name” of “Janus”) en ars poeticas (“Jakob Stoeier” en “Bloukoos”), maatskaplik betrokke gedigte, en verse oor kunstenaars (“Die bosveldbome van Jacobus Hendrik Pierneef”) kom onder meer voor. Daar is ook gedigte wat funksioneer soos fyn portretstudies, soos “Piet Pixel”, of “Jakobregop/ Jakopslap” oor ’n vrou se innemende obsessie met penisse.

Die aard van die titel verskaf die vernaamste sleutel. Die name in die titel kom voor in woordverbindings en dui nie net op figure met daardie name nie, maar op voorwerpe, situasies en taferele wat met dié name en hul afleidings getipeer kan word. Daar is byvoorbeeld “Koos”, wat gaan oor die gedagtes van ’n kamerpot wat graag ’n beter lewe wil hê. “Jan Bantam” gaan oor ons kordate ou sonnetjie, en “Piet Pixel” oor ’n trans-Atlantiese liefdesmaat wat die heeltyd op Skype wil vries.

As die mens se mees vasstaande opvattings wesenlik metaforiese strukture is, sonder dat ons dít altyd in gedagte hou, kry ons in hierdie bundel ’n opsetlike “metaforologie” van die hedendaagse bestaan: ’n heerlik grillige tekening en vertekening van lewensvorme wat baie verrassend en gelyktydig verteenwoordigend oorkom. Dit is alles ’n ineengeskakelde tafereel van kleurryke ontluistering.

Die verse is by tye snaaks, navrant, mymerend en ontledend. Ja, daar is dié slag iets forensies aan Marais se gedigte, wat die leser vra om nie die oogopslag van dinge te vertrou nie. Die “oom” in die Virgin Active-stoomkamer, wie is hy régtig? En die sportheld met wie pas op TV ’n onderhoud gevoer is, waarom loop hy daarna weg met ’n “traagheid in sy heupe”?

Die anti-estetiese element staan in funksionele spanning met die estetiese element. Tematies is dit die beste te sien in die baie sterk gedig “Ware Jakoba”, waar ’n besonderheid soos ’n selfoontoring wat soos ’n boom “opgetert” is, kontrasteer met iemand wat by die lughawe uitloop in ’n reënbui in groen Kaapland.

Dit is ook te sien in die suksesvolle afwisseling van sterk metriese reëls met effens strompelende ritmes, laasgenoemde wat die lukraakheid van hedendaagse ervarings vergestalt.

Dieselfde spanning word ook gesien in die bundel se opset. Die eerste en laaste gedigte handel oor meesternarratiewe, die eerste oor ’n Jakob wat met die engel stoei (die skrywende digter), die laaste oor ’n goties verbeelde Lucifer, oftewel Bloukoos, wat soos ’n begrypende vader óók sý “kinders” se name in ’n boek wil opteken . . . Dit is van die sterkste verse in ’n baie sterk bundel, maar vele gedigte tussenin is intense belewenisse van die verbygaande, die weggooi-moment en die klein narratief.

Op die vlak van die beeld voltrek hierdie spanning sigself deurgaans, byvoorbeeld in die “nie-boeket van uitlaatgasse”, of die “kettingsaag as eerlike viool”.

Op die vlak van emotiewe taalkrag vind jy die genoemde spanning in byvoorbeeld die evokatiewe beskrywing van ’n Pierneef-boom as ’n “comb-over oor die verlatenheid”. ’n Comb-over is ’n modieuse manier vir mans om hul hare te rangskik om die kalerige plekke toe te maak. Sodoende word die laat Victoriaanse veldskilder ’n onderafdeling van die eietydse klublewe!

Op die metafisiese vlak ontluister verskeie gedigte die religieuse idee van ’n beplande universum, maar nie met minder respek nie. In “Janolus capensis” word die digter stom gelaat deur ’n “nuttelose” seeslak. Die wyse waarop dié beeld-observasie oorgaan in ’n vergestalting van die idee van grammatika, alles op die vlak van beelding, is sprekend van die intellektuele onderbou wat vele van die gedigte en veral die bundelverband toon.

Die manier waarop die digter woorde kombineer is spreektalig maar klassiek verplooi: Die geluid van die piet-my-vrou is ’n “wat-de moer andante”, en ’n dunbeenspinnekop word baie treffend beskryf as “ ’n knaksel mensevrees” wat “swemerig soos waterskade” beweeg.

Vergelyk die leser byvoorbeeld “Vader Jakob” en “Ware Jakob”, sien jy iets van die bundel se vesel van bindende leitmotiewe. Hier is dit die idee van die mens wat getoets word, ’n Bybelse tema is dit, maar een wat nuwe gedaante kry in hedendaagse populêre kuns en rolprente. Heelparty gedigte lewer intelligente kommentaar op die Afrikaanse digtradisie.

Hoewel die toeganklikheid van Marais se tweede bundel en die onoortroffe verrassingselement van sy eerste ontbreek, is dié derde bundel, oorkoepelend gesien, Marais se beste werk tot dusver.

Die segging is meer kompleks en genuanseerd. Die vervlegting van registers skep groter veelduidigheid. Maar baie van die gedigte moet ’n hele paar maal gelees word voordat jy hulle volheid snap. Onder my gunstelinge tel “Janolus capensis”, “Rooikoos”, “Koos”, “Lys” en “Kostumering”.

Jan, Piet, Koos en Jakob is ’n digterlike tydsdokument waarvoor leesgieriges baie lank gewag het – en dis boonop baie aanskoulik uitgegee.

  • Charl-Pierre Naudé is ’n skrywer en digter van Johannesburg. Sy debuutroman, Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey, is onlangs met die UJ-prys bekroon en is op die kortlys vir die W.A. Hofmeyrprys vir Afrikaanse fiksie.

    Meer oor:  Jan  |  Gedigte  |  Piet  |  Resensie
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.