Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Diaspora-verhaal delf vreesloos in witheid

Azille Coetzee is filosoof, feminis én onderhoudende storieverteller wat in ‘In my vel’ die verbande tussen die persoonlike en die politieke vernuftig saamtrek, skryf Pieter Malan.

Azille Coetzee Foto: Jaco Marais

In my vel: ’n Reis deur Azille Coetzee. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R275.

Artikels, rubrieke en verhale van Suid-Afrikaners se ervaringe in die buiteland, hul worsteling met hul historiese identiteit terwyl hulle probeer aanpas en inpas by ’n nuwe omgewing is volop.

Hierdie resensent het hom al self skuldig gemaak aan dié genre en sonder twyfel sy lesers eindeloos verveel met rubrieke en skryfsels uit die vreemde wat almal dieselfde paadjie snuiftrap. Dis ’n eenvoudige resep: rugby, biltong, ’n verlange na sonskyndae en Chevrolet. Pas die beeld aan na gelang van land en seisoen, verpak alles in die vorm van ’n brief aan jou oorle’ ouma en Bob’s your uncle. As die tannie in Ventersdorp se ouetehuis nie ’n traan wegpink uit verlange na haar kleinkinders in Sydney nie, is sy ’n klip.

Dis waarom ’n mens Azille Coetzee se In my vel: ’n Reis met meer as ’n ligte beklemming van die hart bed toe neem. Sy verklaar immers reeds op die agterblad: “Ek is in Amsterdam om ’n Ph.D. aan die Vrije Universiteit te doen. Ek het ’n visum en ’n beurs vir 22 maande, maar het reeds besluit dat ek vir ewig hier wil bly.”

Spaar my dit.

Die vrees was verniet. Coetzee, slim filosoof wat sy is, neem haar leser op ’n intelligente reis oor wat dit beteken om Suid-Afrikaner in Europa te wees – sonder om haarself ooit te ernstig op te neem.

Reeds vroeg identifiseer sy met ’n sekere soort Suid-Afrikaner in Nederland, ’n groep wat “aanhou voel dat hulle besig is om ’n ideale lewe op te voer, terwyl hul regte lewens êrens anders vir hulle wag. Op ’n ander kontinent, in ’n ander land, ’n plek met meer sonskyn, of terug in Suid-Afrika miskien. Hierdie Suid-Afrikaners het ’n eensaamheid wat rondom hulle hang, ’n vae aura van melankoliese onbestendigheid.” (bl.23)

Sy is dus goed bewus van die eksistensiële gevare van haar missie, maar werp haarself nietemin heelhartig in die bereiking van haar einddoel: “om vir ewig hier te bly”.

Die welbekende elemente van so ’n diaspora-narratief is ook hier teenwoordig. Die kulturele vreemdheid. Die verwarrende verskille tussen Afrikaans en Nederlands. Die verlange na ’n “egte” braai of ’n partytjie waar vriende saam met vriende om ’n tafel sit en nonsens praat, eerder as om om mekaar te sirkel soos skouperde wat probeer aandag trek.

“Wat het geword van lekker sit en kuier? Die Nederlander interpreteer hierdie besware van my as outyds, of kleinburgerlik, of iets.” (bl. 88)

Mindere skrywers sou in die proses maklik verlore kon raak op nostalgiese afdraaipaadjies na nêrens, maar Coetzee hou daai sunnyskaais Chevrolet sekuur op die grootpad na haar eindbestemming met ’n onverdoeselde seksuele frisson terwyl sy haar pad na permanente Nederlandse verblyfreg . . . wel . . . oopvry.

Die uitgesproke feminis ontmoet uiteindelik haar Nederlandse beau by die openingsaand van ’n kunsuitstalling (bl. 83): “Sy hare is dik en staan half regop. Sy tande is effens skeef. Maar hy is mooi.”

En dan begin sy vernuftig en stelselmatig die kwessie van identiteit – en veral wit identiteit – ontleed. Sy delf vreesloos in witheid en wit skuld; vra haarself of ’n lewe in Europa nie maar net ’n gerieflike manier is om te ontsnap van jou eie bevoorregting nie. Dis bloot ’n lekker manier om weer anoniem en wit te kan wees, oplaas tuis in ’n land waar jy en jou wit vel onsigbaar ’n lid van die meerderheid kan wees.

Die kwessie word onder meer geïllustreer in die beskrywing van ’n gesprek met ’n Nederlandse vriendin, Noortje, wat vir ’n organisasie werk wat op vroueregte fokus. Noortje vertel van haar besoek aan Suid-Afrika en waarom sy nooit daar sal kan bly nie, “omdat dit vir haar te erg is as sy uiteet in ’n restaurant, en sy deur die venster kan sien hoe hawelose mense in die vullisdromme krap vir hul aandete. Sy weet nie hoe ’n mens met jouself leef as jy dit gereeld moet sien nie, hoe kan ’n mens dan nog enigsins wil uiteet? vra sy, oortuig daarvan dat ek, as nuwe inwoner van humanistiese en demokratiese Noord-Europa, dit heeltemal met haar eens is.” (bl. 105)

Coetzee wil met Noortje saamstem, maar iets krap.

“Ek dink aan die bergies in Kaapstad se strate wat juis op daardie oomblik, soos wat ek en Noortje aan ons tjips sit en smul, besig is om in die vullisdromme te krap vir hul aandete. Ons sien hulle nie, maar hulle is daar . . . Word ons kwytgeskeld net omdat ons hulle nie sien nie? Mag jy lekker en sonder skuldgevoelens uiteet solank jy die mense wat vanaand niks het om te eet nie, nie kan sien nie?” (bl. 105)

Dis ’n vatso-oomblik en kenmerkend van ’n intellektuele deeglikheid waarmee Coetzee die komplekse eietydse debatte oor kolonialisme en “wit skuld” takel. Wat haar onderkry, is uiteindelik nie net haar vriendin se valse skuldgevoel wat bepaal dit is oukei as die armes in dromme krap vir iets om te ete solank jy hulle net nie sien nie. Die meeste Europeërs ly daaraan, nie in staat om te sien hul eie rykdom en gemak is gebou op die uitbuiting van ander.

Dis ’n skuldgevoel wat dreig om haar ook te verteer, so erg dat die Nederlander hande in die hare uitbars: “Jy oorskat jou invloed en posisie in die wêreld as jy dink dis als jou skuld.”

So ver so goed.

Maar ongelukkig het die Hollander iets beet en raak Coetzee uiteindelik so verstrik in haar eie skuldgevoel dat sy gevaar loop om slagoffer te word van haar wit identiteit eerder as om die hele konsep te problematiseer. Dit raak pynlik duidelik as sy dit in een van haar laaste hoofstukke aanhef oor wit bevoorregting. Dié konsep kan dalk waarde hê om historiese magsverhoudinge te beskryf, te verstaan en selfs te kritiseer, maar wanneer dit gebruik word as wapen in die ideologiese klasse- en rassestryd van die hede is ons op die pad na die verderf. Of Bell Pottinger. Of albei.

Die leser word dus onwillekeurig gelaat met die gevoel dat Coetzee toelaat dat sy tot slagoffer gemaak word van die ideologie pleks daarvan om die teenstrydighede in die uitsprake van ander wat sy so treffend rapporteer, raak te sien en te ontleed, soos wat ’n mens van ’n goeie filosoof (en feminis) sou verwag.

Maar moenie dat dié kritiek van ’n siniese wit, manlike resensent (met al die kleinserighede wat daarmee gepaardgaan) jou afskrik nie.

Coetzee bly ’n vaardige en onderhoudende storieverteller wat vernuftig daarin slaag om die verbande tussen die persoonlike en die politieke saam te trek – al verskil jy ook van haar gevolgtrekkinge.

En wie het toe geseëvier? Die man wat vir haar so uitsonderlik mooi is met “sy lang lyf en seunsagtige voorkoms” (bl. 90) of een van die “manjifieke jong boerelywe” wat sy by Amsterdamse borrels raakdrink? Dit sou onverantwoordelik wees om haar geheim hier te verklap.

  • Pieter Malan is redakteur van Weekliks. Hy en sy gesin het self drie jaar in die buiteland deurgebring.
Meer oor:  Azille Coetzee  |  Resensie  |  Vel: 'N Reis  |  Wit Skuldgevoel  |  In My
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.