Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die Afrikaanse boek gedy
Die skrywer Deon Meyer met sy boek Koors.

Kyk ’n mens na die meer as 200 boeke wat in 2016 op die boekeblad van Die Burger, Beeld en Volksblad geresenseer is, sou jy nie sê ons ekonomie het net-net rommelstatus ontkom óf dat mense in sak en as is oor Zuma of “Nkaaaandla” nie.

Nee, misdaadfiksie gedy (goeie onderwerpmateriaal is daar waarskynlik heelwat . . .). Dieselfde geld poësie, romans en selfs niefiksie. Om nie eens van kinderboeke te praat nie – om die omvang van laasgenoemde behoorlik te dek, moet ’n mens omtrent ’n aparte bylaag uitbring.

Van die sowat 18 boeke wat onder die misdaadfiksieloep was, het ou hande na vore getree met sterk boeke, maar debutante het ook nie op hulle laat wag om munt uit dié gier te slaan nie.

Soetkoeke verkoop soos ’n Deon Meyer

Hoewel Deon Meyer se langverwagte roman, Koors, nie werklik as misdaadfiksie getipeer kan word nie, maar eerder ’n postapokaliptiese skrywe, het dit sy whodunnit-aanhangers glad nie van stryk gebring nie. ’n Mens sou waarskynlik voortaan kan sê: Soetkoeke verkoop soos ’n Deon Meyer.

Maar die gesprek rondom Koors was lekker en interessant. Stoere Bennie Griessel-aanhangers was effens bemoerd hier en daar. Ander het die boek verpes. Ánder (en sluit my gerus hierby in) was gek daaroor.

Dan was daar Rudie van Rensburg se jongste Kassie Kasselman-boek, Pirana, om jou tande in te slaan, sowel as Karin Brynard se Tuisland. Oor laasgenoemde het Cas van Rensburg geskryf: “Dis onteenseglik een van dié Afrikaanse boeke van die jaar, en nie net nog ’n misdaadstorie nie.”

Ook om te noem, is François Bloemhof se Doodskoot, Mike Nicol se Staatsrotte en, hier in die doodsnikke van die jaar, Chris Karsten se Die dood van ’n goeie vrou.

Op die romanfront

Op die romanfront is Afrikaanse lesers ook omtrent bederf.

Nou onlangs was daar John Miles se Op ’n dag, ’n hond (reeds in my tas vir die Kersvakansie), en dan boeke soos Tom Dreyer se Dorado, Johann Botha se Koukonap, Valda Jansen se Hy kom met die skoenlappers en Anneli Groenwald se Die skaalmodel. Ook Verlorenkop deur Celesté Fritze en Marinda van Zyl se Amraal is boeke om ingedagte te hou.

’n Boek wat Joan Hambidge in vervoering gehad het, was Ryk Hattingh se Huilboek. “Selde – indien ooit – het hierdie leser so ingesluk geraak deur ’n boek,” skryf Hambidge.

Wat historiese fiksie betref, is daar minstens twee boeke wat uitstaan: Marié Heese se Maestro en Dan Sleigh se 1795. Oor laasgenoemde het Thys Human geskryf: “Soos Eilande lewer 1795 ’n bewonderenswaardige en byna ongeëwenaarde bydrae tot historiese fiksie in Afrikaans.”

En dan die poësie waaraan daar skynbaar g’n keer is nie.

Waarskynlik die debutante-literêre happening van die jaar was die bekendstelling van Bibi Slippers se Fotostaatmasjien. As dié klein, geel boekie nie reeds ’n wegholwenner vir die Ingrid Jonker-prys is nie, is die ander aanspraakmakers Hilda Smits se die bome reusagtig soos ons was, asook die ewe indrukwekkende In die grot van die sibille deur Juanita Louw.

Ook op die poësie-verhoog het mense soos Breyten Breytenbach, Joan Hambidge, Johann de Lange, Ronelda Kamfer, Ilse van Staden, Lina Spies, Martjie Bosman en Susan Smith weer buigings gemaak – om maar net ’n paar te noem.

Die niefiksieaanbod

Soos verlede jaar het uitgewers geensins laat slaplê wat die niefiksieaanbod betref nie en meer as 60 titels het Boeke24 se blaaie gehaal.

Deon Maas se Melk die heilige koeie is in dié genre die varsste in die geheue, maar ook Elsabé Brits se omvangryke boek oor Emily Hobhouse, Geliefde verraaier. In sy resensie het Jean Meiring omtrent gesmul aan Brits se boek wat besonder mooi uitgegee is. “Geliefde verraaier is ’n heerlike les,” het Meiring geskryf. “Oor die noodsaak van geskiedenis. Oor die mag van die stroomop en oopkop individu.”

Marianne Thamm se Hitler, Verwoerd, Mandela and Me het vir dié leser ook uitgestaan, asook Wat die hart van vol is (die memoires van Peter Veldsman) en Springsteen se memoires, Born to Run. Danie Marais, ’n selferkende Springsteen-junkie, kon gewoon nie genoeg kry van dié boek nie.

En is enige jaar volledig sonder die verskyning van ’n Karel Schoeman? Vanjaar het Swanesang: Die einde van die Kompanjiestyd aan die Kaap, 1771-1795 verskyn. Ook by dieselde uitgewer Gerhardus Pool se Die Herero-opstand, 1904-1907 en pas op die rak Die VOC aan die Kaap.

Enkele dramatekste het ook hul weg na die boekeblad gevind (ek dink aan wyle Adam Small se Maria, moeder van God, Kristalvlakte deur Amy Jephta en Pieter Fourie se Postmortem) en ’n 11-stuks boeke gemik op geloof/leefstyl.

En dan, soos die dominee altyd met die bediening van die Nagmaal vra, is daar iemand oorgeslaan met die brood en die wyn?

Ja en nee – want dink tog maar aan die Afrikaanse kortverhaal.

Daar wás stories en essays en ’n behoorlike bundel kortverhale hier en daar (ek dink aan die Woordfees se kortverhaalversameling asook Johan en Ria Smuts se Die helder oomblik), maar dit voel of 2016 vir dié genre weer eens ’n maer jaar was.

Maar die hoop beskaam nie: Die uitgewers beloof 2017 hou ’n hele paar verrassings in.

Meer oor:  2016
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.