Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié Afrikaanse boeke tot dusver 2020 se gewildstes

Nielsen BookScan SA (NBS-SA) het ’n ranglys opgestel van die Afrikaanse boeke wat die meeste geld in die eerste helfte van die jaar laat inrol het.

Die 20 Afrikaanse boeke wat tussen 1 Januarie en 5 Julie vanjaar volgens verdienste die voortou geneem het, word in die grafika hieronder saamgevat.

Die skrywer Chanette Paul sê “jy kan my met ’n veer omtik” omdat sy nie van die ranglys bewus was nie. Haar boek Vywervrou: Corali het die boonste plek op die ranglys behaal, terwyl sy met Vywervrou: Mirre en Vywervrou: Lira ook die tiende en 18de plek beklee.

“Ek kan dit amper nie glo nie,” sê Paul, wat ook die enigste skrywer is met meer as een boek in die top-20.

“Wat dit vir my besonder spesiaal maak, is dat die lys nie net fiksie bevat nie, maar ook jeugverhale en nie-fiksie. Dit is heerlik om te hoor en ’n groot voorreg.

“Ek het ongelooflike lojale lesers wat ek hiervoor moet bedank. Dit is veral in hierdie tye wonderlik dat soveel van hulle steeds my boeke koop.”

Chanette Paul. Foto: Ian Dennewil

Paul sê lesers moenie nou dink sy is ’n miljoenêr nie – die bedrae op die NBS-SA-ranglys beland nie sommer net so in skrywers se sak nie.

“Afrikaanse skrywers se kans om miljoenêrs te word is nul – tensy jou boeke vertaal en oorsee ook gewild is. Ons kry tantième, dit wil sê ’n persentasie, sowat 12% van die bedrag waarteen die boeke aan die handelaars gelewer word – en dit is dikwels teen groot afslag.

“Dit is dus nie 12% van daardie bedrag wat op Nielsen verskyn nie, maar veel minder.”

Herman Lensing, kosskrywer en TV-persoonlikheid, was ook nie daarvan bewus dat sy 2019-kookboek, Dit proe soos huis, die tweede plek op die ranglys ingeneem het nie. Paul en Lensing is die enigste skrywers onder die top-20 wat met ’n enkele boek deur die R500 000-kerf kon breek.

Herman Lensing se ‘Dit proe soos huis’ is reeds in sy vierde druk.
Herman Lensing
Herman Lensing

“Sjoe, dit is van die beste nuus wat ek nog hierdie jaar ontvang het,” sê hy. “Dit maak my hart regtig bly – nie omdat ek op hierdie lys is nie, maar eerder omdat ek met die projek reggekry het wat ek wou: Dit proe soos huis is vir my ma, wat my alles was en my gevorm het tot wie ek vandag is.”

Lensing sê dit is veral “onwerklik” dat sy boek ’n kortkop voor S.J.A. de Villiers se Kook en geniet is, wat die derde plek op die ranglys beklee.

“Ek het grootgeword met Kook en geniet; dit was ook my eerste kookboek. Ek wou altyd iets skryf wat elke dag in mense se kombuis is – nie ’n kookboek wat mense intimideer nie, maar iets wat eerlik is en iets waarvoor jy kans sien.

“Ek het gereeld gespot en gesê ek dink ek gaan eendag die formule vir Kook en geniet ontrafel. Dalk het ek nou?”

Die NBS-SA-ranglys is deel van ’n meer omvattende verslag wat boekverkope in Suid-Afrika in die eerste 27 weke vanjaar vergelyk met verkope in die ooreenstemmende tyd in 2017, 2018 en 2019.

Netwerk24 het Dinsdag berig dat boekverkope vanjaar weens die Covid-19-pandemie en die staat van inperking met meer as R216,3 miljoen afgeneem het.

Die NBS-SA-verslag is saamgestel uit verkoopsyfers wat by algemene boekhandelaars en e-handelaars oor Suid-Afrika heen versamel en ontleed is. Dit sluit sowat 95% van alle algemene boeke in, maar sluit e-boek-verkope en die verkope van sommige akademiese boekhandelaars en klein uitgewers uit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.