Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die alledaagse se vernietigende geweld

Tussen die liefdeloosheid en uitbuiting van ander wat die teks by tye moeilik maak, is Dinge van ’n hond eweneens ’n teer en ontroerende liefdesverhaal, skryf Jean Meiring.

FIKSIE

Dinge van ’n hond

S.P. Benjamin

PENGUIN, R280

Met dié ontstellende, karnavaleske roman klink S.P. Benjamin se stem ná ’n stilte van 21 jaar weer op, helderder as ooit.

Enersyds neem hy met Dinge die draad op van sy debuutwerk, die novelle Die reuk van steenkool (1997), en veral van die romanagtige bundel kortverhale Die lewe is ’n halwe roman (2000), wat albei bekroon is. Die karakters in albei tekste is arm bruin mense, wat aan die samelewing se fraiings ’n bestaan slyt. (Indertyd al het Benjamin dit egter duidelik gemaak dat hy geen “bruin skrywer” is nie.)

Andersyds skaar Benjamin hom op ’n interessante, dubbelsinnige manier by die onlangse linie Afrikaanse romans wat in ’n postapokaliptiese nabye toekoms afspeel, ’n wêreld waarin die ysere grense van vroeër onder meer deur ’n skeut magiese realisme opgehef word.

In die tyd van Mandela word Druiwe Fourie se plaas Gatlek, êrens in die Kaap, teen vergoeding onteien. Die intieme, afgeslote ekostelsel wat dáár op die plaas geheers het, word met ’n vernietigende knal opgehef.

Maar die vernietiging wat by die “laaste groot vleisbraai” (bl. 35) uitspeel, die aand voor die Fouries en hul gemeenskap die hek agter hulle moet toetrek, is niks nuuts nie. Die intimiteit was selde heilsaam.

Trouens, Sunshine Solani, wat vir jare die plaashuis soos ’n skaduwee bewaak het, én Druiwe se vrou, Magdeleen, Jan-Vlok se moeder, is dood. Sunshine se man, Lê-Oeg, en hul seun Klippies oorleef darem die plaasbewind, Lê-Oeg nie vir veel langer nie.

Saam met van die ander arbeiders vind die hinkepink Klippies in die plakkerskamp Happy Valley – waar die flardes verhale in Benjamin se tweede boek afspeel – ’n karige heenkome.

Om den brode maak hy houtkruise om die lewe van die plakkersgemeenskap se gestorwenes te herdenk. Soos sy bure s’n, is sy lewensaar egter die nabygeleë vullisstortingsterrein: “Vullis is nooit net vullis nie. Dit lewe. Dit haal asem. Dit gee en dit neem ook . . .” (bl. 111).

Dáár, met die twee spoelklippies pal in sy sak, skarrel hy hom in Bettie Speelman, Bettie Rondganger, “die vrou met die kitaar” (bl. 19) vas; ook maar een van die baie “bloekomboomhoere” (bl. 124).

Nie te ver nie – maar vér as jy ’n reusesak gemaalde vleis te voet moet saamkarwei – bly Druiwe, wat in die agterplaas grafstene maak, én sy ouer broer Outa, wat reeds tydens sy dae as bywoner op Gatlek ’n randbestaan gely het, ’n fotograaf wat sy lewe lank in ’n gitswart donkerkamer skuil.

Druiwe se aandrang ten spyt, kan Outa net nie die verlede, die skadu’s van Gatlek, met rus laat nie. Des te meer so noudat JannieJesus en sy dissipels hom in sy drome by Outa kom aanmeld.

Die verlede rý eweneens vir die Poot, Jan-Vlok of Slyme, soos hy nou bekend staan, met slym “wat ewig by die punt van sy baard grond toe drup” (bl. 225). Snags bekruip hy dié oud-Gatlekkers en hou hulle knorrend uit sy voertuig dop.

Soos Outa dit het: “Mens se verlede is ’n ding op vier pote . . . En oor jyself net twee het, kry jy hom nooit maklik afgeskud nie” (bl. 133).

Só ontvou dan deur die oë van ’n nogal sonderlinge derdepersoonverteller ’n verhaal in elke opsig baie grootser van opset en meer ambisieus as Benjamin se vorige boeke.

Die verteller verwissel telkens van fokalisator, wat ’n panoptiese reeks perspektiewe op die tenietgaan van die plaas en die nasleep daarvan in die hand werk, iets soos die verskillende blikke in Benjamin se Halwe roman.

Tóg is daar hier veel hegter oorhoofse binding van die verskillende perspektiewe en ’n intrige wat oortuigend, met verrassende wendings, ontknoop.

Die verteller blyk taalmatig die digste met Klippies en Bettie se gesigspunte verweef te wees. Baie van die spesifieke taalhebbelikhede van daardie karakters se spraak kenmerk eweneens die vertellerstem. ’n Voorbeeld is die gebruik van “had”, die verlede tyd van “het”, selfs waar dit nie streng pas nie.

Dinge van ’n hond is slim gekonstrueer en vertoon ’n merkbare tematiese eenheid. Die vernaamste leitmotiewe – die hond; die meerduidigheid van vullis – word telkens op verrassende maniere herontgin.

Met dié vertelaanslag verkry die verhaal ook ’n idiomatiese rykheid. Wanneer hy die Fourie-broers aandoen, vertel Klippies dat “die broers ernstig nerwe kerf” (bl. 51). As Klippies te baie begrip vir Outa toon, sê Druiwe: “Dis oor jy nie jou son en jou maan hier met hom deurbring nie” (bl. 51). En: “Vanaand wil hy haar kooi” (bl. 88).

Daar is volop wrang, donker humor. Druiwe werp telkens ’n handvol rosyne by sy keel af!

Maar die aanslag wat by eerste opslag lig voorkom en die talige koddighede wat die teks deurspek, sal lesers nie flous nie.

Die verhaal lewer siedend kommentaar op die verskrikkings wat mense teenoor mekaar pleeg: die vernietigende geweld van die alledaagse. Nie nét onder apartheid en in die postapartheid-wêreld van vandag nie. So ís die lewe dalkies, dalkies maar.

Dinge van ’n hond is slim gekonstrueer en vertoon ’n merkbare tematiese eenheid. Die vernaamste leitmotiewe – die hond; die meerduidigheid van vullis – word telkens op verrassende maniere herontgin.

Maar tussen die liefdeloosheid en uitbuiting van ander waarteen die verhaal as ’n klagskrif gelees kan word, en wat dit by tye ’n moeilike teks maak, is Dinge van ’n hond eweneens ’n teer en ontroerende liefdesverhaal, ’n verhaal van broederskap en deernis, van versoening en hernuwing.

Daar is iets soos hoop daar waar soiets stellig die minste verwag word – tussen vier trillende mure in Happy Valley se Sonneblomstraat.

Jean Meiring is ’n regsgeleerde en ’n vryskutresensent van Johannesburg.

Meer oor:  Boek  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.