Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die beste resensente

Drie gerespekteerde boekresensente – proff. Willie Burger, Bill Nasson en Hein Willemse – is elk R25 000 ryker nadat hulle Saterdagaand aangewys is as afdelingswenners in die jaarlikse kompetisie vir Afrikaanse boekresensente.

Bill Nasson

Prof. Bill Nasson het Saterdagaand as wenner uit die stryd getree in die niefiksie-afdeling van die kykNET-Rapport-Boekresensent van die jaar-kompetisie vir sy beoordeling van Chris Schoeman se biografie Rebel: Die lewe van kommandant Hans Lötter – 1873-1901, wat in Desember 2019 in Rapport Weekliks verskyn het.

Die keurpaneel was vol lof vir die “leesbaarheid, deeglikheid en balans” van die resensie, “wat getuig van kennis en insig, maar ook besprinkel is met terloopse interessanthede en humor”.

Tydens dieselfde aanlyn aankondiging is prof. Willie Burger van die Universiteit van Pretoria aangewys as wenner in die fiksie-afdeling vir sy eiesoortige boekrubriek in die nou oorlye tydskrif Vrouekeur oor Ingrid Winterbach se roman Die troebel tyd, terwyl prof. Hein Willemse vir LitNet die beste langer resensie geskryf het oor J.C. Steyn se Verset en opbou.

Willie Burger

Altesame vyf uit die totaal van tien resensies op die kortlyste het deur die loop van verlede jaar in Rapport verskyn. Vanjaar se beoordelaarspaneel het bestaan uit die digter en boekjoernalis Bibi Slippers, die joernalis en skrywer Jomarié Botha en die regisseur, skrywer en joernalis Mercy Kannemeyer.

Volgens Slippers was die gehalte van die inskrywings in veral die niefiksiekategorie merkbaar beter as vorige jare – en de laaste een op dié kortlys het in Rapport verskyn.

Die ander finaliste saam met Nasson op die kortlys was Sonja Loots vir haar resensie van “Deel XV” van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal en die Johannesburgse regsgeleerde Jean Meiring vir sy taksering van Leon de Kock se biografie André P. Brink en die spel van die liefde.

Hein Willemse

Op die kortlys vir die beste Afrikaanse fiksieresensie was Jonathan Amid vir sy mening oor Sidney Gilroy se debuutroman, Klikbek, en Marita van der Vyver vir haar indruk van Jason Reynolds se benderoman, wat deur deur die digter Nathan Trantraal as Lang pad onnetoe in Afrikaans vertaal is en wat albei ook in Rapport verskyn het. Nadine Petrick het dieselfde kortlys gehaal met haar resensie vir LitNet van Johan Jack Smith se debuutroman, Zola, wat op sy beurt vanjaar die kortlys van die kykNET- Rapport-boekprys vir fiksie én die vir rolprente gehaal het.

Al die stukke op die kortlys vir langer, tipies akademiese resensies is op LitNet gepubliseer. Benewens Willemse het Izak de Vries en Karen de Wet die kortlys gehaal met hul meningstukke oor onderskeidelik Alexander Strachan se 1 Recce: Die nag behoort aan ons en Loftus Marais se bundel Jan, Piet, Koos & Jakob.

Dié jaarlikse pryse is ingestel om die belang van boeke en die leesgenot van boekliefhebbers te bevorder deur die wêreld van Afrikaanse boeke toeganklik te maak. Dit dien ook as aanmoediging om hoë standaarde in die Afrikaanse boekjoernalistiek te handhaaf.

Meer oor:  Hein Willemse  |  Wenners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.