Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié boek dalk vonds van die jaar

Fiksie

Die vrou van die klipsee

Meg Vandermerwe

PENGUIN RANDOM HOUSE, R265

Meerminne is nie nuut aan die Afrikaanse letterkunde nie.

Veral aan die Weskus is meerminne mitiese figure waaroor baie stories vertel word – grootliks deur deurwinterde vissermanne met gelooide gesigte en oë wat deurgeslyt is van ’n leeftyd se tuur oor die see. E. Kotzé het oor ’n meermin geskryf in haar kortverhaalbundel Die waterwyfie; Nic Tredoux ook.

Die uniekheid van Die vrou van die klipsee lê dus nie in die tema nie, maar in wat die skrywer daarmee doen. Die vrou van die klipsee verskyn tegelykertyd in Engels en Afrikaans.

Dit maak sin: Dié roman sal groot byval vind in Afrikaans, maar het ook ’n universele “gevoel” wat wyer belangstelling sal verseker.

Die boek spring weg met Hendrik, ’n kreefvanger wat – deeglik besope – die see in loop om doelbewus te verdrink. Hy word gered, so glo hy, deur ’n meermin met die bolyf van ’n swart vrou.

Wat maak ’n man met ’n meermin wat onverwags sy lewe binnegeswem het?

Sy is beseer en hy neem haar huis toe . . . maar wat maak ’n man met ’n meermin wat onverwags sy lewe binnegeswem het? Hendrik dra die bad vol seewater – dis waar sy die grootste deel van haar verblyf sal deurbring.

Hy probeer desperaat om haar te voer – brood, repies skaaptjop, seewier, mossels – en ontdek dat kreef haar stapelvoedsel is. Hy vermoed Rebekkah, sy vrou, het die meermin gestuur om ’n boodskap aan hom te bring. Rebekkah het vyf jaar gelede verdwyn.

Daar word algemeen aanvaar dat sy dood is, waarskynlik verdrink; die dorpenaars het selfs ’n roudiens vir haar gehou. Maar Hendrik glo dat sy na hom sal terugkom.

Intussen het hy begin drink en ’n alkoholis geword – en probeer selfmoord pleeg.

Die “back story” – dít wat gehelp het om Hendrik die man te maak wat hy is – word boeiend en vernuftig saam met die storie self aan lesers gebied: sy meedoënlose pa, sy broer wat deur die veiligheidspolisie vermoor is, sy ontluikende liefdesverhouding met Rebekkah.

En later: Rebekkah se verraad. Die versoeking is groot om te vertel wat verder in die storie gebeur, maar dit is beswaarlik moontlik sonder om die verhaal vir lesers te bederf.

Kyk hoe die sakkende see soos ’n Disprin in die see oplos.

In die boek word die harde realiteit in jukstaposisie met ’n amperse droomwêreld geplaas.

Dus: magiese realisme.

Dis ’n moeilike genre wat net deur dapper skrywers aangepak word. Die groot uitdaging is om so ’n verhaal oortuigend aan te bied.

In die opsig slaag Die vrou van die klipsee sonder twyfel: Al is die grootste deel van die narratief hoogs onwaarskynlik, gló die leser wat hy of sy lees.

Die karakterisering is ook oortuigend.

Jy lees van ménse, allermins perfek, nie altyd die soort persoon wat jy aanvanklik gedink het nie, maar waarin jy kan glo en wat deernis wek.

Die vertelstyl is vlot en meesleurend, die dialoog in pas met die karakters. Kirby van der Merwe se vertaling is foutloos. Daar is pragtige beelding, soos op bladsy 99: “(…) kyk hoe die sakkende see soos ’n Disprin in die see oplos.”

Die vrou van die klipsee is ’n vonds vir die Suid-Afrikaanse én Afrikaanse letterkunde. Dis dalk nog die vonds van die jaar.

J.B. Roux is ’n vryskut-resensent van Riebeek-Wes.

Meer oor:  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.