SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Boeke
Dié boek gaan oor meer as net seks
Seks, leuens en die internet deur Erla-Mari Diedericks.

Die joernalis en skrywer Erla-Mari Diedericks se pynlike en wispelturige internetafsprake met mans het haar eindelik tot skryf gedryf.

Aanvanklik het sy haar grillerige ervarings deur maatsoekwebwerwe in ’n gewilde reeks rubrieke op Netwerk24 vertel – toe tref dit ook die uitgewer Lapa se oog wat wou hê dié enkellopende enkelma in haar vyftigs moet haar internetsoektog na liefde in ’n boek neerpen.

Die uiteinde is Diedericks se vierde boek en tweede memoire, Seks, leuens en die internet, wat pas onder Lapa se druknaam Wenkbrou verskyn het.

Die boek gaan eintlik oor meer as net seks en halwe waarhede, sê sy.

“Op die oppervlak gaan die boek oor ’n vrou in haar vyftigs wat weer op dating sites gaan en besef die see is vol vrot visse – en ’n goeie vangs gaan maar sukkel,” sê Diedericks, wat haarself beskryf as ’n “kenner van alles wat verkeerd kan gaan in ’n verhouding”.

“Maar daar is ook die dieperliggende temas van selfondersoek en vrees vir oudword, ouers wat doodgaan, skete en pyne waarvan jy nie meer ontslae kan raak nie, en daardie knaende stem wat jou vra of jy bereik het wat jy wou en of jy die regte besluite geneem het.”

Maar ek het besef my vrae en my struwelinge is universeel – en dis nie net vroue wat in ’n wrede wêreld na ’n sielsgenoot en ware liefde soek nie, dis mans ook.
Erla-Mari Diedericks

In haar eerste boek, Sin, Sushi & Survival: A Memoir, skryf Diedericks openlik oor haar eerstehandse ervaring van gesinsgeweld, en hoe sy haarself deur seks “probeer vind het”.

Dié keer, sê sy, was skryf die terapie wat sy nodig gehad het om haarself te vind en haar behoeftes vierkantig in die oë te kyk.

“Ek het vir myself geskryf om uit te klaar hoekom ek so soek na iemand, hoekom ek dink ek nie sonder ’n man oor die weg kan kom nie, en hoekom dinge nooit uitwerk nie.

“Maar ek het besef my vrae en my struwelinge is universeel – en dis nie net vroue wat in ’n wrede wêreld na ’n sielsgenoot en ware liefde soek nie, dis mans ook.”

Daarom het sy die boek ook vir ander mense in soortgelyke liefdesbootjies geskryf, veral dié wat nie juis praat oor ongemaklike onderwerpe nie.

Erla-Mari Diedericks by die bekendstelling van haar vierde boek en tweede memoire, Seks, leuens en die internet. Foto: Gerda Louw

“Ek het nou al van baie ouer en jonger vroue gehoor wat die boek geniet, en dis omdat die boek onderwerpe aanspreek wat die meeste Afrikaanse boeke vermy: menopouse, artritis, seks met ouer en jonger mans, hoe om te cope met ’n lyf wat net vetter en ouer word, daai gevoel van die lewe wat verby is.”

“ ’n Mens voel so half pateties as jy begin ouer word en jou lyf is nie meer wat dit was nie, of jy voel dis jou skuld as jy nie ware liefde vind nie, maar almal sukkel, veral as jy ouer as 50 is.”

Dit is juis daarom dat sy ook die boek geskryf het; om lesers daaraan te herinner dat die soeke na liefde soms soos ’n alleenreis voel, maar dit nie werklik een is nie.

“As jy met iemand anders oor hierdie onderwerpe praat, sal jy gou agterkom dat jou ervaring normaal is – en jy sal minder alleen voel,” sê sy.

“Ons almal hunker maar na liefde en aanvaarding, na ’n getuie van ons lewe, maar dit is belangrik dat vroue met mekaar hieroor praat.

“Net dan sal hulle besef: Ja, ons is nie oukei nie, maar dít is ook oukei.”

  • Seks, leuens en die internet word deur Wenkbrou, ’n druknaam van Lapa, uitgegee. Dit is teen R280 in boekwinkels landwyd beskikbaar.
Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Seks  |  Boek  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.