Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié boek kan dalk volgende moord voorkom

Kinders wat moor is ’n komplekse onderwerp wat almal se belangstelling prikkel, maar in André le Roux se deeglik nagevorste boek oor die ‘hoekom’ wag ’n paar ontstellende antwoorde én ’n malvalekker-toets wat vele van ons sal druip, skryf Juliana Coetzer.

Kinders wat moor: Wie se skuld is dit? deur André le Roux. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R265.

Die mensdom is vuisvoos vir geweld. Of so sê almal, maar die waarheid is dat ons ’n aantrek-wegstoot-verhouding daarmee het. Ons kyk dalk nie nuus nie, maar ons oë soek steeds na die plakkate op die lamppale. Ons lees nie koerante nie omdat ons slegte nuus vermy, maar lê ons eiers op die sosiale media en gooi anoniem klip. Ons word deur sensasie meegevoer. Die mens is nou eenmaal verslaaf aan drama.

En nêrens is dit meer ooglopend nie as wanneer name soos Don Steenkamp, Xander Bylsma of Henri van Breda in die nuus opduik nie. Dán maak ons geen geheim van ons nuuskierigheid nie. Dit is immers ’n onderwerp waaroor niemand afsydig voel nie: kinders wat moor. En langs die braaivleisvure en in haarsalonne praat ons saam en span ons pseudo-sielkunde en -regskennis kwistig in.

André le Roux het ’n belangrike boek geskryf, juis om die feite bloot te lê. As jy al ooit gewonder het waarom kinders geweld pleeg en moor, het hy die antwoorde vir jou, gegrond op weldeurdagte navorsing. Vele kenners is geraadpleeg om die feite te staaf in die groot verskeidenheid gevallestudies wat hy bespreek. En dankie tog, dis nié alles die ma se skuld nie (indien die vrees vir dié aanklag jou dalk weerhou om die boek te lees).

Omdat kinders wat moor so ’n ingewikkelde, wydlopende onderwerp is, beperk die skrywer hom tot die vraag: Wie se skuld is dit?

Tieners se prefrontale korteks is nog nie volledig ontwikkel nie.

Die inhoudsopgawe is duidelik uiteengesit, en onder die onderwerpe wat bespreek word, tel:

  • Hoe kan ons die videomateriaal vergeet wat die wêreld ingestuur is waar twee seuns van tien jaar oud met ’n tweejarige seuntjie aan die hand by die winkelkompleks uitstap?
  • Bevoorregte (arrogante) jong moordenaars, soos die Waterkloof-4. “Verbeel jou jy staan in die beskuldigdebank. Jy word aangekla van iets so ernstig soos moord, wat jou vir ’n lang tyd in die tronk kan laat beland. Die landdros vra jou 'n vraag. En jy antwoord: Praat jy met my?”
  • Die kwessie van “die duiwel het my dit laat doen” soos in die onlangse geval van Marcel Steyn wat deel was van die Krugersdorpse afspraakmoorde en deur haar ma gebruik is om te help moor aan nie minder nie as agt slagoffers nie. En deur alles, te midde van die moordveldtog, steeds ses A’s in matriek te kry.
  • Die uitwerking van verwaarlosing en mishandeling in die ouerhuis word geïllustreer deur die gebeure in die Springs-gruwelhuis waar die pa die kinders aan onnoembare vorme van sadisme onderwerp het. Die rol van die ouer word bespreek asook die afwesige of depressiewe ma en die belangrikheid van emosionele hegting met die kind.
  • Die skrywer draai die mite nek-om dat seksueel mishandelde kinders later self ’n mishandelaar word. Dit is doodeenvoudig nie waar dat seksueel mishandelde kinders noodwendig geskaad is vir die res van hulle lewe nie. Hierdie onwaarhede word psigo­mitologie genoem.
  • Volgens die vraag: Maak jy ’n psigopaat groot en wat is die rol van gene? ’n Mens skrik as jy lees psigopatie kan reeds by geboorte aanwesig wees of so vroeg soos op sewejarige ouderdom bespeur word.

En dan die goeie nuus: Mense met die minste psigopatiese trekke verkies katte bo ander troeteldiere. Blykbaar het psigopate slegs geringe fisieke afwykings. (Onthou julle die storie van die ore wat laag sit?)

Die afdeling van die boek wat ek besonder leersaam gevind het, is die bespreking van die adolessent, veral om die tienerbrein te verstaan: “Die tiener se hele brein is net 80% ontwikkel. Net bokant die oë, agter die voorkop, lê die prefrontale korteks. Dis waar rasionele denke, insig, oordeel, beplanning en besluitneming, regulering van emosies en impulse, die veg-of- vlug-reaksie setel. Die probleem met tieners se prefrontale korteks? Dis nog nie volledig ontwikkel nie.”

En tog sê die kenners die tienerbrein is kragtiger as in enige ander stadium van ontwikkeling. Dié teenstrydigheid verklaar waarom tieners of vroeë volwassenes in staat is om ’n moord te pleeg, iemand op straat te beroof en verslaaf te raak, maar ook ? diktatuur omver kan werp, ’n kunsvorm kan uitvind en aktiviste vir klimaatsverandering kan wees. Die rol van die portuurgroep, die uitwerking van sosiale media en boeliegedrag is belangrike inligting.

Ons besef nie werklik die uitdagings waaraan tieners onderwerp word nie. Hulle moet hul plek in ’n groep vind, stres hanteer (wat dikwels vererger word deur ouers se verwagtinge), belangrike besluite neem en sin maak van hul hormonale veranderings – dít alles terwyl die ouers baiekeer in die agtergrond baklei. Die skrywer lê die hele prentjie bloot.

Wat is dan die rede waarom kinders moor – in ’n neutedop, en veral in die lig daarvan dat die meeste mense moeilike kinderlewens gehad het, maar nie almal toon gewelddadige gedrag of moor nie? Die antwoord lê in ’n malvalekker-toets, maar hiervan kan en gaan ek niks verklap nie behalwe om te sê dat vele van ons dié toets sal druip.

André le Roux se oeuvre sluit alles in van ’n digbundel, novelle en kortverhale tot joernalistiek en niefiksie, waarop hy deesdae fokus. Sy belangstelling in neurowetenskap en geestesgesondheid is ongetwyfeld die rede vir die onderwerpe wat hy deesdae aanpak.

Sekere inligting in Kinders wat moor is ontstellend sonder dat dit sensasioneel is en die noukeurige inhoudsopgawe maak dit maklik om ’n spesifieke onderwerp blitsig op te spoor.

Nie net ouers, onderwysers en almal wat by kinders betrokke is sal by die boek baat vind nie, maar ook iedereen wat in die psige van die mens geïnteresseerd is en dit wil probeer verstaan. Die boek slaag daarin om bewustheid te kweek en dalk ’n volgende moord te voorkom. Dit beveg ook die woorde “ek het nie geweet nie”, want dit is uiteindelik een van die heel ontstellendste feite in die boek: Hoeveel mense “geweet” het, maar niks gesê het nie. Kinders wat moor práát, maak oop, lê bloot en laat ’n mens dink.

  • Juliana Coetzer is skrywer, vryskutresensent en psigoterapeut van Vermont.
Meer oor:  André Le Roux  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.