Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié boeke gewildste op VS-kunstefees se aanlyn program

Die Vrystaatse Literatuurfees, wat deel is van die Vrystaat Kunstefees en tans as Vryspraak Digitaal aanlyn beskikbaar is, het ’n verbasende aanhang opgebou vandat dit drie weke gelede begin het.

Corneli van den Bergh, die koördineerder van die fees, glo belangstellendes raak al hoe meer vertroud met die aanlyn stelsel en kry mettertyd ook bepaalde kyk- en luistertye wat by hul daaglikse roetine inpas.

Die boekgesprekke word vandeesmaand stelselmatig op die kunstefees-webwerf gelaai, wat nog tot einde Oktober besoek kan word.

Van den Bergh sê feesbesoekers moet dus nie dink dis neusie verby as hulle nie op die oplaai-datums aangemeld het nie. Kaartjies vir die gesprekke word steeds verkoop, tot op die laaste dag van Oktober, en kos net R15.

Die vraag-en-antwoordsessies waaraan feesgangers regstreeks kan deelneem, is egter net vir 48 mense beskikbaar.

’n Gewildheidslys is op grond van kaartjieverkope opgestel.

Jeanne Goosen Foto: Netwerk24

Vreemd genoeg is die gewildste boek nie ’n Suid-Afrikaanse werk nie, maar Hugo Claus se roman Die verdriet van België. Daniel Hugo het die werk in Afrikaans vertaal en in sy gesprek met skrywer Francois Smith is dit duidelik dat hy die inhoud net so goed soos Claus ken.

Die roman handel oor die gebeure van 1939 tot 1947, wat die Tweede Wêreldoorlog insluit. Claus se “dapper en roerende verhale” oor dié geskiedkundige tydperk in die lewe van die Vlaminge vertel van sameswering, oorlewing en vele meer. Die verdriet van België word as een van die belangrikste 20ste eeuse literêre werke in België bestempel.

Tweede op die gewildheidslys is Petrovna Metelerkamp se biografie van die skrywer Jeanne Goosen se kleurvolle lewe.

Goosen se bekendste boek, Ons is nie almal so nie, het selfs ’n gesegde in Afrikaans geword. Haar oeuvre bestaan egter uit meer as dié boek, wat in die biografie ter sprake kom, wat ook voorheen onbekende lewenstories, foto’s en vriende se onthou van die skrywer bevat.

Die Netwerk24-joernalis en nuusredakteur Charles Smith het Metelerkamp oor Jeanne Goosen – ’n Lewe vol sinne uitgevra.

Jolyn Phillips

Interessant is die kortverhaalbundels wat ’n tweede plek met Goosen deel. Dit lyk asof dié minder gewilde genre, volgens verkope, ’n prominenter plek ingeneem het sedert die verskyning van die Bloemfonteiner Madré Marais se debuutbundel Luistervink en Jolyn Phillips se bekroonde Tjieng Tjang Tjerries oor die vissersgemeenskap van Gansbaai.

Tildie Smit, dosent in Afrikaans aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), het met dié twee skrywers gesels.

Merkwaardig van Die kleinste ramp denkbaar, deur Francois Smith, is dat dit die vierde meeste kaartjies verkoop het, hoewel die bekendstelling eers op 29 September plaasvind.

Die kleinste ramp denkbaar gaan oor ’n goeie dokter en ’n slegte polisieman. Die titel van dié fassinerende roman het verskeie betekenisvlakke, onder meer die verlies aan sekerheid wat saamhang met transformasie in Suid-Afrika.

Smith is ook die skrywer van die geskiedkundige roman Kamphoer en saam met Henning Pieterse die aanbieder van die meestersgraad in kreatiewe skryfkuns aan die UV.

Kobus Geldenhuys
Kobus Geldenhuys

Die filosoof Johann Rossouw sal by Smith meer oor die jongste roman uitvis.

JRR Tolkien se werk bly gewild, soos blyk uit die vyfde plek wat Die heerser van die ringe (Lord of the Rings) beklee. Cheréne Pienaar, Netwerk24-joernalis in Bloemfontein, gesels met Kobus Geldenhuys oor sy vertaling van ’n groot deel van die reeks in Afrikaans. Geldenhuys het reeds ’n hele rits vertalings op sy kerfstok, veral kinderboeke, insluitend dié van JK Rowling en Roald Dahl.

Kaartjies is te koop by Webtickets. Webtickets kan bereik word op sy eie webwerf, deur die Vrystaat Kunstefees-webwerf of by Pick n Pay.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.