Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die digter as taalondermyner

Die taalontwrigting in Gilbert Gibson se sesde bundel dwing Bernard Odendaal tot voortdurende herbesoeke om die kloutjie by die oor te kry.

Die sin van die hut deur Gilbert Gibson. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R225.

Sedert sy debuut in 2005 stel Gilbert Gibson Afrikaanse poësieliefhebbers feitlik al om die ander jaar voor ’n nuwe leesuitdaging.

Die sin van die hut, sy sesde bundel, is geen uitsondering nie. Lesers word reeds in die bemarkingsmateriaal op hul hoede gestel: Dit is “andersoortige” poësie deur ’n digter wat “bekend” is “vir die wyse waarop hy taal ondermyn, selfs benadeel, en so nuwe betekenisse herskep/ontdek”.

Die gedig “(beddinglaag)” oor ’n gestorwe hond is ’n goeie voorbeeld. Die laaste paar reëls, waarin sowel die gedig- as die bundeltitel voorkom, lui: “Nou’s my hond dood ’n beddinglaag vorentoe in die donker. / Sy ore wat hang in swart as en okkerneut die / sagte skans van blaf met bitsige gal nog soet uit / sy mond en ek is lief vir hom terug / met my hart in alles wat in riviere van / lang treë met die sin van die hut / vorentoe vloed”.

Die motto van die bundel verklap die bundeltitel is ’n vertaalde aanhaling uit die Franse filosoof Gaston Bachelard se boek oor ruimtelike poëtika, wat fokus op die ruimtes in en om die huis. Die huis en onmiddellike omgewing word as’t ware ’n beeld van die intieme binnelewe van drome, herinnerings, verlangens, en verbeeldingsvlugte – dus ook van hoe dit deur omringende, groter werklikhede geraak word.

“Sin” en “hut” is die kernwoorde van dié titel met sy betekenisambivalensies. Naas die binnelewe slaan dit op die aardse verblyf in die breë. Die voorlopigheid, strydvolheid en bedreigdheid van die eie en veral die verhoudingslewe – dus ook die betekenisvolheid daarvan – staan in die kalklig. ’n Gesprek met ’n “jy”, met wie die “ek” in ’n klaarblyklik gekwelde liefdesverhouding staan, word byna regdeur die bundel volgehou. Van sodanige voorlopigheid of kwesbaarheid is die wyse waarop die eenwoordtitels van die gedigte deur die bank in hakies geplaas is, al ’n aanduiding: “(onderbou)”, “(dreine)”, “(bodrumpel)”, “(anneks)”, ensovoorts. Dat die gedigte deurgaans sluit sonder duiding deur ’n punt, kan ook as suggestief hiervan gesien word, maar ook van die verweefdheid van die belewenisse wat vertolk word.

Geweldsdreiging en stryd as motiewe duik in talle gedigte op, byvoorbeeld in “(steenslag)”, “(holrond)”, “(weerhaan)” en “(stormsloot)”. In sulke verse verkry die sinsontwrigtings en ander vorme van “benadeling” van die taal en van versboukonvensies ’n bykomend betekenisvergestaltende waarde.

’n Hoofsaaklik gekwelde lewenservaring spreek derhalwe uit die gedigte, aangaande ’n wêreld wat, luidens ’n gedig wat ironies die titel “(fondasie)” dra, eerder ’n “moeras” is waarbinne “onvoorsienigheid en / ander planne ons beste intensie verlaat”.

Teen hierdie agtergrond tref liries verwoorde momente des te meer – soos in “(teer)”, waarin die bewustheid van ’n gereeld vrugdraende vyeboom in die hoek van ’n erf aanleiding word tot ’n ervaring, en “teer en parataal” waar “ ’n kritieke oomblik ’n hut / word en die hut ’n huis en die huis ’n / bewoonde stilte en die stilte ’n tempel”.

’n Verdere betekenisstrekking van die “hut”- en “sin”-gegewens wat algaande by die lees van die bundel uit die verf tree, staan, ironieserwys, juis krities jeens die menslike én digterlike strewe na struktuur- en sinvorming. Nie om dowe neute nie behels die oorgrote meerderheid van die gedigtitels terminologie wat slegs onderdele aandui van wat geboue of woonplekke (sou kon) konstitueer.

’n Verskeidenheid digvorme word in die bundel benut, maar die meeste gedigte neig na een van die bekendste vasteversvorme: die sonnet.

Ook op hierdie wyse word iets van ons strewe na ’n greep op die ervaarde weerspieël.

Die talige en verstegniese ontwrigtings wat Gibson bewerkstellig, verteenwoordig dus ook ’n poging om te ontkom aan die beperkende bepaaldheid of geyktheid van ons waarnemings, en van ons maniere om dit te vertolk en te bestendig. Dit druk tegelykertyd ’n vertolkingsdrang én ’n behoefte aan onbevangenheid uit.

’n Mens kan selfs redeneer die bundelopbou is ’n vergestalting van die spanning tussen die beheersings- en spontaneïteitsdrange. Die gedigte in Die sin van die hut is naamlik gerangskik in sewe bundeldele (’n getal met simboliese konnotasies van afgerondheid tot ’n sinryke geheel), maar wat ongenommerd, ongetiteld en van wyd uiteenlopende omvang is. Bowendien is dit moeilik om te onderskei op watter grondslag/-slae sodanige indelings geskied het – ten spyte van bepaalde verhaalmatigheidsduidings, soos dat die bundel open met ’n “(tuin)”-gedig waarin dagbreek beskryf word soos dit vorder tot binne-in die slaapkamer (“lig soos bloed op die bed”), of dat die bundel sluit met ’n “(bouval)”- vers.

Wat óók in hierdie verband betekenisvol lyk, is dat die enkele gedig wat die middelafdeling beslaan, naamlik “(balklep)”, uitstaan as uitdrukking van die problematiek van singewing/beheersing. Dit kan as ’n sonnet (oor gekwelde liefde) gesien word met sekere herkenbare vormelemente (eindrymlose kwatryne en tersines), maar wat onkonvensioneel gerangskik is (die twee tersines omraam die twee kwatryne).

Sintakties is dit opgebou volgens ’n uitgebreide vergelykingspatroon: “Soos ’n loop vir ’n ­koeël gemaak is ’n pols / vir ’n horlosie so is die stukkende plek / waar ek my raakskeer vir tissue die bloeddruppel / Vir jou[.]” Sodoende word gepoog om aan verbandleggings wat wesenlik subjektief is, ’n aanskyn van noodwendigheid te gee, selfs ’n soort logika van oorsaak en gevolg. Tog duik daar meermale, en algaande meer so, iets onhaaks in die vergelykings én in die sinsbou op: “soos ’n balklep / vir ’n beitel ’n vel vir ink soos film ’n / plek van fokus so is die lens wat // Jou hart beset wat jou wimpers om die lig vou / en dan die foto en dan die oop bajonet.”

Onlangs lees ek weer die siening van die aard van die digkuns raak as sou dit sig gedurig bemoei met ’n proses van selfonderbreking, van weer en weer kyk. Elke gedig is hiervolgens, in die Amerikaanse digter Wallace Stevens se woorde, “one last look at the ducks”.

Gibson laat ’n mens, op verskeie, boeiende maniere in sy onderskeie bundels, weer en weer lees om die kloutjie by die oor te (probeer) kry. Of sodoende stééds ’n herbeligting van menslike ervarings in die hand gewerk word, staan myns insiens nie so vas nie.

  • Prof. Bernard Odendaal is hoof van die ATKV-skryfskool aan die Noordwes-Universiteit.
Meer oor:  Digkuns  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.