Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die digter wat my 'n joppie gekos het
Pieter Fourie. Foto: LEÁNNE STANDER

Binnekort debuteer die veel­bekroonde dramaturg Pieter Fourie op 77-jarige ouderdom as digter. Die bundel met die ­titel Knapsekêrels bevat gedigte wat soos klitsgras aan ’n mens bly klou. Hier is een, met die titel “Stroois”, wat toon watter meester Fourie van die kriptiese vers is:

in huisie wit

skraalloop klein

het lamp nog pit

gesels nog grein

buite skink

skotvers bies

wit heuning

uit die lies

Fourie roep ’n bykans vervloë landelike wêreld in sy gedigte op – hoewel dit nie ­altyd so idillies daaraan toegaan soos in hierdie klein kamee nie.

Hy gebruik ook woorde wat al grotendeels uit die volksmond verdwyn het, en daarom bevat die bundel ’n verklarende woordelys. Daarin word “skraalloop” en “skotvers” verduidelik. “Skraalloop” gebeur wanneer jy “maag intrek en penorent loop in ’n beknopte vertrekkie”, en ’n “skotvers” is “ ’n jong (opgeskote) vers wat die eerste keer gemelk word”.

Siedaar die digter self: ’n vers wat die eerste keer gemelk word! En sy verse is niks anders nie as “wit heuning uit die lies”.

Een van my gunstelinge, “Tortel”, kom uit die afdeling “Voëlgedigte”. Hier word die digter met die dramaturg versoen:

opgepof

pronk hy

hop-hop

agter haar

bly jag

bo-op

boggelruggie

paar

grinnik

richard III

in koninklike drag

Fourie en sy vrou, Maletta, aan wie hy die bundel opgedra het, woon deesdae op Onrus. Hy beskryf homself soos volg in die bekendstellingsvers voorin die bundel:

in onrus sit ’n oompie

mymer: “my dae verdwyn

soos kwartels in lang gras”

besin

ryg string na string

woordkrale in

Die aanhaling kom uit D.J. Opperman se bekende gedig “Vakansiebrief”. Die Oppermanreëls gaan inderwaarheid só: “my dae verdwyn / in stiltes soos kwartels in lang gras”. Fourie oorwin met Knapsekêrels inderwaarheid ’n jare lange digterlike stilte.

Daarom is dit soveel skrynender dat die laaste afdeling, getitel “Stilte”, gedigte bevat waarin die dood seëvier. Bondiger en klankryker kan dit nie gesê word as in “Graf” nie:

nommerpas

letterkraag

marmerjas

perdalks

kleikalbas

kraaktraag

beenmeelas

In die allerlaaste gedig, “Uittogfluit”, gaan die digter die “klokhelder stilte” tegemoet.

Maar daar is ook talle uitbundige gedigte, veral in die afdeling “Goljaartjie” – wat volgens die woordelys ’n streekswoord vir ’n bokjol of joligheid is. En dit is sinoniem aan “goggatik”, ’n dansparty of opskop.

Die lang gedig “Plaasskuurdans” is ’n wonderlike eweknie vir Pikkedel se “Op Hartebeesfontyn” van 1898. En sulke vrolikheid gaan altyd gepaard met drank wat vrylik vloei. In die plesierige vers “Dors” word wyn onvergeetlik beskryf as “giskind van die korrel”!

Fourie het al vroeër – eintlik al ’n leeftyd gelede – probeer om ’n digbundel gepubliseer te kry. En by daardie geleentheid was ek ’n onbedoelde slagoffer.

Die storie gaan soos volg. Aan die einde van my diensplig doen ek in 1978 aansoek vir ’n paar geadverteerde poste in Pretoria waar ek twee jaar lank in uniform rondgeloop het. Een daarvan is ’n redakteurspos by Daan Retief Uitgewers.

Vol verwagting daag ek by die onderhoud op. Die destydse bestuurder sit ’n manuskrip gedigte voor my neer en vra of ek so iets sou publiseer as ek die werk kry. “Wie is die digter?” vra ek. “Pieter Fourie,” kom die antwoord. Hy het toe al reeds opslae in die teaterwêreld gemaak met Faan se trein en Faan se stasie, en sonder om te huiwer sê ek: “Natuurlik!”

En net daar is die onderhoud afgeloop.

Nee, kry ek te hore, Daan Retief is nie ’n literêre uitgewery nie. My smaak, verstaan ek by implikasie, is te elitisties vir dié produsent van kinderboeke en liefdesverhale.

My lewe het sedertdien baie draaie gegooi, maar altyd binne sig van uitgewerye. Daarom het ek nou, 40 jaar later, onmiddellik ja gesê toe Johan Coetzee van Naledi my vra om met Knapsekêrels te help. Met byna sardoniese plesier het ek die redigeerwerk aan die manuskrip gedoen. Op ’n manier het ek tog daardie job by Daan Retief gekry.

En ek is bowenal bly ek kon uiteindelik ’n bewys lewer van my geloof in die digter Pieter Fourie.

Meer oor:  Pieter Fourie  |  Daniel Hugo  |  Digter
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.