Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die donker en die lig langarm in dié riller

Om Deborah Steinmair se sesde roman, ‘As jy van moord droom’, te lees is om te ervaar hoe dit sal wees as ’n digter ’n bloeddorstige storie saggies in jou oor fluister. Die rillings van afsku slaan oor in die hoendervleis wat ’n mooi sin jou kan gee, skryf Annelise Erasmus.

As jy van moord droom deur Deborah Steinmair. Uitgewer: Lapa. Prys: R300.

As jy die woord droom van die teenoorgestelde kant af lees, ontdek jy die woord moord. Hierin lê die kreatiewe krag van Deborah Steinmair se sesde roman: teenoorgesteldes.

’n Voorwaarde van ’n riller – want dit is wat hierdie boek is – is dat daar nie voor die lees daarvan te veel geheime weggegee moet word nie. Dit moet wees asof die leser met ’n kers deur ’n donker huis loop en ál meer kerse aansteek hoe dieper in die storiehuis inbeweeg word totdat al die versteekte vertrekke ten slotte verlig is. Dit is om dié rede genoeg om te sê As jy van moord droom handel oor ’n ma, Erin, wie se dogter, Maryna, ná 20 jaar op haar drumpel verskyn nadat sy as sesjarige voor haar skool ontvoer is. Hierdie twee vreemdelinge, wat albei deur hel is, moet voor booswigte vlug terwyl hulle hul eie asook mekaar se duiwels baasraak.

Die roman word bemark as huishoudelike noir, ’n onderafdeling van misdaadfiksie wat meestal binne die huis of gesin afspeel en dikwels vanuit ’n vroulike perspektief vertel word. Verhoudings vorm die kern. Noir is swart en gaan oor skaduwees en geheime, sinisme, bedreiging en agterdog. Die karakters word gedryf deur gebeure uit hul verlede. Noir is morele teenstrydigheid (reg en verkeerd is nie altyd duidelik nie), futiliteit en fatalisme. Dis donker met net klein skrefies lig wat deurskyn.

Steinmair doen al hierdie dinge en boonop perfek – dit is hóé hierdie verhaal vertel word wat dit uiteindelik meer as net ’n riller maak. Die geheim lê in die kontraste. In dié roman, soos in ’n klassieke noir film, dans donker en lig met mekaar met donker wat altyd lei. Dit is hierdie dans wat die leser meevoer.

Dit is hóé hierdie verhaal vertel word wat dit meer as net ’n riller maak.

Soos dit goeie huishoudelike noir betaam, handel As jy van moord droom oor ’n gruwelike onderwerp, maar dit is in die mooiste poëtiese taal met treffende vergelykings geskryf wat amper ’n skokkende kontras vorm met die verhaal wat dit vertel. Om dié roman te lees is om te ervaar hoe dit sal wees as ’n digter ’n bloeddorstige storie saggies in jou oor fluister. Rillings van afsku slaan oor in die hoendervleis wat ’n mooi sin my gee: “Op die drumpel staan ’n man in ’n swart pak. Hy lyk so amptelik soos ’n vensterkoevert. Gestempel, gefrankeer.” Ek wou tegelyk deur die boek jaag om uit te vind wat gaan gebeur en ook paragraaf vir paragraaf talm terwyl ek die bladsye se hoeke omvou om later weer terug te gaan na die lieflike beelde.

Woorde word in Steinmair se roman ook iets meer as bloot die gereedskap waarmee ’n storie vertel word. Frases van gedeelde Afrikaanse liedjies, gedigte en stories lei die karakters soos broodkrummels terug na ’n tyd voor alles verander het en soms ook nader aan mekaar. Dit is iets waarna hulle gryp, iets bekends te midde van die onsekerheid, en omdat die leser dit óók ken, het dit op dié resensent amper ’n gerusstellende uitwerking gehad, kompleet soos ’n vergete ou wiegeliedjie wat ’n eilandjie van troos skep.

Noir is skadu’s teen die muur. Erin se verbeelding wat lewe kry in “gesprekke” met haar man is skadu’s teen die muur van hoe haar lewe kon gelyk het. Dis vlietende gedagtes wat gou deur haar realiteit verwilder word. Dié werklikhede word nie alles vir die leser uitgespel nie. Noir se skaduwees steek detail weg en sorg dat die leser se verbeelding die invulwerk moet doen. En juis omdat die gruwels wat in die donker skuil allesoorheersend is, is die enkele ligstrale wat deurbreek so helder dat die leser nie daaroor hoef te wonder nie: “ ’n Mens kan nooit weer vry wees as jy eenmaal ’n kind in die wêreld gebring het nie. Ongeag of die kind lewe of dood is . . . Dis heeltemal te laat om te wil vry wees.” Dít wat op die end die belangrikste is, is in die kollig.

Elke ma het al wakker gelê en tob oor wat alles met jou kind kan gebeur in hierdie onveilige wêreld. Baie van ons bekommernisse is ook op eerstehandse ondervinding gegrond. Is dit ’n donkerte of ’n ligstraal om ’n kind te hê? “As ek my lewe kon oorhê, sou ek not a damn ’n kind kry nie. Daar is ’n oomblik wat die struktuur van al jou selle vir ewig verander, ’n oomblik wat moeilik is om te beskryf. Wanneer iets wat lewend is uit jou lyf beur, losskeur, tussen jou dye spartel soos ’n groot, gladde vis en bibberend begin skree . . . En dan begin die kommer. Die weerloosheid. Elke dag loop jy met ’n oop wond.” Hoe ver sal jy gaan om daardie middernaggedagtes nie te laat waar word nie en wat sal jy doen as dit wel gebeur?

Nog teenstellings wat die boek laat dans, is dat hoofsaaklik mans die geweldenaars is, maar dis ook mans wat veiligheid bied en ondersteun. Daar is ook teenoorgestelde soorte liefde – die emosionele soort en die meer afstandelike soort, maar albei is liefde. Daar is verskillende maniere van sterk wees en verskillende maniere van swak wees.

Niks gebeur in ’n vakuum nie.

As jy van moord droom is in een soort wêreld geskryf en in ’n ander een bekend gestel. Binne die verloop van ’n enkele week waarin die boek na my versend is, het alles as gevolg van die Covid-19-pandemie verander. Filosowe het deur die eeue besin oor hoe die leser die skrywer se intensie “ontvang”, maar nou is nie slegs die (biografiese) “dood van die skrywer” ter sprake nie. Ons lees hierdie boek in tye waarin die verganklikheid van die leser sowel as die wêreld ons gedagtes oorheers. ’n Gevolg van dié nuwe werklikheid is dat dit sekere aspekte van As jy van moord droom vir my versterk het. Daar is goed wat onder alle soorte gruwelike omstandighede universeel waar en belangrik sal bly. Soos Erin bevind die leser haarself ook met ’n kind in ’n stormagtige nag.

In ’n tyd waarin my gedagtes nie tot stilstand wil kom nie, kon ek dit regkry om op hierdie roman te konsentreer. Dit sê baie. Die vinnige pas en sluimerende geheime laat jou sukkel om die boek neer te sit voor jy antwoorde kry. Ek sal dit sterk aanbeveel, in enige tydvak.

  • Annelise Erasmus is ’n skrywer en stigter van die Afrikaanse erotiese webwerf Kombiekiehier.
Meer oor:  Deborah Steinmair  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.