Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié ‘drolryke’ toekomsfiksie is moeilik maar móói . . .

In ’n tyd waarin so baie Afrikaanse romans voorspelbaar geraak het, is Alettie van den Heever se ‘ontwrigte en ontwrigtende’ debuut, ‘Stof’, skynbaar die enigste manier om ’n verwoeste wêreld te vergestalt, skryf Loftus Marais.

Stof deur Alettie van den Heever. Uitgewer: Queillerie. Prys: R290.

Hoe skryf jy ’n roman oor die wêreld wat in duie gestort het?

Alettie van den Heever se antwoord is: Moenie ’n gladde verhaal vertel nie; moenie jou lesers gemaklik maak met susmiddels soos ’n eenvoudige narratiewe struktuur en milde eksposisie nie; versteur en irriteer hulle so ’n bietjie, want eers dán pas die vorm by die inhoud. Só ’n ontwrigte en ontwrigtende verhaal is die enigste manier om ’n verwoeste wêreld te vergestalt.

Wees dus gewaarsku: Stof is ingewikkeld. Dis toekomsfiksie met doelbewuste weglatings en vreemde wendings en verskriklik baie karakters – so baie dat ek op ’n stuk papier met diagramme en aantekeninge moes tred hou.

As dié soort speurlesery of boeke wat ’n gedetailleerde toekomswêreld oprig in jou smaak val, gaan jy baie pret hê. Maar as jy op soek is na leesstof wat die leser meer dikwels in ag neem, ’n roman wat sy intelligensie en verwysings lig dra, is dié een beslis nie vir jou nie.

Tot daar my waarskuwing.

Kom ek vertel eerder meer oor die in duie gestorte wêreld: Dit is die jaar 2081. Ná ’n ekologiese ramp sukkel die wêreld – ook Suid-Afrika – voort. Kos is skaars, die son te skerp, die lug vol stofstorms. Die samelewing het verbrokkel tot aparte enklaves of “nedersets”.

Wees dus gewaarsku: Stof is ingewikkeld.

Dinge gaan só sleg dat menslike ontlasting ’n hulpbron is. Ja, gewone ou stront is ’n soort kommoditeit met verskeie nutte (bemesting, die skep van biogas, ’n bron vir metaalreste) en mense word vergoed vir hulle uitwerpsel. (Terloops, Stof het ’n wrang humorsin en is ’n skatkis van skatologiese woordspel.)

Benewens ontlasting is die ander belangrike kommoditeit sade. Die ekologiese terugslag wat die mensdom beleef, het ook te make met saadvoorrade en genetiese manipulasie – daarom is sade wat voedsel voortbring meer werd as goud. Sade word streng beheer, maar ook gesmokkel, plus daar is gerugte oor ’n ou saadbank wat fortuine bevat.

Die hoofkarakter se naam is Amper. Dis kort vir Ampersand – en dis ongelukkig nie die enigste voorbeeld van ’n verliteratuurde kunsmatigheid wat die leser gaan teëkom nie. Daar is ook ’n karakter genaamd Rilke; begrippe soos “die abjekte” en “die donker ekologie” word sommer deur karakters bespreek; en een robot haal sowaar vir Jan Rabie aan . . .

Amper is ’n tussenfiguur. Sy is amper ’n grootmens, amper ’n held, met dreadlocks, ’n fyn reuksintuig en goeie stofbestande longe.

Amper se ouma het onlangs gesterf. Sy is egter beenaf op ’n besoeker aan haar nederset en sit hom agterna grootstad toe. Deur haar reise binne en later buite die Kaapse enklaves van Hardekraal, Close Enough en Meconium leer die leser die politiek en alledaagse gang van dinge in die grillerige nuwe Kaapland ken.

Alettie van den Heever Foto: Retha Ferguson

Ons ontmoet ook vir Dick Jones, ’n soort speurder wat vir Saadbeskerming werk, en vir Sias Arendse, ’n wheeler-dealer en karweier wat weet hoe om wins uit die dorheid te maak. Stadig word Dick en Sias se voorgeskiedenisse in die verhaal ingevleg . . . en hier wil ek liefs nie enige verrassings verklap nie.

Van den Heever weet hoe om die wisselwerking tussen (en binne) verskillende gemeenskappe en groepe uit te beeld. Dis ’n deurmekaarspul van botsende wêreldbeskouings en politieke venyn. ’n Mens leer ’n maatskaplike orde ken wat nie net kommentaar op gister en vandag lewer nie – dis ook ’n orde wat ’n mens kan hóór en rúík. En dit stink – dis immers drolryke distopiese fiksie dié.

Daar is etlike eggo’s van huidige politieke brandpunte: ’n sekte wat diversiteit verafgod; “toiloë” (dis nou: toilet + oorloë = toiloë) wat knik in die rigting van die Kaapse poo protests; die donker uiteindes van die huidige debatte oor voedselsekerheid en aardverwarming; die heersende Meconium-enklave wat herinner aan die geslote rykmanswoonbuurte van vandag.

Die skrywer is vaardig in hoe sy van genre na genre swenk – wetenskapsfiksie, speurverhaal, jeugavontuur, mitiese fantasie – en dit is asof sy hulle almal as gebrekkig verwerp. Al speel sy net met hulle (én met die leser), is daar tog oomblikke van emosie wat diep tref.

Waarmee Van den Heever regtig beïndruk, is haar digte, omvormde taalgebruik vol tekstuur. ’n Mens lees oor een karakter: “die opwinding knoop onder haar longe”. ’n Ander hardloop “met arms wat die lug bo sy kop gaan haal”. Iemand sing en “die stem stoot vlerk”. “Die misvrede het my beet,” sê Dick op ’n kol. Daar is ook baie nuwe toekomswoorde wat die leser leer – “skren” (skerm), “innebor” (inbors), “kleinon” (jongmens) – en letterlik elke derde bladsy bevat ’n pragtige uitdrukking: “Dis ’n toegatidee”; “Ons moet nou dak”; voos klere is “malapper”; “Hy lyk onkans”.

Ek is nie ’n kenner van Noord-Kaapse of Kaapse streekstaal nie, ook nie van die Khoi-San-kultuur of die botaniese rykdom van die westelike gedeeltes van ons land nie, maar ek het meer as ’n sterk vermoede dat Van den Heever hierdie gegewens op skerpsinnig wyse deel maak van die roman. Die “eerste mense” is in haar boek ook in ’n sekere sin die “laaste mense”.

Amper se ouma het ’n “saadboek” gehou waarin sy mitiese stories oor plantoorspronge opgeteken het. Die boek word gesteel, maar Amper begin die stories onthou, herskryf en oorvertel. Dié “saadstories” bied ’n geleentheid om vrae te vra oor die aard van verhale, en ook hulle nut. Dis eienaardige, fassinerende stories, maar die romansier span hulle nie ten volle in nie. Hulle is veronderstel om die maaghoue van die roman te wees, maar hulle trefkrag is vir my soms net te swak.

Só begin een van die meer suksesvolle stories: “Oukossies, Grootkaroo-beestong, Boesmanrys – Nadat Mikoog teruggekom het van ’n lang nomaad, het hy die spermsak van die grootste springbokbul op die sagste kol van die Droëkom geplant. Toe die enigste reënte van die jaar kom en gaan, het hy steeds gewag vir die opkoms van die springbokvul . . .”

So ’n paar keer voel dit of die skrywer haar draaie te skerp moet gooi, asof sy net met dwang haar idees by haar storie en haar storie by haar idees kan uitbring. Dis seker maar een van die gevare as ’n mens so ’n enorme prosabousel oprig.

Tog, in ’n tyd waarin baie van die Afrikaanse romankuns voorspelbaar geraak het – met sy historiese romans, sy memoires-agtige mymeringe, sy flankeerdery met die moordverhaal as ’n “interessante” genre – is dit verfrissend om ’n debuutroman soos Stof te lees. Dis ’n vreemde, moeilike, mooie ding.

  • Loftus Marais is ’n digter en inhoudsregisseur van die kykNET-program Verslag in gesprek.
Meer oor:  Alettie Van Den Heever  |  Resensie  |  Stof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.