Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Die Flats soos ek hom ken’
Die voorblad van Brian Fredericks se debuutbundel ‘As die Cape Flats kon praat’.

Oor Brian Fredericks se debuut skryf Bernie Fabing, stigter van Vannie Kaap: “As die Cape Flats kon praat, wil ek hê Brian moet die mic hou.”

Noem hom eerder storieverteller as spokesperson vir die Flats, sê Fredericks in reaksie daarop.

Dit het lang jare se beitel aan ’n eerste bundel geverg.

Bedags doen hy elektriese werk en herstelwerk aan lugverkoelers; hy het eintlik net saans tyd om te skryf en skryf nie elke dag nie. Baie van sy stories is oor die jare nie deur die uitgewers aanvaar nie. Hy het aanhou probeer tot met hierdie bundel, wat oral gunstig ontvang is.

Wat noop hom om te skryf?

“Ek skryf die stories wat ek uit my uit wil kry. Ek skryf gewoonlik oor dit waaroor ek wonder of dit wat my pla. Ons almal het maar meer vrae as antwoorde. Wat ek ook probeer doen, is om my gees in die stories te blaas sodat dit eg vir die leser moet voel.”

“Jare gelede toe lees ek Die mooiste liefde is verby, wat saamgestel is deur Etienne van Heerden. Daai boek het ’n groot effek op my gehad, want ek het gedink dis ’n mooi Afrikaanse boek. ’n Mens wil graag stories soos dit skryf en ek het besluit om weer te probeer. Ek het ’n klomp stories geskryf en vir uitgewers gestuur, maar dis nie aanvaar nie. Toe lees ek Pylvak van J.P. en Ria Smuts en probeer weer. My eerste twee stories is toe opgeneem in Nuwe Stories 2.”

Die bundel is opgedra aan sy ma, Lizzie Fredericks, wat hom, sy suster en twee broers alleen grootgemaak het. Hy is gebore en getoë in Elsiesrivier.

“My ma is een van die sterk vroue in ons groot familie. Daar’s nie eintlik ’n manier hoe ek vir haar kan dankie sê nie. Elsiesrivier is ’n complicated plek. En die lewe daar het op ’n tyd vir my ook ingesluk. Daar was ’n tyd wat ek die pad duister geword het en ’n gangster geraak het. Nie ’n tyd in my verlede waarop ek baie trots is nie.”

Daar’s musiek ook

Fredericks se boek kom met ’n klankbaan waarna die leser in die agtergrond kan luister. Een van die motto’s van die boek is deur die invloedryke Amerikaanse rapper Tupac Shakur, wat in 1996 op 25-jarige ouderdom vermoor is. Dit kom uit die lied “Better Dayz”.

Too many murders, too many funerals, and too many tears

Just seen another brother buried, plus I knew him for years

Passed by his family, but what could I say?

Keep yo’head up and try to keep the faith

And pray for better days.

“Ek ken baie mense wat nie boeke lees nie, maar almal luister music. Ek’s maar self ’n music fanatic. So ek luister enige iets van R&B tot rap.”

Sy bundel dek baie aspekte van die lewe op die Cape Flats: Werkloosheid, misdaad, gangsters, tronkstraf, kinders wat sonder ouers grootword, uitsigloosheid, en stories oor families wat mekaar ondersteun.

“Die karakters en tonele wat ek skep, is belangrik vir die spesifieke storie wat ek wil vertel. Ek het familie en vriende se name in die stories gebruik, maar dis waar dit gestop het. Dis net ‘Die cowboywat ’n ware verhaal is. Die ander is fiksie, maar dit raak aan die werklikheid soos ek dit ken.”

Die eerste verhaal “Die drie musketeers” is onder meer deur die moord op die Stellenbosse student Hannah Cornelius geïnspireer asook deur die joernalis Marida Fitzpatrick se boek oor Oscar Pistorius, Die Staat vs. Oscar. Pistorius dien tronkstraf uit vir die moord op sy eertydse vriendin Reeva Steenkamp.

“Op die Cape Flats is moord ’n alledaagse verskynsel. So op ’n manier word mens afgestomp, dit moenie so wees nie, maar dis die waarheid. In die begin het ek gehoor van die Hannah-saak, maar dit het nie my aandag getrek soos dit met die hele Suid-Afrika gebeur het nie. Ek het met die skuldigbevinding meer aandag aan die saak gegee, want ek het besef ek ken een van die beskuldigdes. Ek en hy was saam kindervriende. Hy was self verkrag toe hy ’n kind gewees het. Ek’s nie ’n sielkundige nie en kan nie sê dis hoekom hy dit gedoen het nie. Dis toe ek meer gaan oplees oor die saak. Daai saak was ’n hartseer saak en niemand verdien dit nie. Ek het sosiale media ook gevolg en sekere mense het dit ’n topic oor velkleur gemaak. Dis hoekom ek besluit het om die storie te skryf.”

Die slotverhaal gaan oor ’n eksgevangene wat tuiskom, wat sy ma gaan help om “als uit te sort’’ – op daardie punt klou ook die leser aan ’n sprankie hoop vas nadat jy al die pad met vele ander karakters geloop het.

Wat gee Fredericks hoop vir die Flats?

“Om swaar groot te word of om te sukkel is nie die einde van die wêreld nie. Dit beteken net jy moet harder werk as die volgende persoon wat in beter omstandighede grootword as jy dieselfde wil bereik. Daar is gangsters en dwelms en dis waarvoor die Cape Flats bekend is, maar die meerderheid mense het nog hul menslikheid. Probleme is oral. Solank ’n mens lewe, is daar hoop. Die beste is om jouself te empower en dit stap vir stap te vat.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.