Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié fluitjieblaas-boek is ambisieus én oordadig

Mandy Wiener se fassinerende ‘The Whistleblowers’ lees plek-plek soos ’n misdaadriller, maar as wekroep tot diepgaande besinning oor ’n netelige nasionale sosio-politieke- en regsvraag, of as betekenisvolle bydrae tot die soeke na antwoorde
daarop, skiet dit tekort, meen Johann Kriegler.

The Whistleblowers deur Mandy Wiener. Uitgewer: Picador Africa. Prys: R310.

’n Fluitjieblaser ken ons al die jare – dis ’n skeidsregter wat in die doodsnikke ’n beslissende strafskop aan die ander span toeken.

Maar ’n whistleblower in die sosio-politieke sin van die woord – ’n binnestander wat verdagte geheime blootlê – is ’n nuutjie waarvoor ons hoofsaaklik die Amerikaners te danke het.

In daardie gedaante het whistleblower in die vroeë 1970’s wêreldwyd bekend geword toe Daniel Ellsberg die bevindinge van ’n Pentagon-ondersoek na die land se militêre optrede in Viëtnam uitgelap en “Deep Throat” kort daarna The Washington Post op pres. Nixon se spoor in die Watergate-skandaal gesit (en gehou) het.

Sedertdien het ons ongelukkig alte gewoond geraak aan die begrip, hoewel die vertaling “fluitjieblaser” vir my steeds nie die kol tref nie. Maar dit is en bly, soos Wiener in The Whistleblowers ter aanvang aanvoer en mettertyd breedvoerig uiteensit, ’n proteïese woord met bybetekenisse wat die ganse spektrum bestryk – van selfverloënende volksdiens enersyds tot verraderlike winsbejag aan die ander uiterste. Motiewe is nie net onsigbaar en vermeng nie, maar vlugtig en verganklik.

Luidens die voorwoord wil Wiener die stories van haar uitgesoekte groep Suid-Afrikaanse fluitjieblasers vir die nageslag opteken, die betrokkenes gedenk en die dank van die menigte aan die groepie betuig. Haar strewe, verklaar sy, is om die nasionale kultuur te hervorm en die wanopvatting van fluitjieblasers as impimpi’s, klikbekke en verraaiers om te sit in begrip vir heldhaftigheid. Ambisieus, sê ek vir myself toe ek dié voorneme lees, baie ambisieus. En nadat ek die boek gelees het, moet ek ongelukkig byvoeg: vér te ambisieus.

Dit voel vir lede soos ek oordadig binne een sagteband.

Maar Wiener het dié reusetaak met oorgawe aangepak – sy bied ons hier 450 bladsye met die vertellings, verduidelikings en verskonings van dosyne der dosyne getuies, ellelange stringe e-materiaal en talle uittreksels uit oorkondes van honderde ure se bandopnames. Dis ’n magdom gegewens van 14 afsonderlike fluitjieblasers se lewens- en beroepsomstandighede, die persoonlikheid en geestesingesteldheid, die spesifieke bekend­making, die motiewe daaragter (dikwels in lang verbatim aanhalings), die ganse milieu waarin dit geskied, die positiewe afloop – indien enige – daarvan, en die gewoonlik kwade gevolge vir die fluitjieblaser.

In werklikheid word baie meer as 14 fluitjieblasers betrek – eintlik is dit in hoofsaak 14 stelle omstandighede wat aan die orde kom. Dis ’n fassinerende tafereel van ’n sonderlinge verskeidenheid booshede – massiewe geldverduistering by Eskom, onopsigtelike likwidasie van dormante pensioenfondse, beleidmatige uitwissing van politieke mededingers, distribusie van sakke vol harde kontant onder dienstige politici – met ’n bypassend kleurryke rolverdeling van rampokkers en helde, skurke en wroegende gewetensbeklemdes, cowboys en crooks van destyds, en verspotte konkelaars uit Mad se “Spy vs. Spy”. Kortom, hoewel die fluitjieblaser-element gemeenskaplik is aan al 14 die gevalle, is dit gesamentlik meer as een boek se inhoud en voel dit vir leke soos ek oordadig binne ’n enkele sagteband.

In ’n bepaalde opsig slaag die boek daarin om afsonderlike gestalte te gee aan die spul andersoortige karakters wat mekaar op die verhoog opvolg.

Dit is naamlik dat die teks vergesel gaan van 16 uitstekende kleurfoto’s, plus talle swart-en-wittes op gewone papier, maar buitengewoon duidelik en kundig gedruk. Iedereen van die hoofrolspelers word trouens reeds op die buiteblad aangebied en kry dan in die teks ’n verdere dimensie. Die fotograaf Felix Dlangamandla verdien spesiale erkenning, met dank aan ook die outeur en uitgewer. Sulke foto’s per spesiale opdrag dra boekdele by tot ’n mens se begrip en insig van betrokkenes en selfs hul mededelings, veral in ’n geval soos hierdie waar dit gaan om so ’n kaleidoskoop van gebeure en karakters.

Feitlik iedereen van die gevalle verskaf oorgenoeg materiaal vir ’n substantiewe én substansiële boek van sy eie. ’n Paar van hulle regverdig trouens meer as een boek, soos die hoofstuk oor Guptaleaks wat minstens twee hooftemas behels: die rillerverhaal van die tentatiewe voelers wat die twee fluitjieblasers (steeds naamloos) aanvanklik uitsteek, plus die uitvoerige planne en heimlike stappe wat gedoen is om hulle te beveilig; die ander tema die wydlopende konsekwensies van die Guptaleaks-openbarings vir die land in sy geheel. (Terloops, ’n mens sou darem meer erkenning wou gesien het vir die onkreukbare en vreeslose joernaliste wat in wedersydse vertroue met hul bronne so onmisbaar is in die oopsteek van korrupsie.)

Terwyl ’n mens dankbaar is vir die skrywer se ywer en insig, is dit tog ook jammer dat sy nie minder gevalle deegliker in behandeling geneem het nie. Die gevolg is dat The Whistleblowers, ondanks ’n slothoofstuk gewy aan nabetragting oor die problematiek van fluitjieblaserskap en ’n soeke na oplossings, eintlik nóg tydgenootlike beriggewing nóg ernstige besinningsjoernalistiek uitmaak. Ek weet nog nie eens werklik wie as ’n fluitjieblaser kwalifiseer nie, nog minder hoe om so iemand aan te vuur en te beskerm.

Plek-plek lees die boek egter soos ’n misdaadriller en is op sy treffendste inderdaad ’n heerlike en tegelyk interessante en onderhoudende opgawe van sake waarvan ’n mens net vaagweg bewus was of al half vergeet het. Wiener is ’n hoogs bedrewe joernalis wat weet wat sy doen, maar as ’n wekroep tot diepgaande besinning oor ’n netelige nasionale sosio-politieke en regsvraag, of as betekenisvolle bydrae tot die soeke na antwoorde daarop, skiet die boek tekort.

Bygesê, veral deesdae met rekenaartegnologie ter hand, is dit haas onvergeeflik om 450 bladsye oor ’n groot verskeidenheid afsonderlike milieus uit te gee sonder ’n indeks. Met soveel voorbeelde van dieselfde verskynsel, iedereen op sigself kompleks en verwikkel, is dit noodsaaklik vir die leser om te kan kruisverwys, vergelyk en opnuut oorweeg. Die outeur meen dit vir die leser in die slothoofstuk te doen, maar ’n mens wil, en is tog daarop geregtig, om ook self te kan kontroleer.

Maar maak geen fout nie: Vir Jan Alleman wat meer wil weet van hierdie aktuele nasionale besprekingspunt, van die drama daaragter en die hoofspelers, bied dié nuwe Wiener ruimskoots waarde vir geld.

* Johann Kriegler is ’n afgetrede regter van die konstitusionele hof.

Meer oor:  Mandy Wiener  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.