Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Poësie
Fyn vakmanskap van ’n woordvirtuoos

Uittogboek

Johan Myburg

PROTEA, R195

Johan Myburg. Uittogboek is sy vierde digbundel. Foto: Roelene Prinsloo

Ek hou van Johan Myburg se poësie: Hy skryf gedigte waarin hy nie net aandui dat hy virtuoos met die taal kan omgaan nie, maar hy stel my as leser bekend aan musiekstukke, tekste en wêrelde waarvan ek nie weet nie – en waarvan ek meer wil weet.

Soos die titel van die bundel suggereer, word hier ’n bestekopname gemaak van vertrek, van weggaan, van afskeid neem en die onbekende ingaan. Trouens, in “Prosopopeia” (bl. 95) verwys die spreker na die notas wat hy gemaak het en wat in Uittogboek opgeteken word. Hier speel die digter (nes John Miles in Op ’n dag, ’n hond) in op die Egiptiese rite waar die hart van die sterwende geweeg word deur Anubis, saam met ’n veer op die ander skaalbak. By monde van iemand uit die Egiptiese dodeboek neem hy sy lewe in oënskou.

Die optekening en nalaat van tekste kom ook ter sprake in “Ovidius stuur sy corpus vooruit” (bl. 97). In “Kodisil” (bl. 70) sluit die spreker hierby aan met sy vraag: Hoe verklaar ’n mens 60 jaar op papier?

Reeds in die bundelmotto, Ha­drianus se sterwenswoorde – wat op bl. 9 in Afrikaans vertaal word – word verwys na die swerwersiel en sy onrustige aard. In hierdie bundel is daar beslis so ’n swerwersiel aan die woord; ’n reisiger na Rome, Venesië, Spanje onder die ban van die inkwisisie, Duitsland, maar ook in sy eie land.

Hadrianus en sy geliefde Antinous vorm ’n tipe raam vir die bundel en in “In die maand van Hathor” (bl. 94) word verwys na die keiser se “resitasie” wat hy, al sterwende, in Napels opgesê het. Hadrianus se dood aan hartversaking vorm die grondslag van “Hadrianus” (bl. 13), terwyl Marguerite Yourcenar se roman Memoirs of Hadrian ook betrek word.

Ander uittogte wat in die bundel ter sprake kom, is die dood. Drie lykdigte vir MB, waarvan die middelste gerig word aan die literator Marthinus Beukes en die derde aan Maurice Blanchot, handel oor dié figure se pogings om te ontvlug hetsy in skryfwerk, in “spookwit poeier” of in “vreemde lywe”. Skryf en optekening is deurlopende motiewe in die bundel, soos dit in die slot van die gedig “Keiser, buite homself” (bl. 14) verwoord word:

Miskien gee skryf my die vermoë

om die dood tegemoet te gaan met oper oë.

In die “Fremdkörper”-siklus word nie net afskeid geneem van die gestorwe moeder nie, maar word ook gemymer oor ’n moontlike uittog wat wag op ’n “wit man, nie eens middeljarig nie, bloot net oud” wat sy “liewe, gutterale taal” praat . Dié land het nie meer plek vir hom met sy “baie pakkaas” wat hy in “geruite China bags” opgaar nie. Laasgenoemde sluit weer aan by die voorbladontwerp deur Haltner.

By monde van Hadrianus sit hy hierdie besinning voort:

Hier sal ek tot niet gaan. Nie

omdat ek aan dié grond verknog

is nie, gewoon omdat die buiteland

anders dalk maar nie noodwendig

beter is nie.

Dis vir die digter ondenkbaar dat hy in ’n ander taal moet en wil skrywe, want, soos hy dit stel, “die einde / van my taal is immers die einde // van my einders”.

’n Ander uittog wat ter sprake kom, is die einde van ’n verhouding, wat slim aan die hand van ’n reeks gloorliedere (bl. 72) verken word.

Die eietydse aktualiteit kom ook in heelwat van Myburg se verse voor. Die skreiende dood van Alan Kurdi, die driejarige vlugteling, die “vyandige etos van ’n vasteland” wat sy liefde as boos afmaak, xenofobie, ons digitale eeu, of misdaad wat sy huis van sy hart stroop.

In ’n deernisvolle gedig word afskeid geneem van T.T. Cloete en erken hy die invloed wat Cloete op hom gehad het.

In ’n deernisvolle gedig word afskeid geneem van T.T. Cloete en erken hy die invloed wat Cloete op hom gehad het om bewus te word van die groenigheid en die taal van die tuin – maar ook hoe die skryf van gedigte ooreenstem met die aanplant van ’n tuin. Of soos hy dit stel: “Sedertdien swymel ek steeds oor die boeket / van tuine en die toorkrag van ’n rymende eindkoeplet.”

Tuinmaak speel ook ’n belangrike rol in die lewe van die moederfiguur in die bundel. Sy het die digter geleer om sy hand aan ’n tuin te hou. In “Prelude” (bl. 51) beskryf hy hoe die tuin tot niet is en hom droewig stem om aan die skryf te gaan.

’n Verdere aspek van hierdie bundel is Myburg se eksperimentering met verskillende versvorme. Van die lang sillabiese “Nanas de la nada” (bl. 98) tot prosagedigte tot kwatryne. Een so ’n lang prosagedig is “Ars poetica” (bl. 93), waarin die digter na aanleiding van Pli­nius die Ouere illustreer hoe tydsaam die skeppingsproses in werklikheid is. Die metafoor van jou toga self te kleur word hier vernuftig in verband gebring met die skryfproses.

Maar ten spyte van ’n gevoel van ontheemding, vind die digter tog vertroosting in “die argitektuur van geborgenheid” (bl. 31).

Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth.

Meer oor:  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.