Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die ‘getye van ’n menslike bestaan’

Sulamiet

Lina Spies

NALEDI, R175

Die oorsig in die digtersprofiel oor Lina Spies in die Afrikaanse Wikipedia word op hierdie vreemde manier afgesluit: “Sy is nooit getroud nie, maar haar liefde en bewondering vir katte is byna legendaries.” Wie met hierdie vooropstelling Spies se nuwe digbundel benader, sal teleurgesteld wees – géén katte nie, én boonop iemand wat “huidhonger” die ouderdom troef deur “wellustig en heelhuids . . . (te) bemin”.

Die digterlike spreker word in hierdie bundel as Sulamiet voorgehou, ook vandaar die vindingryke bundeltitel. In die digterlike Bybelse liefdesboek Hooglied is die Sulamiet die vroulike hoofkarakter. Spies gebruik hierdie simboliese vrouefiguur “op die ongekaarte reis van liefhê”, maar ook as fokusfiguur van Joodse buitestanderskap.

Anne Frank is dalk die bekendste historiese Sulamiet met wie Spies steeds, tot in hierdie “versuimde treursang”, identifiseer om aan die “eeue-oue pyn” beslag te gee.

Sy identifiseer deurgaans in hierdie bundel met die Joodse ontheemding en gepaardgaande vervreemding, maar verruim dit met “bannelinge in eie samelewing”, gekwestes, ontworteldes, ontmaaktes. Dit hang ten nouste saam met ’n doelbewuste losmaking van die tradisionele siening van God wat lesers in haar vroeë oeuvre leer ken het. Nou hou sy Hom as “ ’n onvervreemde God” voor.

Die Joodse tema sluit ten nouste aan by Spies se ontdekking van die rabbi Yeshua en haar persoonlike reis na die historiese Jesus.

In ’n akademiese rede voor ’n teo­logiese gehoor, “Van weerloos tot weerbaar: Die Afrikaanse vrouedigter binne patriargale konteks”, fokus Spies op Elisabeth Eybers, en ’n bietjie op Emily Dickinson, miskien die twee grootste literêre invloede in haar digkuns, maar gee daarmee saam ’n uitstekende kensketsing van hoe sý hierdie ontwikkeling in haar en haar werk sien. Dit is bepaald ’n sleutel tot die dieper verstaan van Sulamiet.

Hierdie artikel belig ook die groot beïnvloedende rol van die filosofiese denkraamwerk van Johan Degenaar en hoe hy haar godsdienstige verstaan getransformeer het van totale vergeesteliking tot ’n vreugdevolle liggaamlike aardse bestaan en ’n ware ontmoeting met jou medemens as ’n “ander ek”. Dit sluit ook aan by verskeie nuwe maniere van teologiese dink wat hier te lande deur byvoorbeeld die Nuwe Hervorming voorgehou word. Haar geloof, in Julian Müller se formulering in Geloof anderkant Sondag, word ’n strewe om soekend en ontdekkend te lewe – dit behels om die lewe weer en weer as ’n gawe te ontdek.

’n Kenmerk van Spies se oeuvre is dat (té) veel gedigte as’t ware transkripsies word van intieme gesprekke met ander persone. Dit is bepaald so dat sy “deur die woord in vers ná vers en brief ná brief / aan enkele geliefdes gebonde gebly” het. Hiermee word die gedig se universele meespreking grootliks geperk, veral deur die persoonlik-lokale wat aan die leser opgedwing word, byvoorbeeld die gedig “Little Spirit”, waar dit in orde is as dit opgedra word aan “Gesie Maria Theron 2.11.1993–14.12.2012”, maar dit raak dik vir ’n daalder as daar ook staan: “Vir Antoinette Theron, haar tannie”. Soms verloop die gedigte totaal in onnodige trivialiteite as sy byvoorbeeld oor dié figurant sê sy is “ ’n vier-onderskeidings-kandidaat”.

Spies het al in 1962 haar MA-verhandeling geskryf oor “Die bewerende en beeldende vers in die poësie van Elisabeth Eybers”, maar sy het die bewerende deel in haar eie digkuns helaas nog self nie bemeester nie. Maar, haar beeldende vermoë bly sporadies die leser verruk.

Kritici het oor ’n vorige bundel genoem van die gedrae toonaard en die formele register wat soms in swaarwigtigheid kan verval – híér dra dit by tot ’n ouwêreldsheid, wat my steeds bekoor. Ongelukkig is steeds “te veel van my verse / . . . pleisters op eie wonde”, maar tog is dit deel van die intieme tongval van Lina Spies se idiolek.

Hierdie digter is besonder bevoorreg om te kan sê: “Al die getye van ’n menslike bestaan / is my reeds gegun”, maar eweneens is die leser van haar poësie absoluut bevoorreg om daarin te kan deel.

Tom Gouws is ’n digter van Pretoria.

Meer oor:  Lina Spies  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.