Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die gruwels van die verlede

Fiksie

My naam is Prins, ek slaap met die lig aan

Christine Barkhuizen-Le Roux

HUMAN & ROUSSEAU, R310

Dis ’n ongemaklike onderwerp: die impak wat ’n pedofiel selfs jare later op sy slagoffers kan hê.

Corinne, ’n sielkundige, stem in om Deon te vergesel op sy reis na Skuilkranz, die toneel van vele seksmisdade teen hom en ander seuns. Hulle hoop dit gaan Deon help wat baie erg onder die nagevolge daarvan ly.

Die verhaal van hul reis is deurspek met terugflitse wat meer van die gruwels vertel. ’n Mens kry ’n knop op jou maag oor naderende skuinsgedrukte teks en lees dit so vinnig as wat jy kan, met skrefiesoë.

Dis juis weens die oëtoeknypery van ander – tesame met die listigheid waarmee die pedofiel sy slagoffers bewerk – dat hulle jare later eers besef dit wat met hulle gebeur het, is verkeerd en nie hul skuld nie.

In die roman word ’n verskeidenheid perspektiewe van sulke rolspelers gegee. Dit blyk dis nie altyd so maklik om die “medepligtiges” summier te veroordeel nie. Nie alle slagoffers hou dieselfde nagevolge oor nie. Van die pedofiel self, wat soveel mense se lewe oorheers en verwoes het, sien ons net die lang skaduwee.

Al is die leser die grootste deel van die verhaal in Corinne se kop, kry sy nie veel van ’n persoonlikheid nie.

Helaas is dit nie net die onderwerp wat ongemaklik is nie. Daar is slordighede, soos Liezl, Deon se dogter, wat “lanklaas ’n steak geëet het”, maar later vertel die spesiale man in haar lewe besit ’n steakhouse. Corinne ry met die “Toyota” en haar man, Frank, met die Fortuner. Corinne, Deon en Liezl stap verby “die Spar waar groepies mense toustaan en wag om Tikka Chicken te koop”. Hoe sou hulle dit weet, en hoekom?

Die karakter Deon lyk meer na ’n gevallestudie as ’n mens.

Al is die leser die grootste deel van die verhaal in Corinne se kop, kry sy nie veel van ’n persoonlikheid nie. So word sy hoofsaaklik deur die impak van ander mense, soos haar pa en Frank, op haar lewe gedefinieer. Die twee vroue sit nie ’n voet verkeerd nie. Dit maak dit moeilik om met hulle te identifiseer en te empatiseer.

Te veel woorde word bestee aan onbenullighede. Daar is onnodige mense, onnodige name, onnodige lyste kos, onnodige handelsname van plekke waar kos gekoop is. In ’n deel van die storie waar daar weinig spanning is, is die lug “ ’n swanger vrou wat weet haar tyd is naby”. Wanneer die leser regtig ’n blaaskans van neerdrukkende leesstof en engtevrees nodig het, is daar die kans om saam met Deon by die grottekeninge asem te skep, maar dit beslaan skaars ’n bladsy.

Die onderwerp is so kragtig en aan die bronnelys is dit duidelik baie navorsing is gedoen. Met beter karakterontwikkeling, beter fokus en ’n sterker spanningslyn sou dit ’n baie beter boek kon wees.

Erika de Beer is ’n joernalis en vryskutresensent van Johannesburg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.