Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die hele aaklige korrupsie-seekoei

War Party: How the ANC’s Political Killings Are Breaking South Africa deur Greg Ardé. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

’n Kollega het op ’n slag aan my gesê om politiek in KwaZulu-Natal te dek het twee stadiums: Eers steel die provinsie jou hart en dan breek hy hom.

Hierdie boek oor die aard van die gewelddadige politiek in Suid-Afrika se bloedbevlekte Eden is uitstekend nagevors en goed geskryf, maar teen die einde was ek moedeloos. Dit het vasbyt en tandekners geverg om tot die laaste sin te lees.

Greg Ardé is ’n gerespekteerde Durbanse joernalis wat al jare lank die KwaZulu-Natalse politiek dek. Hy neem jou op ’n reis – eers deur die platteland (Richmond, Dundee, Nquthu, Newcastle, Umzimkhulu, Estcourt, Kokstad en Ladysmith) totdat hy afsluit in Durban.

Hy fokus telkens op gesinslede van mense wat op plaaslike regeringsvlak by die KwaZulu-Natalse ANC betrokke geraak het. Diegene wat as politici ’n bestaan gemaak het, het telkens in dieselfde maalkolk beland. Hulle het in die pad gekom van ander wat reeds in die dodelike ANC-magspel betrokke was en baie is vermoor.

Die verhaal wat Ardé vertel, is die nalatenskap van die KwaZulu-Natalse burgeroorlog wat van die vroeë 1980’s tot die laat 1990’s gewoed het tussen Inkatha en die UDF/ANC, en waarvan ten beste vertel word in Anthea Jeffery se magistrale werk The Natal Story: Sixteen Years of Conflict (1997). Dié oorlog het respek vir die regstaat en die staatsgesag laat taan en die geleentheid geskep vir misdadige elemente om hulle in die politiek in te wurm. Die skrywer toon met vers en kapittel hoe ook Inkatha-krygshere soos die berugte Romeo Mbambo van Inkathagate-faam, wat aanvanklik in die Caprivi opgelei is om vir Inkatha teen die ANC/UDF te veg, in die ANC opgeneem is.

Wat is die henne se lot as jakkals baas in die hennehok word?

Ardé sit in besonderhede uiteen hoe die bose ineenskakeling van die ANC en plaaslike magsmagnate werk. Dikwels is daar op hierdie klein dorpies, maar uiteindelik ook in die townships van Durban, vir onopgeleide mense net drie maniere om vinnig geld te maak: die plaaslike stadsraad, die taxibedryf of die private sekerheidsbedryf.

Wat betref die rol van stadsrade om mense met bedenklike opleiding en morele peil van inkomste te voorsien, hoef ’n mens net die verslae van die ouditeur-generaal te lees om die oortjies te besef, maar Ardé gee jou hier ’n blik op die hele aaklige korrupsie-seekoei.

Die taxibedryf en aspekte van die private sekerheidsbedryf het tot ’n groot mate niks anders as ’n tuiste vir boewe geword nie.

Of dit Chatsworth, Harding, KwaDukuza of Colenso is, jy gaan dit hotagter kry en waarskynlik met jou lewe betaal as jy nie sogenaamde beskermingsgeld uithaal en wys nie.

Ook die konstruksiebedryf het ’n mafia-agtige nagmerrie geword met berekeninge dat tot 84 konstruksieprojekte ter waarde van R27 miljard al verlore gegaan het weens ontwrigting en skade aangerig deur die duistere organisasie, Delangokubona, wat projekte ontwrig en konstruksiepersele binneval met hul AK-47’s tensy afkoopgeld betaal word.

En as enigeen die ANC wil teengaan, moet hulle bereid wees om hul werk en/of hul lewens te verloor, of te sien hoe hul kinders voor hul oë doodgeskiet word.

War Party is ’n menslike en ontredderende verhaal.

Wat onheilspellend is, is dat Ardé meen dieselfde lot wag op die res van Suid-Afrika tensy die ANC uit sy regeringsposte ontsetel word.

Onderhoude wat hy voer met ANC-ringkoppe uit KwaZulu-Natal, en met genl. Bheki Cele, minister van polisie, laat ’n mens gou besef die oplossing gaan nie uit die groen-geel-en-swart kom nie.

Hoe gemaak wanneer die mafia die norm geword het, en die prys van magsverlies eenvoudig te groot is vir diegene wat die KwaZulu-Natalse ANC oorgeneem het en dit nou lei en versinnebeeld?

Dit is die ontstellende vraag waarmee Ardé die leser laat aan die einde van dié belangrike en broodnodige boek.

Wat is die henne se lot as jakkals baas in die hennehok word?

Want in KwaZulu-Natal is dit onteenseglik die geval – en hierdie boek verskaf goed nagevorste voorbeelde.

  • Jan-Jan Joubert is ’n politieke joernalis en skrywer.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.