Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die kaalkop-knaterkrapper

Die joernalis en skrywer Herman Lategan verkies sy heilige koeie ‘medium rare’ met ’n ekstra lagie vet – net soos die Afrikaans wat hy skryf, die steak wat hy eet en die anonieme vleeslike gelukkies wat hom soms te beurt val. Johan van Zyl het kort voor die verskyning van sy nuwe rubriekeboek, ‘Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse’, gaan gesels.

Herman Lategan in die Vasco da Gama Taverna in Groenpunt, Kaapstad, waar hy al die afgelope 46 jaar uithang. Foto: Peter van Noord

Herman Lategan is hoerkind én mof se kind. (En please, keer hy dadelik, behoede ons tog net van die politiek korrekte tweegevrete wat kamma ontsteld raak as hy hierdie “kwetsende” woorde gebruik! Dis dan presies wat die NG Kerk en die skool en die skynheiliges hom en sy ma in die 1960’s en 1970’s toegesnou het.)

In dieselfde asem is Herman ’n buitestander sonder brieke (of filters), ’n op die oog af afstandelike siel wat vanuit die buitewyke binnetoe kyk en groter prentjies en groepspatrone raaksien. Voeg gerus hierby die etiket duiwelsadvokaat – ’n kaalkop wat graag aan knaters krap (of hulle nou jeuk of nie). En diegene wat al onder sy tong deurgeloop het, noem hom ’n volleerde swetsbek wat die nodige f- en p-knope in lewende lywe – én op Facebook – kan uitryg soos wat geen Voortrekker of macramémeester hom dit kan nadoen nie. ’n Wederstrewige harlekyn wat sy pyn lawe deur te woeker met woorde of wyn.

’n Eie ‘woordeboek’
Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse: Stories oor woorde, mense en aanhou beweeg en geraas maak bevat 113 alfabetiese inskrywings wat wissel van nie-pedantiese borduursels rondom woorde wat op die rand van die vergetelheid huiwer tot essays wat fokus op mense, melancholie en patos.

“Ek het omtrent elke woordeboek onder die son, want ek is mal oor woordeboeke,” sê hy. Sy gunsteling is Anton Prinsloo se Annerlike Afrikaans: Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal (2000, Protea Boekhuis), en dalk is Fopdossers die een wat hy vir homself gemaak het.

Die boek word uitgegee deur Penguin Random House en kos R230 by goeie boekwinkels.

En tog, in ’n soort verrassende wending, voel Herman op die dag van die onderhoud meer soos ’n kraai met pouvere: uit sy plek, ongemaklik, verleë. Al is hy veronderstel om net so tuis te wees soos die kroegtoonbank hier in Vasco da Gama, een van die oudste en bekendste Portugese tavernes in die Kaap, wat hy in 1972, op agtjarige ouderdom, die eerste keer saam met sy pa besoek het.

“Ek en die ander kinders moes doer voor in die hoek ons koeldranke drink en speel terwyl die fabriekswerkers en die spoorwegmanne en die mechanics hul dop by die bar counter weggeslaan het. Bo was twee kamers waarheen jy daardie jare nog hoere kon vat,” sê hy. Hel, om te dink oor minder as twee maande is hy 54 – nie dat hy van plan is om nou óf dan te begin tob oor presies hoeveel kiloliter alkohol en geld hy die afgelope 46 jaar hier in sy keel afgegooi het nie!

Herman is wel meer gewoond daaraan om vrae stel – en nié om hulle te beantwoord nie, en hy kyk amper beskuldigend na die hoofrede vir sy “ongemak” wat tussen ons op die tafel lê: Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse: Stories oor woorde, mense en aanhou beweeg en geraas maak, ’n versameling van sy “Woorde wat wip”-rubrieke wat hy die laaste paar jaar vir Rapport geskryf het.

Wat duidelik blyk uit dié boek, maar ook uit Binnekring van spookasems: Stories oor die lewe, ’n versameling van sy artikels en essays wat Amanda Botha, een van sy mentors, in 2014 saamgestel het, is sy sagte plek vir die magteloses, die gemarginaliseerdes, die ontheemdes, die randeiers, die aweregses. Is dit straks omdat hy homself in ander weglê-eiers se stories herken en hom met hul magteloosheid vereenselwig?

Nee, jammer, ek verkies boeke wat my laat voel of iemand ’n dildo in my opgedruk het, en ek gee nie ’n hel om as mense dink ek is anti- intellectual nie.

“Ek vermoed die bloudruk vir hierdie uitkyk op die lewe kom van my ma. Sy het altyd ’n klomp uiteenlopende vriende gehad: baie gay mense en fopdossers; bruin vroue van die platteland wat in die stad kom werk het as huiswerker, dikwels by Engelse Jode; baie enkelouers . . . ’n klomp van die kleindorpse vroue wat destyds Kaap toe getrek het, het swanger geraak en moes dan hul kind alleen grootmaak. So, ja, ek identifiseer aan die een kant met hul magteloosheid, maar net so wil ek hulle eer as sterk geëmansipeerde vroue wat deur diep waters is en deur hul familie, kerk en tydgenote verwerp is.

“Die eerste en ergste vorm van magteloosheid en verlies wat ek ervaar het, was die dag toe my ma my by die Durbanville-kinderhuis afgelaai het. Toe ek in my 30’s was, op die kruin van die lewe met ’n goeie werk, vet salaris, internasionale reise en openingsaande, het ’n melankolie en diepe depressie my oorval. Ek het ’n vrou gaan spreek, ’n psigohipnoterapeut, wat gesê het sy kan my met hipnose terugneem na die kern van my verdriet. Ons het geëindig waar ek as sesjarige langs tannie Prins sit, my substitute-ma by die kinderhuis, en die terapeut het vir my gesê vat nou aan daai kind se skouer, sê vir hom alles is fine, práát met hom.

“Toe tannie Prins my ná baie jare kontak nadat sy in Vrouekeur my artikel oor my jaar in die kinderhuis gelees het, het sy my vertel ek het in die eerste maand daar nie ’n enkele woord gesê nie, seker maar van pure skok oor my ma wat weg is. Ek het eers weer begin praat toe tannie Prins my een naweek saamgevat het na haar ouerhuis, waar daar ’n hond was wat pas kleintjies gehad het.”

Hy is inderdaad buite die binnekring gebore en getoë, sê Herman: buite die eg (wat gelei het tot sy ma se verwerping deur die NG Kerk); die besef op ’n baie jong ouderdom dat hy gay is; die jaar in die kinderhuis en die gelispel wat Babs

Laker hom moes help afleer; sy seksuele molestering tot op 18-jarige ouderdom deur ’n vriend se pa, destyds ’n bekende joernalis; sy skorsing uit die skool oor sy seksualiteit; ’n tydperk van eensame aanhouding in die weermag weens sy politieke betrokkenheid; die ernstige motorongeluk wat ’n jaar van sy lewe gesteel het; sy drank- en dwelmverslawing; sy jaar in die Heilsleër; sy bewegings in die Afrikaanse, Engelse en Joodse wêreld sonder om ooit volkome by enigeen in te pas; die keer toe twee mans hom, mes teen die keel, gyselaar gehou het . . .

“Oor geen van hierdie dinge is ek spyt of bitter nie, want alles wat met my gebeur het, is kompos vir my tuin, waar woorde die blomme is.”

EN TOG VIND HY SKRYF WEERSINWEKKEND, WALGLIK, sê hy. ’n Om den brode-nagmerrie wat hom soms laat wens sy hande word afgekap en sy tong uitgeruk. Dit is iets wat hy slegs doen omdat hy moet leef, al is die betaling so godskandelik vrot, en tussendeur die joernalistiek en rubrieke wat hy pleeg, “karring” hy deesdae ook aan ’n roman, Hoerkind (die Engelse titel is Bastard), wat losweg op sy eie lewe gegrond is, asook sy memoires.

“Albei is totaal nuwe genres vir my. Ek sukkel om 300 sinvolle woorde per dag te skryf, maar ek is opnuut beïndruk deur enigeen wat dit kon regkry om ’n roman te voltooi. Dit vat baie meer guts, dissipline, energie en verbeelding as wat ’n mens dink en dié besef maak my as boekresensent ook meer simpatiek.”

Die afgelope dekade of wat skryf Herman meestal in Afrikaans, wat hy ’n “prettige taal” noem “wat nie verdien om aan die stywepoepholagtigheid van die taalhekwagters onderwerp te word nie”.

“Die Engelse media is in baie opsigte meer kosmopolities in hul denkwyse, maar minder eksperimenteel én hulle sukkel met ’n sekere resepmatigheid en voorspelbaarheid. Ek kry hulle op ’n manier jammer, want die Zoeloes, Afrikaners en Xhosas se identiteit is veel sterker gewortel in hul taal. Nietemin vind ek Suid-Afrikaanse Engels ongelooflik saai, behalwe natuurlik enkele uitsonderings soos Athol Fugard se Port Elizabeth-register, Herman Charles Bosman en J.M. Coetzee toe hy nog in Suid-Afrika gewoon het. Kyk net hoe vervelig is Coetzee se boeke vandat hy sy voedingsbron verlaat het.”

Maar net so maak baie dinge omtrent Afrikaans en sy sprekers hom ook die bliksem in.

“Hoekom is baie Afrikaanse mense so geïsoleer in hul denke, skynbaar doodgelukkig om ’n sterwende taaltjie aan die rektum van Afrika te praat, terwyl die taal se tentakels veel wyer strek? Hoekom lees so baie Afrikaanse mense slegs Afrikaanse koerante en tydskrifte? Hoekom is Afrikaanse hekwagters so skrikkerig vir neologismes en sleng, immer besig met hiperkorrekte, vingerwysende taalapartheid wat bruin sprekers oor dekades gemarginaliseer het? Waarom is party sprekers so beterweterig en veroordelend wanneer jy die slag ’n woord anders gebruik as wat die woordeboek aanbeveel, maar wanneer hulle jou betig, kan hulle net uit die HAT en WAT aanhaal?

“Dit is vir my interessant dat Afrikaans glad nie só in die bruin Afrikaanse gemeenskap opgepiep word nie – daar is dit ’n vloeibare, inklusiewe, lewende, immer veranderende ding!”

Ook die “quite suburban register wat tans so in vogue is in literêre kringe” en telkens bekroon word – “sulke verdrietige, uitgerekte sinne met ’n oorbewuste literêre aanslag wat net by ’n klein akademiese kringetjie – ’n echo chamber of pretence, ’n literêre addergebroedsel” – byval vind, stuit hom teen die bors.

“Nee, jammer, ek verkies boeke wat my laat voel of iemand ’n dildo in my opgedruk het, en ek gee nie ’n hel om as mense dink ek is anti-intellectual nie. Ek is so siek van die selfsensuur . . . die Afrikaanse literêre gemeenskappie is so klein dat daar gewoon geen ruimte is om enigiemand op te stuur nie. You’re damned if you do and damned if you don’t.”

Dis hoekom hy nie soetjiespoepend doekies omdraai nie, hoekom hy gedurig meng met mense en plekke en idees buite sy gemaksone, hoekom hy “oor kleur- en kulturele grense skommel en suig”.

Hy was al in groot moeilikheid oor sy uitlatings. En ja, hy is gereeld skaam oor sy aggressie en uitlatings op Facebook, “waar jy nooit 100% seker kan wees oor of iets sarkasties of ironies of ’n grootskaalse opstuurdery is nie”.

Maar één ding kan hy met ’n rein gewete sê: Hy is nie nét bek of nét binnegoed nie, maar albei.

Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse: Stories oor woorde, mense en aanhou beweeg en geraas maak bevat 113 alfabetiese inskrywings wat wissel van nie-pedantiese borduursels rondom woorde wat op die rand van die vergetelheid huiwer tot essays wat fokus op mense, melancholie en patos.

“Ek het omtrent elke woordeboek onder die son, want ek is mal oor woordeboeke,” sê hy. Sy gunsteling is Anton Prinsloo se Annerlike Afrikaans: Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal (2000, Protea Boekhuis), en dalk is Fopdossers die een wat hy vir homself gemaak het.

Die boek word uitgegee deur Penguin Random House en kos R230 by goeie boekwinkels.

Meer oor:  Herman Lategan  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.