Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié klassieke stories huppel weer
Huppelkind deur W.O. Kühne met illustrasies deur Dorothy Hill.

Die gewilde Huppelkind-stories deur W.O. Kühne, wat onlangs weer uitgereik is, het Afrikaanse kinders laat besef “hoe ons taal kan huppel en speel”.

Dit is waarvoor die skrywer Marita van der Vyver Kühne altyd dankbaar sal bly.

Dié klassieke stories – wat vanjaar 60 jaar gelede die eerste keer verskyn het – is in een bundel as Huppelkind deur Tafelberg heruitgereik, met Dorothy Hill se oorspronklike illustrasies.

Drie boeke het in die reeks verskyn: Huppelkind (1958), Huppel maak ’n plan (1958) en Huppel verjaar (1960). Met Huppel verjaar was Kühne die eerste ontvanger van die C.P. Hoogenhout-prys (vir ’n oorspronklike Afrikaanse kinderboek).

Volgens Michelle Cooper van NB Uitgewers onthou talle generasies Huppelkind.

“Ons het besluit om die verhale juis met Dorothy Hill se illustrasies uit die 1950’s weer uit te gee, want haar styl en W.O. Kühne se teks pas perfek. Huppel se wêreld is pure fantasie, wat die verhale tydloos maak. Dit is wonderlik hoe ouer boeke soos hierdie my laat dink oor waar ons tradisie van Afrikaanse kindertekste vandaan kom.”

Van der Vyver se bynaam was ook lank gelede vir ’n wyle Huppelkind. Dit was kort ná haar joernalistieke studies aan die Universiteit Stellenbosch toe sy by Die Burger op dieselfde redaksie as Kühne gewerk het.

“My kollegas het my Huppelkind begin noem omdat ek glo so uitasem opgewonde kon raak of vrolik was.”

Die skrywer Annelie Botes, wat op ’n plaas in die distrik Uniondale grootgeword het, het ook goeie herinneringe aan Huppelkind, hoewel sy nie die inhoud goed onthou nie.

“Ek was gaande oor die aura daarvan. En wanneer ek saam met my pa skeerskuur toe is vir die dag, het ek altyd in die groen ruigtes gesoek na Huppelkind. Op ’n dag vind ek ’n reuse-spinnerak wat soos ’n roset tussen die renosterbosse gespin is, kompleet met die doudruppeltjies wat daaraan hang. Daardie dag het ek geglo dis die ingang na Huppelkind se blyplek.”

Tog het iets het vir haar gesê om nie die web te breek nie.

“Ek sal wat wil gee om weer ’n Huppelkind in my hand te hou,” sê Irna van Zyl, skrywer en voormalige redakteur van Insig en De Kat. Om twee redes: Dit sal haar stellig na haar kinderjare terugneem en omdat Kühne ’n groot rol in haar lewe gespeel het.

Hulle het in Februarie 1981 ongeveer twee weke na die vloedramp saam na Laingsburg en Montagu in die Wes-Kaap gereis.

“Op hierdie trip het hy my geleer hoe om nuusstories te maak uit die dinge wat met gewone mense gebeur of gebeur het: Ek het op trekkers deur modderdriwwe gery en met ompaaie by plekke soos Ladismith uitgekom waar die dorp se mense gewag het om hul stories aan die koerant te vertel.”

Kühne se fyn waarnemingsvermoë het Van Zyl geleer om haar nuussin vir die menslike stories te ontwikkel.

“Dit is iets wat ek dink my later in my loopbaan in die tydskrifbedryf baie gehelp het en ook nou dat ek self fiksie skryf. Ek dink dit is deur daardie waarnemingsvermoë van hom dat hy iets so spesiaals soos Huppelkind kon skryf.”

* Huppelkind kos R245.

Meer oor:  Tafelberg  |  Irna Van Zyl  |  Annelie Botes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.