Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die ‘Kook en geniet’ van oneerbiedigheid

Bitterkomix 17

Anton Kannemeyer & Conrad Botes

ISOTROPE & XLIBRIS, R200

Bitterkomix het nog altyd graag geskok en hard teen die prikkels geskop, maar Anton Kannemeyer se omslag vir Bitterkomix 17 ontstem op ’n nuwe manier.

Die heftige protesreaksies wat dié comic-tydskrif aanvanklik uitgelok het, het gekom van die sedebewakers en behoudendes.

Bitterkomix het die eerste keer in 1992 onder redaksie van Anton Kannemeyer (Joe Dog) en Conrad Botes (Konradski) verskyn en dit was veral die grafiese uitbeeldings van seks in kombinasie met gekruide taal, subversiewe humor en oneerbiedige godsdiens-satire wat baie die harnas in gejaag het. GIF, ’n spesiale Bitterkomix-uitgawe in 1994, was dan ook die eerste publikasie wat as ongewens verbied is deur die nuwe demokratiese regering.

Bitterkomix het dus begin as die vuilbek geesteskind van twee woedende jong manne wat wou afreken met die Afrikaner-nasionalistiese nalatenskap – die gebakte pere en sondes van die vaders wat hulle beërwe het. Die omslag van hul jongste antisipeer egter verguising uit ’n heel ander radikale oord – nie van ou wit stamvaders nie, maar van die woedende swart jeug.

Die omslag lewer nie net satiries kommentaar op die onlangse verbranding van kunswerke by die Universiteit van Kaapstad nie, maar ook op die moontlikheid/onmoontlikheid van wit protes binne ons gepolariseerde postkoloniale bestel.

Bitterkomix en GIF word immers hier saam met ander kuns op die omslag verbrand terwyl stylvolle jong swart mense jolig rondom die vuur dans. Die Boere-punks van weleer land dus saam met die wit patriargaat waarteen hulle jare lank gal gebraak het op die brandstapel van die onvoltooide revolusie.

Hierdie bitterste van omslae herinner skerp aan Christi van der Westhuizen se onlangse artikel op LitNet, “Die antidemokratiese denkstroom by universiteite”.

Hierin wys sy daarop dat ’n beduidende deel van die huidige studentebeweging witheid en swartheid essensialisties verabsoluteer. Daarmee saam word swartheid tot die enigste politieke en sosiale kategorie van belang in die stryd om sosiale geregtigheid verklaar. Geslag, seksualiteit en ander kategorieë word eenkant geskuif.

Met die uitsondering van die omslag is die jongste Bitterkomix-uitgawe in ’n groot mate begaan met dié tydskrif se anargistiese wortels. Die taal is miskien daarom ook meer oorwegend Afrikaans as in die vorige paar uitgawes.

Nommer 17 is opgedra aan die uitgewer-kunstenaar Tienie du Plessis wat betrokke was by die Afrikaanse versettydskrif van die 80’s, Stet, asook die uitgewers Taurus en Hond. (’n Boek van Hond word ook op die omslag verbrand.) Du Plessis word gehuldig in mooi, onsentimentele bydraes deur anti-establishment-skrywerskamerade soos Breyten Breytenbach, John Miles en Ryk Hattingh wat ’n groot en welkome terugkeer tot die Bitterbende maak.

Hattingh, wat vanjaar met die reeds hoogaangeskrewe Huilboek sy eerste roman in 19 jaar die lig laat sien het, neem in Bitterkomix 17 intiem afskeid in die roerende “Vlugvoos” – ’n essayistiese vertelling waarin Hattingh enersyds sy eie verbystering en vervreemding oor ’n eerste besoek aan Suid-Afrika in vyf jaar verwoord en andersyds sy ou vriend en kameraad Tienie groet.

Ook Daniël du Plessis, wat intussen bekend geraak het as die skrywer-tekenaar van die weeklikse Jorik+Jakkals in Rapport, wys sy indrukwekkende vaardigheid hier in drie sterk strokiesverhale wat om Tienie, sy oorlede pa, se lewe en sterwe draai.

Die jongste uitgawe is dus in verskeie opsigte dieselfde sewekoppige draak wat sy voete en vyande probeer vind in ’n nuwe brandende landskap.

Hattingh, wat saam met Conrad Botes in 2000 die grafiese roman Die Foster Bende gepubliseer het, keer ook in die jongste Bitterkomix saam met Botes terug na een van sy ander obsessies in ’n strip getiteld “P**s”. In hierdie verhaal oor ’n tiener se koorsige seksuele ontwaking verken Hattingh en Botes nie tematies nuwe terrein nie. Hulle lewer egter ’n kragtige herinnering aan een van die stokke wat die Bitterbende nog altyd graag in die speke van die polities korrekte diskoers oor seks gesteek het.

Botes en Kannemeyer het oor die afgelope twee dekades in hul eie werk sowel as in die strips wat hulle vir Loslyf onder redaksie van Hattingh geteken het, die illusies van pornografie en polities korrekte beskouings van seks en begeerte tegelyk uitgedaag.

Hul uitbeeldings van seks het in verskeie opsigte aangesluit by die waarnemings van die omstrede Sloweense filosoof Slavoj Žižek, wat in The Ticklish Subject (2000) daarop wys dat heteroseksuele begeerte en verleiding in ons polities korrekte era afspeel in die spanningsveld van regte en beletsels. “Daar is geen verleiding wat nie in een of ander stadium as ’n inbraak op regte of teistering gesien kan word nie. Iewers moet die begerende party hom of haarself blootstel.”

Die nuwe Bitterkomix verlustig hom egter nie net in hierdie onafwendbare transgressies nie. Ander hoogtepunte sluit in: ’n uittreksel uit ’n nuwe grafiese roman van die internasionaal gerekende Joe Daly – Rust River City; die tweede en derde hoofstukke uit Karlien de Villiers se grafiese roman, My ma was ’n mooi vrou, wat nog nie in Engels of Afrikaans verskyn het nie, maar reeds suksesvol in Duits, Frans, Spaans en Italiaans gepubliseer is; “Die avonture van Tonton” wat hopelik die eerste hoofstuk in ’n langer outobiografiese werk van Kannemeyer is; “Oorgawe” – ’n uittreksel uit die Franse skrywer Michel Houellebecq se jongste roman, Soumission (2015), wat sekuur in Afrikaans vertaal is deur die mederedakteur van Bitterkomix 17, Catherine du Toit.

Die jongste uitgawe is dus in verskeie opsigte dieselfde sewekoppige draak wat sy voete en vyande probeer vind in ’n nuwe brandende landskap. Dit is ook sekerlik steeds nie alle sensitiewe kykers se idee van ’n aantreklike toeskouersport nie, maar soos die Poolse Nobel­pryswenner Wislawa Szymborska gedig het in “Possibilities”: “Ek verkies die absurditeit van gedigte skryf / bo die absurditeit van nie gedigte skryf nie.”

En só verkies ek die absurditeit van ’n kru en oneerbiedige nuwe Bitterkomix bo die absurditeit van ’n meedoënlose samelewing wat sy kru waarhede en obsene magspel liefs parfumeer of verdoesel.

Danie Marais is ’n bekroonde digter en skrywer van Stellenbosch.

Meer oor:  Boek  |  Danie Marais  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.