Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dié krimi ry die kruin van vergelding

‘Doodsengel’ deur Madelein Rust is deel van ’n groep plaaslike misdaadfiksie wat fokus op vigilante-optrede deur karakters wat voel die regstelsel het slagoffers van geweld in die steek gelaat, skryf Jonathan Amid.

Doodsengel deur Madelein Rust. Uitgewer: Lapa. Prys: R315.

Madelein Rust se sesde krimi is om minstens vier redes die koop werd.

In die eerste plek is dit loshande die skrywer se mees geslaagde sielkundige riller – ’n byna volmaakte pakket van ondraaglike spanning, oortuigende, geloofwaardige, driedimensionele karakters, opspraakwekkende tonele van geweld en vergelding, en ’n verbluffende balans tussen intrige, raaiselwaarde, onthoubare hoof- en newekarakters en onheilspellende atmosfeer.

Die tweede rede: Dié tipe krimi is bepaald ’n hoogtepunt in die sielkundige-riller-subgenre wat elke nou en dan kragtig kop uitsteek in Afrikaans – onder die voorbeelde tel Isa Konrad se Die soenoffer (2011), Martin Steyn se Swartval (2016) en Rudie van Rensburg se Medusa (2019). Elkeen van hierdie titels is uitsonderlik danksy die gehalte van die vertellings wat navorsing omskep in verhale wat eenvoudige antwoorde en swart-en-wit wêreldbeskouings die rug toekeer.

Doodsengel is meer gemoeid met die grys gebiede, ongemaklike afdraaie en tergende ambivalensie as die gewone krimi wat dit laat uitstaan in ’n stampvol mark.

In ’n samelewing waar dit dikwels voel of geregtigheid net geskied in hoëprofielsake of vir mense wat die beste regsverteenwoordigers kan bekostig, het Rust ’n verhaal geskep wat op die oppervlak én dieper vlakke slaag en vermaak.

Die derde rede waarom Doodsengel ’n waardevolle belegging is, is tweeledig: Rust kry dit reg om ’n nagmerrie in 43 hoofstukke te skep wat belangrike vrae stel oor die rol van ons regstelsel, ons geregsdienaars, ondersteuningstrukture, toevlugsoorde vir geweldslagoffers, en die fisieke en psigologiese trauma van slagoffers. Let wel: Vrae vra en antwoorde gee is twee kante van dieselfde munt, maar nie dieselfde ding nie. Soos met elke nagmerrie kan daar vir die leser ’n ruimte oopgaan om sy of haar eie vorm van trauma te verwerk.

Verder moet ek byvoeg dat Doodsengel ’n buitengewoon hoë “herlees-waarde” het: Lesers sal die roman die eerste keer grootliks lees om die intriges en wendings in te neem. Uit eie ondervinding weet ek dit is die tweede en derde lees wat duidelik maak presies hoe vaardig die skrywer is wanneer dit kom by tydspronge tussen verlede en hede en die verskillende fases van die karakters se lewens; hoe behendig sy omgaan met taal, beskrywings of eerder die beliggaming van pyn, afsondering, eensaamheid en verwerping.

Die vierde en finale rede is ook die een wat straks die meeste gesprek sal ontlok: Ek beskou Doodsengel as ’n soort kruin van die golf wat betref ’n hele beweging in die plaaslike misdaadfiksiekorpus: die vergeldingsverhaal, die (weer)wraakriller, of die krimi wat fokus op vigilante-optrede deur karakters wat voel dat die regstelsel en howe geweldslagoffers in die steek gelaat het.

In ’n samelewing waar dit dikwels voel of geregtigheid net geskied in hoëprofielsake of vir mense wat die beste regsverteenwoordigers kan bekostig, het Rust ’n verhaal geskep wat op die oppervlak én dieper vlakke slaag en vermaak.

Magdalena Bakkes – slagoffer van seksuele misbruik in haar jeug, slagoffer van omstandighede in haar volwasse lewe, en iemand wat lankal die opvatting dat mense inherent goed is in haar kop nek omgedraai het – is sowel suksesvolle sielkundige en vigilante as kampvegter en kryger.

As die doodsengel van die titel is Magdalena ’n fiktiewe heldin wat ons dwing om tot op die laaste bladsy ’n uiters ongemaklike ruimte te betree – die ruimte waar elkeen van ons die realiteit moet aanskou van een gewone mens se pyn en lyding aan die hand van diegene wat veronderstel was om haar lief te hê en te beskerm. Sonder oogklappe, sonder ’n filter, sonder die belofte dat alles uiteindelik goed en wel sal wees.

Behoed die krimiskrywer wat in Madelein Rust se voetstappe sal wil volg.

Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.