Talle Afrikaanse skrywers neem die naweek tydens die Franschhoek-letterkundefees deel aan gesprekke oor onder meer selfontdekking deur middel van skryf, wanneer die tyd reg is om voltyds te begin skryf, die skep van ’n storielyn en vertalings van klassieke werke.

Deon Meyer
Deon Meyer neem deel aan nie minder nie as drie besprekings gedurende die fees.
Hy en die skrywers Peter Church en Imraam Coovadia gesels met Africa Melane oor die ingewikkeldheid van ’n storielyn skep – en om daarby te hou.
Meyer gesels ook Vrydag oor waar hy aan sy eerste storie gekom het – daardie oomblik wat hom op dreef gebring het.
Meyer neem ook deel aan ’n bespreking waarin Pippa Hudson wil weet hoe ’n aangename skrywer in die kop van ’n moordenaar klim. Mike Nicol en Louise Treger gesels saam. Hy en Lauri Kubuitsile gesels met Ekow Duker hieroor.

Ingrid Winterbach Foto: Brenda Veldtman
Brenda Veldtman
Ingrid Winterbach, wie se boek Die troebel tyd (The Troubled Times of Magrieta Prinsloo) in 2018 uitgereik is, neem deel aan ’n gesprek oor hoe skrywers met hul skryfwerk hulself ontbloot en ontdek.
Die ander paneellede is Sue Nyathi, Carol Gibbes en Joanne MacGregor (gespreksleier).
Winterbach en Tony Peake bespreek die moeilike aspekte van ’n storie saamstel.

Zirk van den Berg
Zirk van den Berg neem deel aan ’n paneelgesprek oor die bekoring van ’n brief wanneer ’n mens die verlede neerpen, soos met sy roman Parts Unknown (Die vertes in). Hy en Clare Houston (An Unquiet Place) en Mark Winkler (Theo & Flora) neem hieraan deel. Steven Boykey Sidley is die gespreksleier.
Antjie Krog gesels in Translating the classics met Nkosinathi Sithole (No Matter When) en David wa Maahlamela (Stitching a Whirlwind: An Anthology of Southern African Poems and Translations) oor die vreugdes en uitdagings van die Africa Pulse-projek waardeur agt Afrika- literêre werke in Engels vertaal is.
Irma Venter, bekend om haar misdaadromans, neem deel aan die bespreking wat die vraag vra oor wanneer ’n mens jou dagwerk kan opgee en voltyds skryf.
Saam met haar op die paneel is die skrywers Joanne MacGregor en Wamuwi Mbao (gespreksleier).
Ena Jansen, wie se boek Soos familie oor huiswerkers in die Suid-Afrikaanse letterkunde onlangs in Engels as Like Family uitgereik is, en Fiona Snyckers bespreek waarvoor feministe regtig veg.
Joernaliste soos Pieter-Louis Myburgh, Herman Lategan, Erns Grundling en Pieter van Zyl tree ook op.

Ena Jansen Foto: Corina van der Spoel
Corina van der Spoel
Myburgh, wie se boek Gangster State oor die ANC-sekretaris-generaal Ace Magashule opslae maak, gesels met Ralph Mathekga, onder meer oor die vraag of die ANC in staat is om die land te regeer. Myburgh praat ook met Lester Kiewit, politieke joernalis van Cape Talk, oor hoe hy Magashule se beweerde korrupsie, verdagte transaksie en verhouding met die Guptas ontbloot het.
Grundling beantwoord saam met Lerato Mogoathle en Sihle Khumalo Darrel Bristow-Bovey se vrae oor reis en daaroor skryf.
Lategan, wie se boek Opstokers, fopdossers en tweegat-jakkalse, ’n bloemlesing van sy rubrieke gebundel in 2018 verskyn het, gesels met Hagen Engler oor taal, kultuur, mense en enigiets Suid-Afrikaans wat vermaak of kwaad stook.
Die Huisgenoot-joernalis Pieter van Zyl, wie se boek Gert en Joey, oor Gert van Rooyen en Joey Haarhoff wat ses meisies ontvoer het, in 2018 verskyn het, gesels oor die soeke na die waarheid, hetsy met die skryf van nie-fiksie of fiksie. Leon Schreiber en Victor Dlamini (gespreksleier) gesels saam.
* Die fees duur van Vrydag tot Sondag. Besoek flf.co.za vir die volledige program en tye van besprekings. Bespreek by Webtickets.