Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die kuns om kos en mense te ken

‘Wat die hart van vol is’ lê hom na aan die hart, skryf Kerneels Breytenbach.

Wat die hart van vol is: Herinneringsreise van ’n fynkok deur Peter Veldsman, met Elmari Rautenbach. Uitgewer: Penguin Books. Prys: R230.

Zirk van den Berg vertel van ’n medestudent by die Michaelis-kunsskool wat erg gebelg was toe hul lektrise eens Rubens se lywige vroue beskryf het in terme van sensualiteit en erotiek. Die lektrise het die mannetjie aangestaar, en hom sag geantwoord: “Live a little, sir.”

Leef eers ’n bietjie . . .

Hierdie woorde behoort ’n voorvereiste te wees wanneer enigiemand daaraan dink om sy herinneringe neer te pen. Sommige lewens is vol en geskakeerd. By ander sal mens sukkel om ’n string insidente te vind wat getuig van ’n interessante lewe, laat staan nog ’n noemenswaardige een.

Met die verloop van jare het ek Peter Veldsman al baie hoor vertel. By Mavis se beroemde koffiewinkel (formeel bekend as Mark’s Coffee Shop, maar Rashida “Mavis” Hendricks was die spilpunt) in Kerkstraat, Kaapstad, asook in die kafeteria van die Naspers-sentrum in die 1980’s, ná etes by Emily’s in Roodebloemweg, Woodstock, en later in die Waterfront.

As daar een ding is wat ek nog altyd geweet het, is dit dat Veldsman genoeg geleef het vir ’n merkwaardige boek – en nog te spaar sal hê wanneer hy die groot vertel onderneem. Wat die hart van vol is ís presies dit, merkwaardig, maar ook soveel meer.

Geskiedskrywers sal dit hul saak maak om die feite van ons tyd netjies in ’n ry te plaas, te vertolk en ons die betekenis te laat snap. Dit kan soms ’n gevoel van vervreemding veroorsaak as hulle oor die eietydse dinge skryf en jy voel dit was vir jou anders. Iewers tussen amptelike en persoonlike geskiedenis lê die tekstuur van ons lewens.

En dit is dít wat Peter Veldsman en sy skriba, Elmari Rautenbach, in hierdie veels te dunne boek regkry. Ek het dit gelees met ’n groeiende besef van die ryke geledinge van nie alleen Peter Veldsman se lewe nie, maar ook die ontluikende stad Kaapstad, en die dorpe van die omgewing. Dit is só netjies dat Veldsman dit nóú die lig laat sien, terwyl soveel van die mense wie se lewens deur hom verryk is, nog met ons is.

Veldsman se fokus verskuif van sy geliefde Kannaland na Stellenbosch na Kaapstad. Dit is ’n lewe wat meer as net ’n geteleskopeerde blik opeis: Die klem verskuif daarmee saam van plattelandse onskuld en kultuur na die enorme kulturele sprong wat in die Kaap geneem is van die vroeë 1960’s tot die 1990’s en tot nou toe.

Die Stellenbosch van sy studentejare was een van min restaurants, maar ook ’n wellewende sosiale lewe en onthaalkuns. Dit is hier waar Veldsman sy vroegste netwerke van vriende bou, en in sy besoeke aan Kaapstad die restaurante van daardie tyd besoek – Fracarlo, Bellinzona en Alt Wien.

As jy wil weet wie die toonaangewende mense in die Kaap tussen 1960 en 2011 was, lees hierdie boek. Veldsman se lewe is met almal s’n vervleg.

Hy vertel baie van sy oorsese reise en belewenisse. Normaalweg is sulke dele van memoirs taamlik vervelig. Nie hier nie. Peter Veldsman is iemand wat ons lewens verryk het met elke nuwe ontwikkeling in sy lewe, en die oorsese gedeeltes gee die leser weer ’n baie goeie insig in die dinge wat hóm gevoed het.

Sy dae by die Silwood Kitchen is die jare waarin sy kookkuns ontwikkel het – vernuf wat onderlê is met talent en ’n belangstelling uit sy kinderdae uit. Maar Veldsman is ook iemand met ’n baie skerp oordeel oor en liefde vir musiek, wat dan beklemtoon dat hy ’n esteet is, ’n kreatiewe mens vir wie konteks ewe belangrik is as die fyner detail daarbinne. Waar hy volksbesit geword het, was via sy kosdemonstrasies saam met Sannie Smit oor die land heen, en veral deur sy skryf- en promosiewerk vir die tydskrif Sarie en later Rapport.

Daar bestaan by my geen twyfel dat Veldsman Afrikaanse vroue en mans help voorberei het op die geweldige ontploffing van diverse soorte kookkuns en die dramatiese toename in en waardering vir restaurante in die stede van Suid-Afrika nie. In hierdie opsig kan mens sonder vrees van teenspraak sê dat Peter Veldsman ons land en sy mense verryk het met die kuns van wellewendheid.

Wat die hart van vol is, is onderhoudend geskryf en propvol dinge wat ek graag wil onthou – omdat Peter Veldsman se geskiedenis deel is van die geskiedenis van alle Naspersers tussen 1976 en die middel 1990’s, en van Kaapse smulpape tot die 2010’s. Elmari Rautenbach verdien baie lof vir die manier waarop sy Veldsman se stem laat deurkom: moeiteloos vertel, keurige styl, en ’n bonus van interessante foto’s.

Daar is sekerlik baie dinge wat weggelaat moes word, en wat waarskynlik nog ’n verdere 250 bladsye sou kon gevul het. Wat ek hierbo gegee het, is ’n voëlvlug. Ek laat die plesier van name en mense en liefdesverhoudings en lekker resepte en beskrywings van hemelse kookkuns aan die lesers van die boek oor.

Dis ’n boek wat my na aan die hart lê, en wat ek graag aanbeveel.

  • Kerneels Breytenbach is ’n skrywer, ouduitgewer en joernalis.
Meer oor:  Kerneels Breytenbach
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.