Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die Laeveld se Boere-Aussie

Met 17 blitsverkopers op sy kerfstok word die Australiese spanningsverhaalskrywer Tony Park dikwels ‘die nuwe Wilbur Smith’ genoem. Maar Park, wat ses maande van die jaar by sy huis in die private natuurreservaat Sabiepark deurbring, sit beslis vir Smith ore aan wanneer dit kom by inklim onder die vel van die omgewing waaroor hy skryf, meen Hennie van Deventer.

Die Australiese skrywer Tony Park en sy vrou, Nicola, afgeneem saam met ’n besoeker voor hul huis in Sabiepark.

In sy boeke laat die speurder Sannie van Rensburg gereeld die skurke les opsê. Die slegte ouens is dikwels renosterstropers, ivoorjagters en avonturiers met ’n paar geharde veldwagters in Toyota-bakkies kort op hul hakke. ’n Kelnerin word “Tatenda, sisi” gegroet en ’n mislike vent pront ’n “poepol” genoem.

Dit klink of ’n Botha of Van der Merwe hier die pen vashou, of hoe? Darem sekerlik ’n Laevelder of ten mínste ’n Suid-Afrikaner. Maar nee, hierdie is ’n Park uit Sydney, Australië: Tony Park, die skrywer van 17 aksiebelaaide spanningsverhale met ’n Suider-Afrikaanse adres. Almal blitsverkopers.

Op die omslag van sy jongste roman, Ghosts of the Past, pryk ’n sterk aanbeveling deur niemand minder nie as Deon Meyer: “Tony Park is a master story teller. I love his work.” Dié boek, wat handel oor ’n raaiselmoord in die ou “Duits­wes”, is onlangs landwyd bekend gestel. Heel eerste aan die beurt was nie Johannesburg of Kaapstad nie, maar Hazyview – en ook nie om dowe neute nie. Hazyview is die naaste groot dorp aan die Parks se “ander huis”, waar hulle sedert 2012 om die beurt tuisgaan: ses maande in Sydney, ses maande hier.

‘Soveel van Sabiepark beïnvloed my skryfwerk.’

Tony het in 1995 verlief geraak op Suid-Afrika ná ’n eerste besoek waarvoor hy nie besonder lus was nie – sy vrou, Nicola, moes hom behoorlik hierheen sleep. Maar die oomblik toe hy die Krugerwildtuin binnery, het alles verander: “I was blown away. It was the combination of landscape, wildlife, excitement, the unpredictability, you know. It was unlike any other holiday we’d been on before,” het hy sy bekering aan Sanparke se tydskrif Wild beskryf.

Daarna het hulle vir 20 jaar élke jaar hierheen gekom, buiten die tyd toe dié oudjoernalis en -soldaat in Afganistan moes gaan militêre diens doen. In 2012 het hulle ’n boshuis gekoop in Sabiepark, ’n private natuurreservaat aan die Sabierivier reg by die Krugerhek – ’n plek waarop hy versot is.

Sedertdien het agt nuwe Tony Park-titels op die boekwinkelrakke geland, almal knewels. Maar tyd om te speel is daar darem ook. Elke middag oor die skemerkelkie-uur kan jy maar weet waar om die Parks en hul ou olyfgroen Land Rover te soek. Met hul lang lense en volgepakte piekniekmandjie is hulle ’n bekende gesig by die piekniekplek langs die Sabie. Geen ander inwoner het so ’n valk­oog vir luiperds nie, en al is die gras en riete hoe dig, snuffel Tony hulle uit. Sy foto’s op die private webblad van die eienaars laat die mond behoorlik water.

Sabiepark het van Tony toenemend ’n “Boere-Aussie” gemaak en dit verklaar ook die milde gebruik van Afrikaanse woorde in sy boeke: ja, “lekker”, “boerewors”, “braai”, “babelas”, “dagga boy” en ander. En pure Laevelder: Sy karakters lees Die Laevelder en koop graag by die Spar op Phalaborwa. Maar ook ’n Hazyviewer: Hy ken Oom Kallie se slaghuis, wat onder meer aan die wildtuin vleis verskaf, en was bewus van die gewilde Pepper Vine Bar wat intussen sy deure gesluit het. Hy het ook die plaaslike taal, Tsonga, begin leer, maar toe steel ’n verduiwelse bobbejaan sy aantekeninge uit die huis!

Oor die wildtuin skryf Tony só dat sy lesers se tone behoorlik krul. The West Australian noem dit “sharp and sensory” en ek onthou steeds my vrou se skaterlagbui oor ’n toneel waarin Britse “James Bonds” ’n ontvoerde hoë uit die kloue van die vyand red. Op pad na die Krokodilrivierhek beland hulle in ’n verkeersknoop veel erger as dié in Londen en uit moedeloosheid pluk die een sy vuurwapen uit en vuur ’n skoot in die lug af. Toe eers ontdek hulle die rede vir die chaos: ’n trop leeus in die pad!

Vir baie resensente is Tony Park “die nuwe Wilbur Smith”. Die tydskrif Crime Review skryf onder meer: “Since Wilbur Smith in his heyday no one has written as well about Southern Africa than Tony Park.” Maar so onder die vel van die omgewing waaroor hy skryf, het Smith werklik nog nooit gekom nie, wil hierdie aanhanger beweer.

Dit is ook nie toevallig nie dat Sabiepark – of eerder: ’n fiktiewe weergawe daarvan – deel was van die inspirasie vir sy laaste agt boeke, sê Tony. Hy het die plek ontdek terwyl hy navorsing gedoen vir The Prey (2013), wat oor onwettige goudmynbedrywighede handel.

Casper Strydom, ’n ander Sabieparker, wat hoofbestuurder was van die Fairview-goudmyn naby Barberton, was geneë om te help. Hy sou Tony op ’n toer deur sy myn neem. Hul eerste ontmoeting was vir ’n braai by Strydom se huis in Sabiepark terwyl die Parks in die wildtuin gekampeer het. Strydom het hulle rondgewys. Hulle het gekyk na ’n paar huise wat in die mark was “en die res is geskiedenis”.

In The Prey vind van die aksie plaas in die mynbestuurder se vakansiehuis in ’n denkbeeldige private natuurreservaat met die naam Hippo Rock. Dit is nie juis ’n geheim nie dat Hippo Rock Sabiepark uitgeknip is. Hippo Rock duik ook in verskeie van sy latere boeke op.

“Ek het verskeie goeie vriende gemaak onder die huiseienaars en personeel in Sabiepark en baie van hul stories en wedervaringe is in my boeke opgeneem. Die Afrikaner- en Sjangaan-Tsonga-mense wat ek ontmoet, is ongelooflik vriendelik en gaan uit hul pad om ’n mens te laat tuis voel. Hul gebruike en tale het ook in my skryfwerk neerslag gevind.

“Afrikaans is so ’n wonderlik beskrywende taal dat ek lief is daarvoor om iets daarvan in my boeke in te werk. Ek het ’n Afrikaanssprekende vriend in Johannesburg wat deesdae as my proefleser optree. Dit is noodsaaklik, want ek het in een van my eerste boeke die onvergeeflike flater begaan om boerewors verkeerd te spel!”

Ander Laeveldse omgewings is ook sterk invloede. Die nimlike Sannie van Rensburg trek van Johannesburg na haar familieplaas naby Hazyview en uiteindelik koop sy en haar Engelssprekende man, Tom, ’n plek by Hippo Rock. Trouens, in The Cull (2017) los kapt. Van Rensburg ’n misdaad op danksy haar kennis van die toegangsprosedures by Hippo Rock se sekuriteitshek, wat gegrond is op die werklike veiligheidsplan by Sabiepark.

Ook die wildtuin is ’n groot bron van inspirasie – en die jongste, boek nommer 17, Ghosts of the Past, speel deels af in die omgewing van die Krugerwildtuin.

’n Karakter wat in ’n paar boeke opduik, die safarigids en private speurder Hudson Brand, pas ’n huis op in Hippo Rock – in werklikheid die huis van die mynbestuurder van The Prey. Sonja Kurtz, een van Tony se gewildste karakters, woon soms in die Hippo Rock- private natuurreservaat by haar aan-af-kêrel, Hudson Brand.

Maar die regte Sabiepark word slegs in een boek, The Hunter (2014), by die naam genoem. Daarin voer speurder Van Rensburg en haar span ’n operasie uit om ’n spul nare karakters in die Sabi Sand-wildreservaat aan te keer. Voordat hulle toeslaan, kom hulle byeen by die afdraaiplek na Sabiepark vir ’n voorligtingsessie.

“Soveel van Sabiepark beïnvloed my skryfwerk: die omgewing, die mense wat daar woon en werk, en die wildlewe. Selfs ou Vin Diesel, ons manjifieke inwonende luiperd, nou saliger, word in een van my boeke vermeld.

“Vir ’n skrywer is dit ideaal om iewers te kan skryf waar jy inspirasie en vreedsaamheid vind, en Sabiepark bied dít alles en veel meer.”

Van Sydney tot ABO

Ghosts of the Past speel af oor twee eeue heen en is gegrond op ’n ware verhaal: In 1906 word ’n Australiese avonturier in Afrika deur die dood in die gesig gestaar; in die hedendaagse Sydney vind ’n werklose joernalis uit sy oorgrootoom was betrokke by die Anglo-Boereoorlog (ABO) en die onafhanklikheidstryd van Suidwes-Afrika; en in Duitsland is die historikus Anja Berghoff besig met navorsing oor die woestynperde van Namibië . . .

Die boek word uitgegee deur Pan Macmillan en kos R285 by goeie boekwinkels.

Meer oor:  Tony Park  |  Ghosts Of The Past  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.