Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Die legkaart van die lewe

Debbie Loots het binne tien weke ’n eerste weergawe van haar tweede roman, ‘Die boek van gelukkige eindes’, voltooi en tot haar verbasing daarmee die derde prys in NB-uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd gewen. Johan van Zyl het by haar woonstel in Seepunt met haar gesels.

Debbie Loots afgeneem in haar woonkamer in Seepunt. Albei skilderye is haar eie werk: Wildtuin hang bo die wit kas, en ’n deel van Melankoliedjies word in die spieël weerkaats. Foto: Peter van Noord

Kyk na die aanvallige vrou op die geel rusbank, die een wat haarself op Instagram en Twitter besnoei tot “skrywer, kunstenaar, feminis en redakteur”. Sy lag tog oor dié woordkeuse. Effens verleë. Maar skimp ook: “Ja, dis vreeslik, hierdie klomp labels wat ’n mens jouself gee, en joernaliste sal waarskynlik nog ’n klomp wil byhang, hopelik sonder al die vooropgestelde idees wat daarmee saam kom.”

Soos? Wel . . . geskeide vrou? Ma van drie dogters (aan wie die nuwe roman opgedra is)? Ouma van twee? ’n Kunstenaar wat betreklik laat in haar lewe sélf haar twee groot drome – om kuns te swot en ’n boek te skryf – bewaarheid het?

Op amper 55 lyk Debbie die welgeluksaligheid self, daar waar sy voete onder haar ingevou op die sofa sit. Soos iemand wat van kleins af wysgemaak is – en toe op die harde manier geleer het – van lekker lag kom lekker huil, maar wat intussen besef het dit werk ook andersom, en dat álle stories – waar of wolhaar – slegs een huisie is van ’n groter lemoen.

‘Wel jy het nou ’n prys gewen, jy beter dit regruk.’

Daarom word goedgelowige lesers – dié wat in hierdie onrusbarende tye dalk Die boek van gelukkige eindes optel met ’n desperate dors na die banket van gelukkige eindes wat in die titel gesuggereer word – met die intrapslag gewaarsku in die vorm van ’n aanhaling uit Orson Welles se laaste draaiboek, The Big Brass Ring: “If you want a happy ending, that depends, of course, on where you stop your story.”

Haar uitgewer beskryf Die boek van gelukkige eindes as “ ’n genuanseerde, ironiese blik op seks, intieme verhoudings en eksistensiële krisisse” waarin 15 uiteenlopende karakters sélf (en soms deur middel van hul interaksie met ’n sielkundige) hul saak stel – party meer as een keer; ander, soos die enigste bruin karakter, nooit nie.

“Ek het nog altyd van báie karakters gehou,” sê sy, “en vir hierdie roman wou ek half net inval in hul lewens, sommer iewers in die middel, en die dinge en drade van daar af uitpluis en bymekaar bring. Die Welles-aanhaling en die gedagte dat daar ’n klomp happy endings kan wees, was rigtinggewend vir my, en nóg meer so toe ek die idee kry om die storie op te deel in ’n klassieke begin, middel en einde en ten slotte ’n ekstra ‘ná die einde’-gedeelte wat ’n mens onder meer laat dink oor wát ’n happy ending is en of daar enigsins so iets kan wees.”

In hierdie opsig was Short Cuts (1993), die ambisieuse Amerikaanse fliek wat Robert Altman uit nege kortverhale en ’n gedig van Raymond Carver saamgeweef het, ’n belangrike bron van inspirasie. Altman het in sy grensverskuiwende rolprent nie net die lewens van 22 karakters op eiesoortige wyse verstrengel nie, maar ook die weg gebaan vir ’n gans nuwe manier van storievertel.

Ontmoet die skrywer
Kaapstad: Debbie Loots tree op Maandag 5 Augustus om 17:30 vir 18:00 in gesprek met die Kaapse sielkundige Abraham le Roux. Dit vind plaas by The Book Lounge in Roelandstraat. RSVP: booklounge@gmail.com of 021 462 2425.

Stellenbosch: Die twee gesels weer op Saterdag 31 Augustus om 11:00 by die Protea-boekwinkel in Andringa­straat. RSVP: 021 882 9100 of akruger@proteaboekwinkel.com.

Dit is ook wat sy met Die boek van gelukkige eindes wou doen. Sy beskou dit as haar “eerste regte boek” en haar “eerste eie poging”, al is dit voorafgegaan deur Split (2015), haar debuutroman wat goed ontvang en in 2016 met die ATKV-prosaprys bekroon is.

Dié het sy voltooi as deel van ’n meestersgraad in skeppende skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad met Etienne van Heerden as haar studieleier.

“Met Split, wat oor ’n tydperk van drie jaar geskryf en afgerond is, het ek beslis meer tyd gehad en natuurlik ook ’n veilige vangnet en klankbord in die vorm van Etienne. Hy het my baie oor die groter prentjie en eerlike skryfwerk geleer.

“Dit is ook vir hom wat ek moet bedank dat ek enigsins in Afrikaans skryf. Ek het Afrikaans grootgeword in Randfontein aan die Wes-Rand, maar behalwe vir kort tye by Die Transvaler en Vrye Weekblad lank gelede het ek as joernalis nog altyd in Engels gewerk. Ek is ook vir die kursus by die Universiteit van Kaapstad aanvaar op grond van ’n essay wat ek in Engels geskryf het, maar Etienne het my oortuig om my hand aan Afrikaans te waag – en het in reaksie op my eerste stuk Afrikaanse skryfwerk onmiddellik gesê my Afrikaans is beter, kragtiger, gewigtiger . . .

“Op dié manier het my Afrikaanse woordeskat, veral allerhande outydse woorde, stadigaan teruggekom. Met Split was ek vasbeslote om nié oor myself te skryf nie . . . hulle sê mos alle skrywers se eerste boek gaan in wese oor hulleself, maar vir my het dit so half sad en pateties gevoel. Nou weet ek daardie story of a different time and place moes eers uit my gestel kom voordat ek hierdie boek kon skryf.

“Met die tweede boek wou ek volkome my eie ding doen – natuurlik met insette van my uitgewer en die Kaapse sielkundige Abraham le Roux, wat vyf jaar my terapeut was – en tog het nóg een van Etienne se lesse in my agterkop bly draai: Dit maak nie saak wat jou idee of storie is nie, doen áltyd iets anders met jou karakters. Wat is die malste ding wat met hulle kan gebeur, wat is die malste ding wat jou karakters kan aanvang sonder om geloofwaardigheid in te boet? Always push them – and push them hard.”

Vir alle praktiese doeleindes het die vagevuur van die tweedeboeksindroom – ’n skrywer se vrees dat boek twee nie voldoen aan die verwagtinge wat deur die debuut geskep is nie – haar totaal verbygegaan.

“Laat ek eerlik wees: Toe ek onthou van die Groot Afrikaanse Romanwedstryd, was daar net twee en ’n half maande oor voor die sluitingsdatum. Ek het geweet ’n mens kan nie ’n roman in twee en ’n half maande skryf nie, maar ek was mal genoeg om te probeer, al was dit werkgewys ’n verskriklike besige tyd vir my en al kon ek net in die aande werk. Dit is hoekom ek so verras was toe ek die derde prys wen, want daardie eerste weergawe was volgens my glad nie ’n goeie boek nie. Maar toe dink ek: Wel, jy het nou ’n prys gewen, so jy beter hierdie roman regruk. Nog stories en karakters het bygekom, ander het saamgesmelt, en selfs tot die bitter einde het ek bly karring aan die stukkies puzzle van elke karakter se lewe.”

Ook in haar eie leweval dinge stadigaan weer in plek, sê Debbie oor middagete en ’n glas van die alkoholvrye wyn wat sy in die week drink.

Spring met jóú roman
Jy het net meer as ’n jaar oor om jóú Afrikaanse roman van minstens 40 000 woorde te voltooi en in te skryf vir NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd 2021. Inskrywings word vanaf 1 Junie 2020 aanvaar en sluit finaal op 1 Augustus.

Vier pryse van altesame R350 000 is op die spel: Die wenner kry R200 000, die naaswenner R70 000 en die derdeprys- en debuutpryswenner R40 000 elk.

?Vra ’n inskrywingsvorm (met die volledige reëls en vereistes) aan by Sadé Walter: 021 406 3412 of romanwedstryd@nb.co.za.

Sy is byvoorbeeld ongelooflik trots op haar drie dogters: die tweeling, Roxanne en Ltisch, wat sy op 19 gehad het – “een van daai stupid sondes uit my Randfontein-dae” – is nou 35 jaar oud en getroud, en haar jongste, Mila (14), bly in die week beurtelings by haar en haar eksman, aan wie sy Split opgedra het. Sy doen ook moeite om haar twee kleinkinders meer gereeld te sien.

“En verder is ek in die gelukkige posisie dat ek van die huis af kan werk en die pot aan die kook kan hou met skeppende werk, hoewel ’n mens in die joernalistiek nie heeltemal dieselfde vryheid het as met fiksie nie en binne die eiesoortige persoonlikheid van die spesifieke publikasie moet bly.” (Debbie is tans redakteur van die kwartaallikse leefstyl-en-eiendomtydskrif Real Life en Business Day se eiendomsbylae, Home Front.)

Die gesprek keer terug na selfopgelegde etikette. Skryf ’n selfverklaarde feminis anders oor manskarakters, speel jy duiwelsadvokaat, en bied ’n verhoudingsroman soos haar jongste die geleentheid vir ’n vorm van “kreatiewe regstellende aksie”?

Sy lag: “Dalk tog, vernaam in die begin! Veral in romantiese verhoudings besef jy presies hoe anders mans aanmekaargesit is, hoe anders hulle dink, hoe natuurlik daardie ownership-ding vir hulle kom . . . wel, seker net so natuurlik soos so baie vroue se ding to serve. So, ja, in die begin is jy dalk ’n bietjie rof met die manskarakters, maar as hulle eers hul eie pad begin stap, raak hulle weer endearing – as mans en as mense. Soos dit hoort.”

En hoe gaan sy mense antwoord wat wil weet waarom byna al die karakters in Die boek van gelukkige eindes spierwit is en murmureer oor “wit mense se probleme”?

Sy lag weer, maar die irritasie oor die hand kaarte wat álmal in Suid-Afrika op grond van hulle velkleur gedeel word, skemer tog deur.

“Ek het geweet ek gaan hieroor gevra word; dus kan ek net sowel op jou oefen. Eerstens: Hoekom maak dit saak? What are you actually asking me?

“Ons bly in ’n land waar almal soveel issues het, maak nie saak wat jou kleur is nie. Hoekom móét ek oor hierdie gebrokenheid skryf, die feit dat ons nié een nasie is nie?

“Jy weet, kort voor die boek drukker toe is het ek die lawwe idee gekry om ’n bruin manlike skrywer te vra om vir die Calvin-karakter ’n stem te gee, maar die uitgewer het gelukkig ’n stokkie voor die simpel plan gesteek.

“Uiteindelik kom dit terug na Etienne se les oor being honest at all times. Ek is ’n wit vrou wat in Suid-Afrika bly, wat in Suid-Afrika wíl bly. Wat kan ek of moet ek doen om ook hier te woon? Sê my. Sê my hoe ek jou kan help om my te help.”

* Lees Deborah Steinmar se resensie oor die boek hier.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.