Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Die lekkerste werk onder die son’
Hanli Deysel

Vir Hanli Deysel is die ontwerp en uitleg van boeke ‘die lekkerste werk onder die son’. Elretha Britz het geluister terwyl sy passievol verduidelik wat haar beroep behels.

“Die heel lekkerste is om alles in ’n boek te verweef, die voorbladontwerp en die uitleg van die teks. En as die leser ná die lees van ’n boek agterkom wat die buiteblad uitbeeld, het ek my werk goed gedoen.”

Hanli Deysel, ’n ontwerper by Protea Boekhuis, gesels uit haar huis in Rosendal en sê ná sowat 15 jaar raak sy steeds kinderlik opgewonde wanneer sy die boks met die kwartaal se nuwe boeke oopmaak en die eerste keer haar voltooide handewerk sien.

“Neem nou Renée Rautenbach Conradie se boek Met die Vierkleur in Parys. Dit bevat ’n lushof beskrywings van die Franse hoofstad in 1900 wat my dadelik gelei het na ’n illustrasie uit dieselfde era. Dié art nouveau-illustrasie van die

figuur Marianne, die nasionale personifikasie van Frankryk sedert die Franse Rewolusie, verskyn in die uitstalboek van die groot wêreldskou in Parys waar die Zuid-Afrikaansche Republiek ’n paviljoen gehad het.”

Die skou is die vertrekpunt vir die liefdesverhaal waaroor Conradie skryf: “Die konserwatiewe Afrikanerman Paul Roux word deur die oorweldigende kleure, geure en teksture van die stad van liefde verblind, raak verstrik in absint en raak in die nagklubs van guitige Parys die spoor byster.”

Deysel sê sy het die pragtige foto van Marianne laat skandeer en nouveau-letterwerk gevind wat daarby pas.

“Op die amptelike advertensie vir die Transvaalse paviljoen was ’n Vierkleurvlag wat ek skelmpies in die agterkant van Marianne se trompet gesteek het en siedaar, die Vierkleur in Parys.” 

Deysel sê vir bemarkingsdoeleindes moet die voorblad voltooi wees maande voordat die boek verskyn. Sy kry dus nie noodwendig die manuskrip te lees nie, maar die redakteur sal ontwerpinstruksies aan haar voorlê waarin die belangrikste elemente en oomblikke in die boek gemeld word.

Op grond daarvan, asook bykomende materiaal wat die skrywers soms gee, kan sy reeds ’n prentjie in haar kop vorm.

Die plakkate en biljette wat Conradie saam met die uitstalboek gegee het, het byvoorbeeld gehelp om die gevoel van die tydperk weer te gee.

Vierkleur is een van die boeke waarvoor Deysel van begin tot einde verantwoordelik was. Dit behels naas die buitebladontwerp ook die uitleg van die inhoud.

“Ek moet dus ’n lettertipe vir die teks en die hoofstuk-hofies kies, ek bepaal hoe die bladsynommers lyk, hoe breed die kantlyne moet wees en ek moet selfs die woordbreke met die hand aanbring.”

Vir die keuse van die lettertipe moet leesbaarheid en die genre in ag geneem word. Vierkleur se teks is ’n klassieke lettertipe met goeie leesbaarheidseienskappe en die opskrifte is in ’n art nouveau-letter, soos op die voorblad.

Deysel sê die lettertipe is ook belangrik vir herkenbaarheid – dat die leser met een oogopslag kan agterkom watter soort boek dit is. Spanningsverhale word byvoorbeeld in groot vet sans serif-letters gedruk, liefdesverhale in sagter, vroulike letters en ’n kunskoffietafelboek in dun sans serif-letters wat nie emosie ontlok nie.

“Die neigings verander natuurlik oor die jare, net soos modes en om op die hoogte te bly boer ek in boekwinkels. Die

hoogtepunt der hoogtepunte is egter my besoeke aan die Frankfurtse Boekebeurs waar ’n mens kan sien wat die jongste tendense in die buiteland is.”

Protea Boekhuis publiseer meestal Afrikaanse boeke waarvan baie geskiedenisboeke is en daarvoor is foto’s gewoonlik die beste keuse vir die voorblad. In gevalle waarvoor ’n kunswerk nodig is, word ’n vryskutillustreerder opdrag gegee om iets gepas te skep.

Deysel sê sy sou nie omgee om dit self te doen nie, maar daar is bloot nie tyd nie. Sy is op enige gegewe tyd met

tussen 15 en 20 boeke in verskillende fases van voltooiing besig.

“Ek maak lysies van als, anders sal ek nooit die spertye haal nie en om ’n spertyd te oorskry is ’n doodsonde.”

Partykeer word ’n eerste voorbladontwerp deur al die partye – redakteur, bemarkers en skrywer – goedgekeur en is dit binne ’n week of twee gereed. “Maar partykeer trek ons by ontwerp 24 en verloop ’n maand of twee voordat almal tevrede is.”

Die lekkerste boek is vir Deysel die een waarmee sy besig is. En tans is dit Lampie, ’n vertaalde kinderboek oor seerowers, meerminne en meermanne en hoe om dapper te wees.

“Lesers moet die winkels dophou vir Lampie, dit is ’n baie spesiale boek en nie omdat ek nou daaraan werk nie. Dit troon uit bo die talle kinderboeke wat al deur my hande is.”

Ontwerpe

Deysel sê daar moet ’n rede vir elke element in die omslagontwerp wees.

Vir die onderstaande omslae het sy self die foto’s geneem en die letterwerk vir Saad uit die septer en illustrasie vir Plein en simpel met die hand gedoen.

Op 13 klutse kwyt se voorblad staan haar pa met ’n werkloosheidsplakkaat, vir Kinders van konings het sy haar oupa se grammofoon afgeneem en die koppies op Emma se oorlog is op haar ma se klavier.

Vir Kladboek het sy Joan Hambidge gevra om die titel in haar handskrif te stuur en vir Appelboom het sy “die appel gesny, afgeneem, gehap, en weer afgeneem. Groot pret!”

Pad na die boekbedryf

Deysel het grootgeword aan die KwaZulu-Natalse noordkus en het aan die Durban-Noord Kollege gematrikuleer. Sy het by die Universiteit van Pretoria argitektuur studeer en daarna ’n honneurs in uitgewerswese en ’n meestersgraad in inligtingsontwerp verwerf. Die boekewêreld het haar bekoor. Sy het reeds as student by Protea-boekwinkel begin werk en doen sedert 2006 die uitgewer se uitleg- en ontwerpwerk.

Op besoek aan vriende in Rosendal het sy haar hart op die Vrystaatse dorp verloor en in 2008 daarheen verhuis. Sy woon in ’n klein huisie op ’n groot erf vol perskebome waar sy haar droom uitleef om te lees vir ’n lewe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.